
Gedurende haar grootwordjare as ‘n jong meisie en ook as ‘n lid van die LGBTQI-gemeenskap erken Lucinda van den Heever dat sy nooit heeltemal veilig gevoel het nie. Vandag is die versekering van ‘n veiliger en billike toekoms vir vroue, LGBTQI en gemarginaliseerde groepe as ‘n geslagsaktivis en advokaat, haar lewenswerk.
Haar reis het by die US begin waar haar BA (Menslike Bewegingsstudies) en haar BA Hons (Sportwetenskap) ‘n groot rol gespeel het om haar bewusmaking rondom geslagsgelykheid en feministiese denke te ontwikkel.
“Ek het die eerste sewe jaar van my loopbaan toegewei aan sportontwikkeling in Suid-Afrika, dele van Afrika en ook internasionaal, waar ek veral vroue en meisies aangemoedig het om aan sport deel te neem. Dit is hier waar ek bewus geword het van die uitdagings wat jong meisies in die gesig staar. Om te sien hoe die samelewing gestruktureer is om mans te bevoordeel en vroue te onderdruk, het my vasberade gemaak om ‘n feminis te word.”
Sy het in 2008 ‘n beurs ontvang om vir ‘n meestersgraad aan die Universiteit van Sussex in die Verenigde Koninkryk te studeer. Dit het haar aangespoor om voorspraak hiervan te maak en feministiese werk voltyds te doen.
Na meer as 10 jaar se werk in die vroueregte- en die LGBTQI-beweging regoor Afrika, werk Van den Heever tans as vroueregteprogrambestuurder by die Open Society Initiative for Southern Africa (OSISA), waar sy in beheer is van die verspreiding van vroueregtetoelaes in Suider-Afrika en regoor die Afrika-kontinent.
“Ek sien ook toe dat die vroueregtestrategie vir Suider-Afrika in werking gestel word. Dit behels die identifisering en aanbeveling van projekte en voorstelle vir befondsing in Suider-Afrika lande en regoor Afrika. Hierdie voorstelle word gedryf deur vroue en feministe op gebiede soos ekonomiese geregtigheid, seksuele en geslagsgebaseerde geweld, en politieke en strukturele transformasie. Dit het ten doel om geslagsnorme uit te daag en te sorg dat vroue toegang tot hul menseregte, liggaamlike vryhede en integriteit sal kry.”
Sy sê sy is toegewyd aan haar werk en die posisie wat sy beklee en aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.
“Ek wil verseker dat hulpbronne gaan na die vroue wat die meeste deur patriargale strukture geraak word, en aan kampvegters van vroueregte en gay aktiviste wat veg vir hul menseregte en vryhede. En om netwerke van solidariteit oor plaaslike, streeks- en globale ruimtes te bou vir groter impak op die vasteland van Afrika.”
Van den Heever sê hoewel die Suid-Afrikaanse regering oor die jare groot vordering in vroueregte gemaak het, moet daar nog baie meer gedoen word.
“Ons het baie goeie beleide in plek wat die regte van vroue en LGBTQI-mense in ons grondwet beskerm. Dit word egter altyd bedreig aangesien die samelewing steeds baie patriargaal en konserwatief is. Daar moet meer gedoen word om houdings te verander deur nou saam te werk met godsdienstige instellings en gemeenskapstrukture om effektiewe verandering te verseker. Solank vroue nie veilig voel nie en nie die dienste kry wat hulle benodig en toegang tot geregtigheid kry vir misdade wat teen hulle gepleeg word nie, voel ek nie dat die regering genoeg doen nie.”
Sy gee raad vir diegene wat ‘n verskil wil maak tydens die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld veldtog.
“Ondersoek jou gedrag. Dit het ‘n dodelike effek, miskien nie op die kort termyn nie, maar dit begin met mikro-aggressies wat mettertyd voort stoomroller. As ons nie hierdie mikro-aggressies aanspreek nie, sal mense begin glo dat dit aanvaarbaar is om met hul aggressiewe en boeliegedrag aan te kap. Daar moet aanspreeklikheid wees, want sonder aanspreeklikheid floreer geslagsgebaseerde geweld.”
- Is jy ’n buitengewone alumna wat jou vir geslagsgelykheid beywer? Vertel jou storie vir ons, sodat ons dit in ons volgende publikasie kan plaas. Stuur asseblief jou e-pos aan Sindiswa Jamba by swan@sun.ac.za, en vertel ons (in 100 woorde of minder) wie jy is en hoe jou reis waarde tot hierdie saak kan toevoeg.