Dit was waarskynlik sy oorlede ma se besonder geurige kaassous wat hom in chemie laat beland het!
“Ek wou altyd weet hoe sy dit maak, met watter bestanddele en in watter volgorde sy dit gebruik! Ek dink dit is waar my belangstelling in chemie vandaan kom,” onthou Emile Maggott. Hierdie voormalige leerder van Bishop Lavis High School in Kaapstad sal by die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeplegtigheid ‘n PhD in Chemie ontvang.
Sy pad tot hier was egter meer klipperig as die van baie ander.
Gedurende sy grootwordjare in ‘n buurt wat meestal aan die buitewêreld bekend is vir werkloosheid, armoede en bendebedrywighede, moes hy ‘n doelbewuste keuse maak om ‘n positiewe ingesteldheid te behou – om te bly glo dat hy eendag in staat sal wees om bo hierdie omstandighede uit te styg.
“My broer en ek het hierdie ingesteldheid by my ma geërf. Sy was ‘n fabriekswerker en baie streng. En alhoewel my ma my nie met geld en ander luukshede kon bederf nie, is ek goed grootgemaak. Daar was baie liefde in ons huishouding en daar het altyd ‘n bord kos in die oond op my gewag as ek van die lab af kom, al was dit soms in die middernagtelike ure,” vertel hy.
Emile se studentepad het begin met die besef dat sy punte nie goed genoeg was om medies te studeer nie. “Alhoewel ek akademies sterk was in wiskunde en fisiese wetenskappe, het my ander vakke my gekniehalter. Ek het aan ingenieurswese gedink, maar toe het die akademiese koördineerder van die Fakulteit Natuurwetenskappe, Wilma Wagener, my oortuig om ‘n BSc Verlengde kurrikulumprogram (VKP) in die Fakulteit Natuurwetenskappe te volg, ” verduidelik hy.
“Agterna beskou, was dit een van die beste besluite wat ek kón neem,” voeg hy by.
“Daar is ‘n reusegaping tussen matriek en die eerste jaar op universiteit. Op skool is als met die lepel ingegee, maar reeds in my eerste week van klasloop op universiteit het ek besef dat dit ‘n kwessie van swem of sink is. Ek moes baie vining leer hoe om dinge self uit te vind. Ek glo dat, alhoewel dit my een jaar langer geneem het om my BSc-graad te behaal, die VKP my ‘n stewige fondament gegee het om my studies te bestuur en suksesvol te wees.”
Hierdie geneigdheid om “dinge self uit te pluis” is voortgesit in sy benadering tot sy doktorale navorsing: “Ek word gemotiveer deur te gaan sit en regtig dinge uit te redeneer. Party mense spring eenvoudig net na die volgende onderwerp wanneer hulle sukkel – wat waarskynlik die maklike uitweg is. Ek sal veel eerder foute maak en daaruit leer as om moed op te gee.”
Soms moet selfs iemand met ‘n positiewe ingesteldheid egter op die harde manier leer, veral van ‘n ouskool-studieleier soos Prof. Selwyn Mapolie van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap. Emile vertel van ‘n voorval gedurende sy MSc-studies toe Prof. Mapolie hom baie streng na die laboratoriumbank teruggestuur het om dinge te gaan uitpluis – want dit is wat navorsers doen.
“Tydens een van ons vorderingsvergaderings het ek die fout gemaak om te sê: ‘ek weet nie’. Hy het geantwoord dat ‘n navorser nooit nié kan weet wat hy doen nie. ‘Jy moet jouself die heeltyd vra hoekom en dit dan gaan uitpluis’, het hy gesê!”
‘n Gevlekte en baie vuil laboratoriumjas is getuie van hierdie ingesteldheid. Die donkerblou vlekke kom byvoorbeeld van die heel eerste eksperiment wat ‘n Schiff-basisreaksie behels het en tot gevolg gehad het dat die reaktante gespat het – as gevolg van ‘n konsentrasie-effek.
Die lewe het hom met die COVID-19 pandemie nog ‘n dwarsklap gegee. Oornag is nagraadse studente se toegang tot laboratoriums beperk en later streng gereguleer. Hy het dikwels deurnag gewerk, soms selfs ‘n vinnige uiltjie tussenin geknip om al die vereiste eksperimente vir sy navorsing te kon uitvoer. Hy kon geen tyd verspeel nie, aangesien sy navorsingsbefondsing slegs vir vier jaar beskikbaar was.
Maar die grootste terugslag het hom laat in 2022 op sy verjaarsdag getref toe sy ma, wyle mev Ursula Maggott, aan diabetesverwante komplikasies gesterf het. Hy moes toe ook leer om depressiewe episodes te hanteer, soms deur net laboratium toe te gaan en slegs een taak vir die dag af te handel, andere kere weer deur te oefen of gereeld met sy twee Duitste Herdershonde te gaan stap.
Gelukkig het hy ook in daardie tyd wél die naam van sy ma se geheime kaassousbestanddeel ontdek wat hare bo alle ander laat uitstaan het, asook hoe om die beste soetsuur lensiekerrie in die Wes-Kaap voor te berei.
Wat sy navorsing aanbetref, is hy in die proses om ‘n tweede navorsingsartikel vir publikasie te finaliseer wat spruit uit sy doktorale proefskrif en het hy ook aansoek gedoen vir ‘n Consolidoc-pos in die departement om nóg twee navorsingsartikels te finaliseer.
Met sy navorsing het Dr Maggott daarin geslaag om ‘n reeks herwinbare katalisators (uit ‘n potensiële groep van 35 kandidate) te identifiseer. Hierdie materiale is gebruik as katalisatorvoorlopers in oksidatiewe transformasie waarin die reaksie verfyn kan word deur biomassasubstrate (afvalmateriaal) in waardetoegevoegde produkte om te skakel. Die hoëwaarde oksigenate is veral nuttig in die farmaseutiese, parfuum-, geurmiddel-, kosmetiese en biobrandstofbedryf.
“Die navorsing is eerstens nuut omdat dit die eerste keer is dat hierdie tipe katalisatorstelsels in die voorgestelde toepassings gebruik word. Tweedens, tydens die sinteseproses inkorporeer ons goedkoop metale wat volop beskikbaar is en wat uiteindelik bydra tot ‘n groener samelewing. En derdens is die algehele proses verfyn, wat beteken dat ons die gewenste verbinding (die waardevoller produk) selektief kan produseer. Dit maak die proses in wese groener en meer volhoubaar aangesien dit die downstream skeidingsprosesse later in die proses, verminder,” verduidelik hy.
Hy het al navorsingsaanbiedings by internasionale konferensies in Spanje, Italië en Duitsland aangebied en is gretig om weer sy vlerke te sprei: “Daar is nog baie dinge wat ek moet uitpluis!”, sluit hy af.