Die Universiteit Stellenbosch (US) veroordeel enige vorm van rassisme, diskriminasie of enige ander vooroordeel ten sterkste. Menswaardigheid is ononderhandelbaar by die US en moet gerespekteer en gehandhaaf word. Wanneer hierdie waardigheid aangetas is, moet dit herstel word volgens regsvoorskrifte, die toepaslike wette en die volle omvang waarvolgens die Grondwet die regte van almal in ons land beskerm. Daar is geen plek vir rassisme of viktimisering van enige aard by die US nie.
Die dissiplinêre verhoor van mnr Theuns du Toit na aanleiding van ’n voorval by Huis Marais op 15 Mei 2022 is op 23 Junie 2022 afgehandel. Die Universiteit se onafhanklike Sentrale Dissiplinêre Komitee (SDK) het mnr Du Toit op 21 Julie 2022 skuldig bevind aan die oortreding van klousules 3.1, 9.1, 9.3, 13.1 en 13.2 van die US se Dissiplinêre Kode vir Studente, wat soos volg lui:
3. Die Universiteit Stellenbosch se Waardes
3.1 Die Universiteit Stellenbosch (US) funksioneer volgens ’n stel grondliggende waardes wat elke student veronderstel is om te ag en te bevorder, en wat die toepassing van hierdie dissiplinêre kode rig. Hierdie waardes is uitnemendheid, verantwoordbaarheid, wedersydse agting en deernis. Daarbenewens geld alle waardes wat die US onderskryf op die tydstip wanneer hierdie dissiplinêre kode toegepas word, sowel as enige variasie daarop.
9 Algemene reëls
9.1 Geen student mag sonder goeie en regmatige rede opsetlik enigiets doen wat die Universiteit, enige lid van die universiteitsgemeenskap of enige persoon wat op uitnodiging van die Universiteit op die universiteitskampus teenwoordig is, nadelig kan beïnvloed nie.
9.3 ’n Student mag nie op ’n manier optree wat rassisties, onbillik diskriminerend, gewelddadig, grof beledigend, vernederend of intimiderend teenoor enige ander persoon is nie. Hierdie verbod strek, maar is nie beperk nie, tot gedrag wat liggaamlike of geestelike skade veroorsaak, bedoel is om te verneder of wat enige ander persoon se waardigheid aantas.
13 Perseel en eiendom
13.1 ’n Student mag nie enige universiteitsperseel gebruik, beset of betree sonder toestemming om dit te doen nie.
13.2 ’n Student mag nie enige fisiese eiendom, insluitende noodtoerusting, wat aan die Universiteit, of enige lid van die universiteitsgemeenskap behoort, of waarvoor die Universiteit aanspreeklik is, sonder toestemming om dit te doen en anders as vir die normale beoogde gebruik van daardie eiendom, verwyder, gebruik, beskadig of vernietig nie. Indien ʼn student in besit van eiendom gevind word wat bekend is dat dit gesteel is, sal daar aanvaar word dat die student wangedrag gepleeg het onder hierdie reël tensy die student kan aandui dat die eiendom onskuldig bekom is.
Mnr Du Toit is ook skuldig bevind aan die oortreding van die Gewysigde Koshuisreëls van 7 Maart 2022 met betrekking tot:
7. Gedragsaangeleenthede
7.2.2. Studente moet te alle tye so optree dat geen ongemak of rusversteurings vir die inwoners of ander koshuise in die area veroorsaak word nie.
Hierdie bevindings het die SDK genoop om te bevind dat daar geen alternatief is as om mnr Du Toit onmiddellik en permanent uit die Universiteit te skors nie. Mnr Du Toit sal, nadat hy die redes vir die SDK se besluit ontvang het, vyf werksdae gegun word om ’n kennisgewing van appèl in te dien teen die SDK se bevindings en/of sanksies.
Alle sake is vertroulik en die SDK het beraadslaag oor of die bevindings openbaar gemaak gaan word. In hierdie geval het die SDK besluit om dit openbaar te maak. Die Universiteit volg in al hierdie verrigtinge sy Dissiplinêre Kode vir Studente van die US (sien https://bit.ly/3ObwUuy). Die US se koshuisreëls is hier beskikbaar: http://www.sun.ac.za/english/maties/Documents/Residence%20Rules.pdf.
Goeie oorsigbestuur en prosesse is die ruggraat van ’n verantwoordelike, ordelike en regverdige samelewing waar geen vorm van vooroordeel, diskriminasie, straatbewind of ongeoorloofde reaksies geduld moet word nie. Die US se standpunt as ’n goedbestuurde instelling is dat die gereg sy loop moet neem en dat regulasies altyd nagekom moet word om die belange en regte van die slagoffers én beweerde oortreders te beskerm. Dit verseker regverdige, verdedigbare en volhoubare uitkomste.
Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het in reaksie op die uitkoms gesê die SDK funksioneer onafhanklik van die Universiteitsbestuur oor sake wat dit aanhoor en in sanksies wat opgelê word en dat behoorlike prosesse deeglik nagekom is – insluitend deeglike ondersoeke wat gedoen is.
“Die Universiteit het hierdie saak in ’n uiters ernstige lig beskou. Dit was duidelik deurdat mnr Du Toit onder meer aanvanklik tydelik uit die Universiteit geskors is, terwyl oudregter Sisi Khampepe aangestel is om ’n onafhanklike kommissie van ondersoek na beweerde rassisme by die US te ondersoek. Die Universiteit duld onder geen omstandighede enige rassisme, diskriminasie, vooroordeel en gedrag deur studente wat die waardigheid van iemand anders aantas nie. Die US se bestuur het kennis geneem van die SDK se bevindings en sankies wat opgelê is en sal die SDK se bevindings bestudeer,” het prof Ramjugernath gesê.