Maties Sport wil graag aan die wen bly by die toernooi van Universiteitsport Suid-Afrika (USSA), wat in die eerste twee weke van Desember regoor die land plaasvind.
Die voortgesette somerspele sluit tans verskillende sportsoorte in, waaronder krieket, sokker en seil, wat in Kaapstad aangebied word; tennis en gholf, wat deur Rhodes Universiteit aangebied word; tafeltennis in Bloemfontein; skaak in Durban; en waterpolo in Gqeberha.
Die USSA-spele is vir talle atlete ʼn nuwigheid, terwyl dit vir ander die laaste toernooi is wat hulle as lede van die span van die Universiteit Stellenbosch sal meemaak.
Eerstejaar- BEd-student en Maties Gholf-speler, Anita Chen, is opgewonde oor haar universiteitsdebuut aan die US. As deel van die Westelike Provinsie se gholfspan, is Chen vertroud met die struktuur van die toernooi en sien sy daarna uit om te speel en met sommige van die beste gholfspelers in die land om te gaan. Sy glo dat hierdie kompetisie aan haar ʼn goeie geleentheid sal bied om haar gholfvaardighede op te skerp en ervaring op te doen.
Maties Krieket se hoofafrigter, Ryan Bailey, deel op Dinsdag 28 November 2023 ʼn kragtige boodskap by Maties Sport se USSA-afskeidsfunksie.
“Ons moet aggressief wees; ons moet uitgaan en die Maroen Masjien se vlag hoog hou en ʼn nalatenskap laat vir die studente-atlete wat ons verlaat en ʼn nalatenskap vir die eerstejaars wat in Februarie sal kom. Vandag is dus die begin van ʼn spesiale reis wat uitdagings, oorwinnings en herinneringe wat ʼn leeftyd sal duur, beloof. Ons staan hier saam om ons ongelooflike sportspanne weg te sien op ʼn sending wat veel verder as die veld en die baan strek. Ons stuur ʼn groep toegewyde atlete wat hart en siel in hierdie onderneming belê het.”
Bailey loof voorts die leierskap van sy medeafrigters, wat bygedra het tot die vorming van hulle spanne tot formidabele teenstanders. “Julle toewyding aan hulle groei as studente-atlete is prysenswaardig. Die lesse wat julle ingeskerp het, strek verder as die sport – julle het hulle geleer van spanwerk, veerkragtigheid en die mag van in hulleself en ander glo.”
Anika du Plessis, Maties Tennis-kampioen en nagraadse student aan die US, deel haar waardering vir Maties Sport wat die skaakspan toelaat om in toernooie mee te ding. Die mees onlangse was die Westelike Provinsie Klubpremierliga Skaakkampioenskap, waar die span die oorwinning behaal het deur 10 van hulle 11 ligawedstryde te wen. Dit is die eerste keer in 12 jaar dat Maties hierdie kampioenskap wen.
Nog ʼn hoogtepunt van die USSA-spele is Maties Waterpolo se vroue- en manspan wat die afgelope paar jaar die dominante spanne by die USSA-toernooi was. Albei spanne wen reeds sedert 2019 elke jaar die toernooi en albei spanne is vasbeslote om hulle USSA-titels te behou. Die tennisspan, wat verlede jaar tweede was, is vasbeslote om die goue medalje in te palm en die eerste plek te verseker.
Dit lei geen twyfel nie dat die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport aan hulle studente baie voordele bied wat nie by ander universiteite beskikbaar is nie. In haar rede beklemtoon die hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, hulle visie “om ʼn toonaangewende universiteit [te wees], wat verbind is tot ʼn holistiese en diverse sportervaring”, en die feit dat atlete en afrigters almal tot die visie bydra.
Sy erken en bedank die studente-atlete, afrigters en steunpersoneel vir hulle harde werk en moedig almal aan om veerkragtig te wees, na mekaar om te sien en nuwe vriende te maak, om hulle beste te lewer en, natuurlik, die medaljes terug te bring – veral die goues.
Al agt spanne oefen en berei reeds regdeur die jaar voor en is gereed om hulle vaardighede ten toon te stel. Die Maroen Masjien is vasbeslote om te wen en hoop om vanjaar ʼn nuwe standaard te stel.
Deur Jamie Wyngaardt