Lara Marsh (Marais) het haar eie onderneming gestig kort nadat sy haar meestersgraad in Ekonomie aan die US verwerf het. Dié voorvatter glo dat daar ondanks die uitdagings ook volop geleentheid is om in Suid-Afrika te werk en sake te doen. En met afstandswerk en globalisasie kanjy boonop internasionaal werk en jou volgens wêreldstandaarde meet.
Verdades Consulting, wat nou byna twee jaar in bedryf is, bied konsultasiedienste aan ondernemings wat dalk hulp van buite nodig het om spesifieke projekte te voltooi. “Voorbeelde wat uitstaan, sluit in die waardebepaling van ondernemings in afwagting van nuwe beleggings of samesmeltings, en die opstel van werknemeraandeel-eienaarskapsplanne (ESOP’s) om die aansporings vir eienaars en werknemers met mekaar te versoen,” verduidelik Lara. “Die jongste produk waaraan ons werk, is ‘n bedryfstrategieprogram wat entrepreneurs die kennis en gereedskap gee om ‘n suksesvolle strategie te ontwikkel en dit dan self verder te voer.”
Lara sê elke onderneming moet ‘n behoorlike strategie hê, want dít vorm die grondslag vir alle ander belangrike besluite wat die onderneming help groei en presteer. “My program bied entrepreneurs die gereedskap om hulle mededingingsvoorsprong te identifiseer en uit te bou, wat die kern is van ‘n suksesvolle strategie,” sê sy.
“Die woord ‘Verdades’ beteken ‘die diep waarheid’ of ‘die naakte waarheid’; die kern van ‘n konsep, sonder enige tierlantyntjies. Dit pas goed by my onderneming, want ek probeer abstrakte of akademiese ‘waarhede’ in die vorm van bewese sakebeginsels en praktiese stappe aan my kliënte oordra.”
Sy het in 2020 aan die US gegradueer na haar meesterstudie in Openbare Ekonomie en Monetêre Teorie. Dit het haar ‘n goeie begrip gegee van die groter ekonomie en hoe beleidsbesluite ondernemings en individue raak.
Ekonomie het vir haar na die regte keuse gevoel omdat sy geglo het dit sal haar goeie analitiese en besluitnemingsvaardighede help bou.
“My herinneringe aan Stellenbosch kan in drie duidelike fases ingedeel word: eerstens, my tyd in die koshuis Huis ten Bosch in my eerste jaar; tweedens, die uitpluis van my uiteindelike studierigting deur die res van my voorgraadse studie, en derdens, herinneringe aan intense skryfprojekte en wiskundeoptimeringsprobleme as ‘n nagraadse student.”
Lara is trots op hoeveel haar skryfvaardighede in die loop van haar studie verbeter het. Trouens, sy was in 2016 ‘n finalis in die Schroders-opstelwedstryd en in 2020 onder die top tien in Nedbank se opstelwedstryd oor die begrotingsrede. Haar vaardighede het haar goed te staan gekom toe sy haar onderneming begin het. “Ek het ná universiteit ‘n paar klein sakeverwante projekte vir ‘n sagtewaremaatskappy voltooi. Uit daardie projekte kon ek intellektuele eiendom opbou en deur verwysings my kliëntebasis uitbrei.
“Die reis tot dusver was maar ‘n kwessie van leer en probeer, en om nie bang te wees vir mislukking nie. Die Verdades-aanbod is nog in die toets- en ontwikkelingsfase, maar ek hoop om dit eendag in ‘n goudstandaard vir die bedryf te ontwikkel, ” sê Lara.
Skrywer: Pia Nänny