Die besluit om ‘n besigheid op die been te bring waarin sy haar bevoorregte posisie kon gebruik om ‘n wêreld van inklusiwiteit, verbinding, begrip en genesing te skep, het Lara Maré, stigter van RUSH Nutrition, op ‘n rowwe entrepreneurskapsreis geneem.
As ‘n werkende ma met ‘n passie vir gerief en ‘n behoefte aan gesonde kos het Lara RUSH Nutrition agt jaar gelede begin met die doel om gesonde peuselhappie-opsies te bied vir kinders, gesinne, sportlui, professionele persone en ander wat hul liggame en denke ‘n hupstoot wil gee met plaaslike vervaardigde, natuurlike produkte sonder bymiddels en preserveermiddels. Hierdie produkte word onderskryf deur Diabetes Suid-Afrika, asook die Harten Beroertestigting van Suid-Afrika, en in 2019 het die maatskappy erkenning ontvang in die Londense aandelebeurs se Companies to Inspire Africa-verslag.
Hoewel sy nog altyd ‘n passie vir mense, gesondheid en selfverbetering gehad het, het Lara gekies om vir ‘n BCom-graad in Bestuursrekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, wat sy in 2003 voltooi het.
“Ek het besluit op ‘n veelsydige graad wat oor verskeie industrieë en spesialiteite toegepas kon word,” verduidelik sy.
Ná universiteit is sy gekies om deel te word van die AIESEC Global Exchange-platform, asook die Standard Bank Graduate Programme. Sy het later in haar loopbaan by Deloitte aangesluit in hul finansiële transformasie-dienslyn en was later hoof van insig vir ‘n boetiekbestuurskonsultasiefirma Step Advisory.
“Ek was mal oor bestuurskonsultasie. Die klem daarop om mense te help groei en die blootstelling wat dit aan nuwe en uiteenlopende bedrywe gebied het was ongelooflik. Dit was eers toe ek ma geword het dat die uurtarief-model gebots het met die buigsaamheid wat broodnodig is vir moederskap, en ek wou baie graag ‘n nalatenskap agterlaat en iets moois skep.”
Met die geboorte van haar oudste seun in 2010 het Lara soveel navorsing as moontlik oor optimale kinderbrein- en liggaamlike ontwikkeling opgeslurp, en toenemend die belangrikheid van voeding besef.
“Tesame met die dubbele las van siektes in Afrika en wanvoeding onder kinders, het ek gevoel ek móét iets doen.”
Sy sê daar was ‘n daadwerklike skuif in die bewustheid rondom wat mense in hul liggame sit, grootliks gedryf deur ouers wat die onmiddellike impak van verskillende kossoorte op hul kinders waarneem.
“Ek het eerstehands gesien wat sekere bymiddels in kos doen om my seun se ADHD-simptome te vererger. Ek sukkel al jare lank om kosblikoplossings te vind wat vry is van kleurstowwe, reserveermiddels en verfynde suiker.”
Rush Nutrition gebruik Afrika-superkosse soos moringa, rooibos en kremetart om ‘n verskeidenheid kosblikoplossings te skep wat nou ook na die Midde-Ooste, Amerika, Mauritius en die Seychelle uitgevoer word. Hulle vervaardig nie net vir hul eie handelsmerke nie, maar ook vir Wellness Warehouse, Vida e Caffè, Superbar en Local Village Food.
Volgens Lara is hierdie nie ‘n taak wat bangbroeke moet aanpak nie. “Hierdie kategorie het toenemende mededingend geword met baie kleinhandelaars wat hul eie private handelsmerke bekendstel. Ek sê dikwels dat as ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek nie hierdie deur oopgemaak het nie. Dit is moeilik om ‘n klein speler te wees teen reusagtige multi-nasionale kosmaatskappye. Nietemin, dit was ongelooflik om aan die stuur van my drome te wees.”
Lara ondersteun nie net skoon en gesonde kos nie, maar ook skoon en gesonde sakepraktyke. “Ek
glo regtig ons moet anders sake doen om ‘n meer samewerkende, inklusiewe, gesonde en deursigtige wêreld te skep. Ongelukkig is dit natuurlik heeltemal in stryd met die huidige bottom-line sakepraktyke en die ‘silwer-koeël’ ingesteldheid van verbruikers. Dit is moeilik om nie moedeloos te raak oor die manier waarop die stelsel vorentoe stoomroller nie, maar ek bly vasberade in my mantra om holisties siektes die nekslag toe te dien.”
- Skrywer: Pia Nänny
- Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/