
𝐊𝐄𝐍𝐍𝐈𝐒𝐆𝐄𝐖𝐈𝐍𝐆 𝐀𝐀𝐍 𝐀𝐋𝐋𝐄 𝐋𝐄𝐃𝐄 𝐕𝐀𝐍 𝐃𝐈𝐄 𝐊𝐎𝐍𝐕𝐎𝐊𝐀𝐒𝐈𝐄 𝐕𝐀𝐍 𝐔𝐍𝐈𝐕𝐄𝐑𝐒𝐈𝐓𝐄𝐈𝐓 𝐒𝐓𝐄𝐋𝐋𝐄𝐍𝐁𝐎𝐒𝐂𝐇
NOMINASIES VIR LEDE VAN DIE UITVOERENDE KOMITEE VAN DIE KONVOKASIE
Op 2 April 2024 het die verkose Uitvoerende komitee van die Konvokasie en die kandidate wat vroeër gediskwalifiseer is ontmoet om te besluit oor die pad vorentoe nadat die vorige verkiesing onbestrede beëindig is. Die kantoor van die Registrateur het ses kandidate gediskwalifiseer vir nienakoming van die verkiesingsreëls (twee na die nominasieproses en die oorblywende vier kort na die verkiesing van stapel gestuur is), waarna die oorblywende kandidate outomaties, onbestrede verkies is aangesien die vakatures gelyk was aan die oorblywende kandidate. Hierdie was die enigste opsie beskikbaar in terme van die Institusionele Reëls. Gedurende die gefasiliteerde gesprek het die Kantoor van die Registrateur en al die partye ingestem om die verkiesingsproses van vooraf te begin en dat die Prosedure vir die nominasie en verkiesing van die Konvokasie se Uitvoerende Komitee (die Prosedure) die verkiesing sal reguleer.
Ingevolge klousule 51 van die Statuut (2019), moet die Konvokasie ‘n president, ‘n visepresident, ‘n sekretaris en twee ander lede uit Konvokasiegeledere kies wat deel sal uitmaak van die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie.
Lede van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch word hiermee uitgenooi om ‘n lid of lede te benoem om vir ‘n termyn van drie (3) jaar as lede van die Uitvoerende Komitee te dien. Die termyn van die nuut verkose Uitvoerende Komitee sal strek vanaf die dag wat die uitslae van die verkiesing aangekondig is.
Lede van die Konvokasie word versoek om ingevolge die Prosedure vir die nominasie en verkiesing van die Konvokasie se Uitvoerende Komitee, elektroniese nominasies in te dien vir geskikte kandidate om hierdie vakatures te vul.
‘n Nominasievorm en alle relevante inligting is op die Konvokasiewebblad beskikbaar. Nominasies open op Dinsdag, 9 April 2024, vir 30 (dertig) dae, en sluit op 9 Mei 2024 om 23:59 (SAST). Nominasievorms moet ons voor 23:59 op die sluitingsdatum bereik. Geen nominasies wat laat ingedien word sal aanvaar word nie. Neem asb kennis dat die reëls nougeset toegepas sal word.
Neem asseblief ook kennis dat ons nie verdere kennisgewings gaan uitreik om lede te herinner om nominasies in te dien nie.
‘n Lid moet deur een (1) voorsteller genomineer word en vier (4) ander lede moet die nominasie sekondeer. Dui asseblief duidelik op die nominasievorm aan vir watter posisie(s) die genomineerde hulself beskikbaar stel. Die nominasie moet vergesel word van ‘n verklaring deur die genomineerde dat hulle die nominasie aanvaar en die verkiesingsreëls sal nakom, en ‘n visiestelling deur die genomineerde van maksimum 100 woorde. Die nominasie kan ook ‘n CV (opsioneel) insluit. Nominasies moet voor of op die sluitingsdatum per e-pos aan verkiesings@sun.ac.za gestuur word.
Volgens klousule 47(1) van die Statuut (2019) is alle persone aan wie ‘n kwalifikasie by ‘n kongregasie van die Universiteit toegeken is, alle voltydse akademiese personeel van die Universiteit, alle voormalige voltydse akademiese personeel van die Universiteit wat die diens van die Universiteit verlaat het as gevolg daarvan dat hulle die aftree-ouderdom bereik het, lede van die Konvokasie en mag hulle genomineer word om in die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie te dien. Konvokasielede soos gelys kan ook as voorsteller optree of ‘n nominasie sekondeer.


