Iemand het eenmaal gesê dat grootouers deels ouer, deels onderwyser en deels vriend is. As ʼn mens na dr Chantelle van Staden se verhaal luister, raak dit duidelik dat ʼn mens ook deels mentor daar kan byvoeg. Want dit is wat haar grootouers, veral haar ouma, vir haar was. Van Staden, ʼn dosent in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), praat met groot deernis van haar verhouding met die twee mense wat sy as haar eerste mentors beskou.
Sy kom oorspronklik van Durban, maar verhuis op 16 saam met haar moeder en jonger suster na Saldanhabaai aan die Weskus. Dit is moeilik om nie ʼn vaderfiguur naby te hê nie. “Omdat ek dikwels in my gedagtes met my gesinskwessies geworstel het, het ek gesukkel om op skool te konsentreer en het op die ou end ʼn hele herrie veroorsaak.
“Gelukkig het my grootouers ingetree. Hulle was my eerste mentors wat vir my met groot liefde gesê dat daar ʼn lang en mooi lewe vir my voorlê en dat ek baie innerlike krag het. Deur tyd en liefde in my lewe te belê, het hulle potensiaal ontsluit waarvan ek nie eens bewus was nie. Hulle het my gehelp om my reg te ruk en vorentoe te kyk.”
Van Staden sê dit was ʼn keerpunt in haar lewe, want sy het besef dat sy iemand aan haar kant het. Sy begin harder werk op skool en haar punte verbeter aansienlik.
“Ek skryf dit aan mentorskap toe,” voeg Van Staden by.
Sy wou oorspronklik in die geneeskunde studeer, maar haar ouma stel haar aan die wêreld van ingenieurswese bekend.
“My ouma se agtergrond was in rekeningkunde, maar sy was die kapitaalrekenmeester vir die jong siviele, chemiese en industriële ingenieurs wat ʼn gedeelte van hulle graadprogramme kom doen het by die maatskappy waar sy gewerk het.
“Sy het my dikwels vertel van haar interaksie met hierdie ingenieurs en oor hoe goed hulle doen, en voorgestel dat ek ingenieurswese oorweeg.”
Omdat sy nog altyd in die wetenskap belanggestel het, skryf Van Staden in graad 11 in vir ʼn kompetisie vir wetenskapsprojekte en wen ʼn beurs by die Departement Waterwese, wat haar in staat stel om ingenieurswese aan die US te studeer.
“Ek was só opgewonde om universiteit toe te gaan, maar het gou besef dat dinge baie anders as op skool was. My eerste jaar was baie moeilik. Ek het menige dae my ma in trane gebel en gesê dat ek nie weet of ek dit kon doen nie.”
Maar net soos op skool, slaag Van Staden daarin om sake te beredder en haar voorgraadse studies af te handel. Die vriendskap wat sy met ʼn groep gawe, hardwerkende vriende in haar tweede jaar sluit, dra ook grootliks hiertoe by.
Haar bekering tot die Christendom in haar derde jaar op universiteit was, volgens haar, ʼn deurslaggewende oomblik in haar lewe.
“Alles het verander. My hele lewe is omgekeer ten opsigte van my fokus en my gemoedstoestand en my verhouding met myself en met ander mense. Ek het ʼn meer afgeronde en sorgsame persoon geraak, vol van God se soort liefde. Jesus het my waarlik gehelp om te genees en te vergewe, wat my seerkry weggeneem en uiteindelik ook die eens baie gebroke verhouding met my pa ten volle herstel het.
“Ek het net besef dat daar meer aan die lewe is as om net ʼn ingenieur te wees, baie geld te maak, goed te vaar en goeie punte te behaal. Die lewe gaan oor mense en hoe jy hulle kan liefhê en dien op ʼn manier wat werklik ʼn verskil maak.”
Van daar af, word sy ʼn mentor en tutor vir sommige van haar medestudente. “Dit was baie vervullend. Ek het dit regtig geniet.”
Van Staden doen haar magister en PhD onder die wonderlike mentorskap en studieleiding van prof Johan Vermeulen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Sy beskryf hom as ʼn opregte, nugtere en ongelooflik sorgsame persoon, wat haar soos ʼn eie dogter behandel en altyd welkom laat voel.
Toe sy ʼn dosent word, kry Van Staden nog ʼn invloedryke mentor in prof Petrie Meyer, Visedekaan vir Navorsing en Bedryfskakeling in die Fakulteit Ingenieurswese.
“Hy is net die gaafste en liefdevolste mens en ʼn vriend. Hy wil regtig jou geesdrif vasvang en seker maak dat niemand dit steel nie. Hy laat jou welkom voel en wil opreg hê dat jy sukses moet behaal,” sê Van Staden.
“Ek dink dit is wat ʼn mentor is: iemand wat jou geesdrif raaksien en dit wil aanvuur, beskerm en bevorder en jou wil help om na die volgende vlak te beweeg. Die groot ding van mentorskap is dat dit ʼn tweerigtingstraat is. Jy weet iemand het uiteraard meer ondervinding as jy, maar hulle kan ook ʼn vriend wees. Ek dink dit gaan oor die smee van ʼn vriendskap.
“Ek glo vas in sterk interpersoonlike verhoudings en om ruimte te skep vir mense om vriende te wees. Julle moet mekaar leer ken en op ʼn dieper vlak as net oor werk aansluiting vind. Goeie mentors gee vir jou as persoon én jou groei om en wil hê jy moet sukses behaal. Hulle moedig jou aan en doen alles in hulle vermoë om toe te sien dat jy sukses behaal.
“Mentorskap moet vir jou ʼn veilige ruimte skep waarheen jy kan gaan as jy gelukkig, opgewonde, hartseer, seergemaak en angstig is, of wanneer jy hulp nodig het wanneer sake verkeerd loop.”
Van Staden beklemtoon die waarde van mentorskap vir vroue in die ingenieursberoep en meen dat daar ruimte is vir vroue om mentors en rolmodelle vir ander vroue, veral jong vroue, te wees.
Sy voeg by dat vroue in leierskap in die besonder ʼn baie groot rol speel in die mentorskap van die volgende geslag.
“Ek dink dit is belangrik om iemand aan jou kant te hê wat jou kan help om jou weg te vind, om ʼn professionele en sosiale netwerk op te bou, om te floreer en om ʼn werk-lewe-balans te skep, en jou kan aanmoedig wanneer dinge moeilik raak. Dit is baie belangrik dat, wanneer ʼn vrou ʼn sekere ruimte betree, sy nie voel dat sy nie by die kultuur van die organisasies inpas nie, of soos ʼn bedrieër voel nie.”
Wanneer sy nie besig is om klas te gee en as mentor vir die ingenieurs van môre op te tree nie, gaan draf of stap Van Staden graag in die berg saam met haar man. Sy is ook die pleegma van ʼn tien-maande-oue baba en hou daarvan om vriende te onthaal of ander mammas in ʼn park te ontmoet.
- Outeur: Alec Basson
- Foto: Stefan Els (Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking)