Verontrustende statistiek toon dat persone met gestremdhede baie hoër koerse van geweld as die res van die bevolking ervaar en dat armoede, wat dikwels met gestremdheid gepaardgaan, die bestaande ongelykheid in gesondheidsorg, opvoeding en behuising vir dié persone vererger. Hierdie menseregtekwessies verdien wydverspreide aandag, het dr Xanthe Hunt, Senior Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) se instituut vir lewenspadgesondheidsnavorsing, tydens ’n onlangse toespraak by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se 66ste Jaarlikse Akademiese Dag benadruk.
In haar toespraak getiteld “Geweld teen persone met gestremdhede: Hoe dit lyk, waar dit plaasvind, en hoe om dit te voorkom” het Hunt gesê dat mense met gestremdhede hoër armoedekoerse ervaar as diegene sonder gestremdhede. “Dit is ’n tweerigtingverhouding,” het sy verduidelik. “As jy arm is, is jy meer geneig om ’n gestremdheid te hê omdat jy uitermate blootgestel is aan dinge wat jou skade kan berokken en tot gestremdheid kan lei. En as jy ’n gestremdheid het, is jy meer geneig om armoede te ervaar omdat jy hindernisse op die pad na opvoeding in die gesig staar, en dalk sukkel om ’n werk te kry en dit te behou.
“Dit beteken dat persone met gestremdhede ’n soort groepering van kwesbaarhede en omstandighede ervaar wat met ’n verhoogde risiko vir geweld verband hou.”
Hunt, wie se navorsing op geestesgesondheid, gestremdheid, en kinderontwikkeling in lae‑ en middelinkomste‑omgewings toegespits is, lei ’n grootskaalse studie oor die geestesgesondheid van studente in Suid‑Afrika, sowel as ’n aantal projekte wat met gestremdheid‑inklusiewe ontwikkeling verband hou.
Sy sê daar is talle maniere waarop ’n persoon ’n gestremdheid kan ervaar, onder meer fisiese, intellektuele en psigososiale gestremdhede soos depressie, angs, bipolêre versteuring, en skisofrenie.
“Daar is groepe mense met gestremdhede, veral vroue en kinders, met selfs ’n groter risiko vir geweld. Die waarskynlikheid dat vroue met gestremdhede aan seksuele geweld blootgestel word, is twee maal groter as vroue sonder gestremdhede, en in sommige gevalle is die kans dat kinders met gestremdhede aan kindermishandeling of verwaarlosing blootgestel word twee keer groter as kinders sonder gestremdhede.”
Oor die onderwerp van kindermishandeling sê Hunt dit is nodig om te kyk na die breër konteks waarin dit voorkom. “Die meeste mense wil graag goeie ouers wees en beplan nie om hul kinders skade te berokken nie. Maar ouers wat sukkel om in hoë vlakke van armoede te funksioneer word soms gewelddadig teenoor hul kinders omdat hulle tot ’n groot mate deur ondersteuningstrukture op samelewingsvlak, en dienste op individuele en gemeenskapsvlak, in die steek gelaat is.
“Ouerskapstres is veel hoër onder hierdie ouers en wanneer ons aan programbenaderings begin dink, moet ons kyk hoe ons ouers kan ondersteun om hul kinders optimaal te versorg sodat hulle nie so oorweldig voel nie.”
Hunt het verder verwys na haatmisdaad en gestremdheid en gesê mense met gestremdhede word geviktimiseer “nie as gevolg van iets wat hulle gedoen het nie, maar as gevolg van wat hulle vir ander mense verteenwoordig. Dit raak veral mense met albinisme en epilepsie, en is algemeen in kontekste waar die sosiale voorstelling van die gestremdheid problematies is.”
Sy het bygevoeg dat strukturele geweld, waaronder armoede en geweld, ’n verdere tipe geweld is vir persone met gestremdhede en ’n teelaarde skep vir seksuele geweld, fisieke geweld, gemeenskapsgeweld, en haatmisdade.
Wat oplossings betref het Hunt gesê geweldvoorkomingsbeleide en veldtogte om openbare ingesteldhede te verander is maniere waarop geweld teen persone met gestremdhede aangeroer kan word.
“Die belangrikste ding wat ’n mens moontlik kan doen om geweld teen persone met gestremdhede te voorkom is om die beslissende maatskaplike faktore aan te spreek, en die belangrikste hiervan is sosio‑ekonomiese kwesbaarhede,” het sy gesê. Nog ’n manier om geweld te voorkom, maar wat volgens haar nie die doeltreffendste maatreël is nie, is hulpverlening aan persone wat geviktimiseer is. Organisasies vir persone met gestremdhede (OPD’s) is ’n manier om hierdie taak aan te pak. “Om deel te wees van ’n OPD kan bemagtigend wees omdat jy gemeenskappe het en daar toegang tot ondersteuning is, terwyl verwysings gegee kan word wanneer die persone aan geweld blootgestel word.”
Ten slotte het sy aanbeveel dat mense met gestremdhede betrokke raak by die opstel van beleide rondom die kwessies wat hulle in die gesig staar.
- Outeur: Sue Segar