Prof Christa van der Walt het na 18 jaar by Fakulteit Opvoedkunde aan die einde van 2022 afgetree. Sy was sedert 2021 die Visedekaan van Navorsing. Sy het diep spore in die fakulteit getrap en vertel van haar ervarings.
Hoe sien jy ʼn goeie vroulike leier en wie het jou inspireer?
Ek dink dat enige persoon wat ‘anders’ is as die res van ‘n leierskorps, ‘n ontwrigtende (in die goeie sin van die woord) rol sal kan speel, bloot omdat hulle nie die dominante diskoers ken of gebruik nie. Dit is dus altyd voordelig vir ‘n instelling om die leierskorps te ontwrig, want dit dwing nuwe denke en nuwe maniere van doen af. Omdat daar baie vrouens in die onderwys is, is dit nie so vreemd om hulle in leierskapsrolle te sien nie. Ek kan wel onthou dat die een en enigste vroulike professor van my voorgraadse jare ‘n inspirasie vir my was. Na matriek was ek in die Burgerlike Beskermingskollege in George en die bevelvoerder was Kolonel Hilda Botha. Sy was indrukwekkend. Ek dink rolmodelle is regtig belangrik, selfs al dien hulle as ‘n voorbeeld van wat jy níe wil wees nie.
Het jy ooit aan die begin van jou loopbaan gedink dat jy later ʼn leierskapsrol sal vul?
Ek het nooit doelbewus leierskapsrolle nagestreef nie, maar ek het baie keer gedink ek kan iets beter doen, of ‘n daadwerklike verskil maak binne ‘n sekere struktuur. Ek was dus meer taakgerig as mensgerig, en die taak is natuurlik net een deel van leierskap.
Watter uitdagins het jy ervaar?
Die bestuur van mense en hulle verwagtings was ‘n groot uitdaging, veral as daar stereotipiese idees oor die rol en aard van vrouens was. Aangesien ek nie kinders gehad het nie, kon ek meer aandag aan my werk en bestuursverpligtinge gee. Dit is nie noodwendig goed nie. Ek kon selde daardie belangrike balans tussen werk en ontspanning vind. Dit is waar dat vrouens dikwels langer as mans wag vir bevordering in die akademie. Dit beteken dat meeste vrouens later in hulle loopbane eers in aanmerking sal kom vir sekere leiersposisies. My ervaring met baie vrouens binne die universiteit is egter dat min van hulle kans sien vir bestuursrolle. Bestuursposisies plaas addisionele druk op families en indien daar van vrouens verwag word om ook letterlik die pot aan die kook te hou, is dit geen wonder dat hulle nie graag leiersposisies wil inneem nie. Hierdie is egter ook toenemend die geval met mans.
ʼn Leemte in die skoolomgewing en hoëronderwys
Wat wel aandag nodig het in die skoolomgewing en in hoër onderwys, is die oorheersing van vrouens en die gebrek aan manlike rolmodelle. Dit is, volgens my, een van die redes waarom daar ‘n groter uitvalkoers (drop-out rate) onder seuns is in vergelyking met meisies (sien die verslag van die Zero Dropout Campaign hier: https://www.iol.co.za/capeargus/news/boys-more-likely-to-drop-out-of-school-according-to-research-3d76369e-78ca-420d-9bd3-d2730251268c). Dit is dus nie verbasend nie dat die aantal mans wat aan hoër onderwysinstellings studeer, wêreldwyd minder word. Ek wonder soms of die dominante sosialiseringsproses van vrouens ‘n klimaat by skole skep wat teen seuns diskrimineer. Die verwagtings wat ek by laer- en hoërskoolonderwyseresse sien is dat klasse nie ‘raserig’ moet wees nie, dat kinders moet ‘stilsit’ en hulle self ‘gedra’. Dis nie die soort omgewing wat noodwendig stimulerend is vir ondersoekende leer nie – dit is sleg vir seuns én meisies, maar duidelik tref dit seuns meer. Is dit miskien ook die soort omgewing wat daartoe lei dat veel meer seuns as meisies medikasie kry om hulle gedrag in klaskamers te reguleer? ‘n Studie in 2007 het bevind dat, “teachers consistently rated boys with ADHD as having higher scores on reports of attention problems and aggression than girls with ADHD” (Derks EM, Hudziak JJ, Boomsma DI. Why more boys than girls with ADHD receive treatment: a study of Dutch twins. Twin Res Hum Genet. 2007 Oct;10 (5):765-70. doi: 10.1375/twin.10.5.765. PMID: 17903118).