As waarnemende adjunkdirekteur van die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies (SSWLA), lei Magdel Pretorius ‘n groep dinamiese personeellede om voornemende Universiteit Stellenbosch- (US-)studente in hoërskole landwyd te werf. Deur hulle werk het hulle al menige jongmens se droom van Matiewees help bewaarheid.
As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Magdel ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.
Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.
Ek het die afgelope byna 12 jaar in verskeie poste in die SSWLA gewerk. Sedert Januarie vanjaar is ek die waarnemende adjunkdirekteur van die Sentrum en lei ek ‘n span van 12 passievolle individue wat elk op hulle eie manier dinamies is.
Ons taak is nasionale voorgraadse werwing. Ons skep geleenthede om met die voornemende studentemark te skakel om die US se uitmuntende akademiese aanbod te bemark, terwyl ons ook toegang en inklusiwiteit fasiliteer. Vandat ons die eerste keer met voornemende studente te doen kry, probeer ons ‘n unieke, persoonlike studente-ervaring bied wat tot transformerende verandering lei.
Wat geniet jy die meeste van jou rol?
Al kan dit ‘n veeleisende omgewing wees, is dit ook baie bevredigend. Ons is bevoorreg om ‘n instaatstellende rol in jongmense se toekoms te kan speel, hetsy deur hulle in graad 9 die regte vakke te help kies, in graad 11 hulle loopbaanmoontlikhede te help ondersoek, of in graad 12 met die aansoekproses by te staan.
Dit is my voorreg om dít saam met ‘n span te doen wat werklik graag wil sien dat voornemende studente toegang tot die US bekom. Ons kry ‘n geleentheid om baanbrekerswerk te doen, die norm en die status quo te verander, en ‘n nuwe narratief in ons tradisionele én nuwe toevoermarkte te skryf.
Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?
- ‘n Skrik-vir-niks-houding. Die vermoë om verby die probleem te kyk en die geleentheid raak te sien en na die oplossing te soek – om die goeie in ‘n situasie raak te sien. Ek het geleer dat mislukking en sukses hand aan hand gaan en dat ‘n mens soms moet misluk om uiteindelik sukses te behaal.
- Alles draai om mense. Om mense te verstaan, respek te hê vir ons verskille, en te kan luister met die suiwer bedoeling om te verstaan, sonder om my eie agenda te wil bevorder.
- Doeltreffende kommunikasie. Ek is ‘n uitstekende kommunikeerder en weet hoe om met ander om te gaan om hulle doelwitte én ons gemeenskaplike oogmerke te bereik.
- Verhoudings gee die deurslag. Ek is gelukkig met my eie geselskap en hou van stil oomblikke, maar niks inspireer my meer as ander se positiewe energie en om met kollegas saam te werk nie. Ek hou daarvan om mense gelukkig te sien. Ek is geleer om te gee sonder om iets terug te wil hê of te verwag.
- Beweeg saam vorentoe. Ek kan die verlede hanteer sonder om daarby stil te staan. Ek erken en oordink die verlede met ontsag, maar beweeg ook vorentoe en kry dinge gedoen.
- Ubuntu. Ek het geleer dat ek nie op my eie krag kan staatmaak nie, maar uit die span se krag moet put om sukses te behaal.
Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?
Die Bybelverhaal van Ester, die onwaarskynlike heldin wat bereid was om alles op die spel te plaas vir ander, het my nog altyd gefassineer. As ‘n jong Joodse vrou in die tyd van die Persiese verstrooiing van die Jode, het sy in die koning se guns gekom, koningin geword en haar lewe op die spel geplaas om die Joodse volk van vernietiging te red toe die koning opdrag gegee het dat alle Jode uitgewis word. In Ester 4:14 sê haar aanneempa en mentor, Mordegai, vir haar: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!”
My motivering hou verband met my oortuiging dat ook ék in my rol is om ‘n rede; dat dit deel is van ‘n groter plan.
Tweedens weet ek ook dat ek méér is as my werk. Ek is ook ‘n huweliksmaat, dogter, suster, en ma van drie. Ál hierdie rolle sáám gee my lewe sin.
Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?
Kyk Hamza Khan se Ted Talk “Stop Managing, Start Leading“. Hy sê onder andere: “Jy is nie ‘n baas nie; jy is ‘n vriend, ‘n mentor, ‘n kameraad, ‘n hulpbron, ‘n ondersteuner en ‘n afrigter. Afrigters speel nie self nie; hulle motiveer hulle span om kampioenskappe te wen, en staan dan terug en kyk hoe die span dit doen. Jy bestuur dinge – jy lei mense.”
So, wat kan ons doen om seker te maak dat ons spanne die beste weergawe van hulleself word?
- Wees teenwoordig in verhoudings en luister met die doel om te hoor, nie om te reageer nie.
- Ontwikkel sosiale intelligensie, sensitiwiteit en verbondenheid; ons het meer gelyke stemme nodig, en minder ‘passasiers’.
- Tyd bou vertroue.
- Wees gemaklik met meningsverskille – dís juis wanneer die beste idees ontstaan.