As direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor vergestalt dr Zethu Mkhize nie net die #EmbraceEquity tema van vanjaar se Internasionale Vrouedag nie, maar het sy ook sterk menings oor hoe billikheid in die werkplek weerspieël moet word.
Zethu, wat maatskaplike werk studeer het, het met Sielkunde en Sosiologie as hoofvakke, aan die Universiteit van Zoeloeland gegradueer. Sy het haar honneurs-, meesters- en doktorsgraad in Sosiale Wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Sy het ook haar Meestersdiploma in Menslike Hulpbronbestuur aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) voltooi.
Sy het op 1 November 2020 as direkteur van die Transformasiekantoor begin ná ‘n tyd by Rhodes Universiteit se Kantoor vir Billikheid en Institusionele Kultuur, ‘n ekwivalent van die US se Transformasiekantoor.
“Die rede waarom ek die aanbod aanvaar het, is omdat Stellenbosch se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk, sowel as sy Restitusieverklaring aandui dat die Universiteit transformasie en verandering nastreef. Ek wou deel wees van daardie proses.”
As direkteur van die Transformasiekantoor is haar mandaat om strategiese rigting te gee vir die implementering van die US se Transformasieplan. Dit sluit in fasiliterende, ontwikkelings- en voorspraakrolle, asook die koördinering van programmatiese intervensies om ‘n getransformeerde institusionele kultuur teweeg te bring.
Die Transformasiekantoor onderneem ‘n aantal intervensies wat kritiese gesprekke en dialoë insluit. Dit bied ondersteuning aan transformasiekomitees in fakulteite en ondersteuningsomgewings wie se funksie dit is om die implementering van die US Transformasieplan binne hul fakulteite en/of omgewing te bevorder.
Transformasiekomitees help die Transformasiekantoor om die unieke behoeftes van hul fakulteite en afdelings te verstaan en sodoende programme te skep wat op daardie behoeftes reageer.
Die Afdeling Studentesake is ‘n belangrike vennoot in die kritieke betrokkenheidsforum wat vir studente geskep is.
Zethu sê haar doel is om ‘n sukses te maak van die rektoraat se mandaat om die Transformasieplan te hersien en suksesvol te ïmplementeer. Asook dat individue aanspreeklik gehou word as hulle nie die sleuteldoelwitte bereik wat in die plan geïdentifiseer word nie. Sy sal ook graag wil sien dat die Universiteit verhoudingstransformasie versnel en dat individue mekaar met respek behandel en nie volgens ras nie.
Maar wat sy die meeste van haar werk geniet, is om te sorg dat praktyke binne die instelling billik is vir personeel en studente.
“Enige onbillike praktyk dui op ‘n behoefte vir ‘n beleidsverandering en die rol van die Transformasiekantoor is om met die betrokke beleidshouer in gesprek te tree om die verandering teweeg te bring.”
Met betrekking tot vanjaar se Internasionale Vrouedag-tema #EmbraceEquity dat “gelyke eleenthede nie meer genoeg is nie en in werklikheid uitsluitend kan wees, eerder as inklusief”, het Zethu die volgende te sê gehad:
“In 2002 het die kantoor van die Status van Vroue ‘n nasionale beleidsraamwerk vir vrouebemagtiging en geslagsgelykheid ontwikkel. Maar organisasies en werkgewers het nie regtig die bepalings van daardie raamwerk gevolg nie. Daar is ‘n gebrek aan aksie om die bepalings van die raamwerk in die algemene praktyk te laat geld. Die speelveld is nog nooit regtig gelyk gemaak vir vroue in die werkplek nie.
“Organisasies spog met hul groep vrouewerknemers, maar die feit is dat daar baie meer gedoen moet word om in die unieke behoeftes van hierdie vroue te voorsien, veral jong, opkomende vroue wat nie net hul loopbane moet groei nie maar ook hul gesinne.
“Swangerskap, byvoorbeeld, is ‘n terugslag vir hierdie vroue se loopbaanontwikkeling en dit is die rede waarom mans vinniger as vroue die korporatiewe leer klim. Daar is ook ‘n behoefte om kraamverlof as onbetaalde verlof te hersien.”
Sy sê ‘n oplossing is vir universiteite en organisasies om ‘n impakstudie uit te voer wat sal kyk na die bevordering van riglyne om te verseker dat vroue se behoeftes in ag geneem word, veral met betrekking tot kraamverlofbeleid en bevorderingskrite.
- Ter herdenking van Internasionale Vrouedag wat op 8 Maart dwarsdeur die wêreld gevier word, werp die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (SWAN) die soeklig op ons merkwaardige vroue, nie net vir ’n dag nie, maar vir die hele Maartmaand.
- Lees meer hier: https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/swan-iwd23_afr/