September is Internasionale Bewustheidsmaand vir Doofheid. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf Susan Njeyiyana van die Departement Algemene Taalwetenskap dat meer gedoen moet word om die vooroordele jeens gebaretale af te breek.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Susan Njeyiyana*
September is Internasionale Bewustheidsmaand vir Doofheid ter herdenking van die eerste Wêreldkongres van Dowes wat in September 1951 deur die Wêreldfederasie van Dowes (WFD) gehou is. Dit was ‘n belangrike gebeurtenis, aangesien dit die aandag gevestig het op Dowe mense wat van oral in die wêreld bymekaar gekom het en die uiteenlopende kruiskulturele groepe en gebaretale van verskeie lande geïntegreer het.
Ons moet aanhou om bewustheid oor die uitdagings van Dowe mense te skep wat dieselfde norme, waardes, doelwitte en ervarings het as mense wat kan hoor. Dit sluit Dowe onderwys deur gebaretaal in, asook die bou van internasionale verhoudings om vir die menseregte van Dowe mense voorspraak te maak.
Die WFD bevorder al vir baie jare die menseregte van Dowe mense, veral wat betref Dowe onderrig, taal, gestremdheid en Doofheid. Maar die regte van Dowe mense word dikwels oor die hoof gesien en geskend weens die samelewing se vooroordele en vals aannames.
Soos wat met baie ander kleiner groepe die geval is, is dit natuurlik vir groot gemeenskappe om hulle eenkant toe te stoot. Dit is ook baie waar vir die Dowe gemeenskap. Toeganklikheid is ons grootste hindernis as ‘n Dowe gemeenskap. Toegang tot inligting, onderrig, sosiale geleenthede en toegang tot die wêreld rondom ons. Ons ontvang inligting op ‘n visuele manier, en ons het nie die keuse om te hoor soos julle die keuse het om ‘n ander taal aan te leer nie, en om dit te hoor nie. Dit gaan nie daaroor om ‘om die arme Dowes te help’ nie, maar eerder daaroor om die ruimte te skep waar ons ware gelykes kan wees.
Ek is bly die Suid-Afrikaanse Federasie vir Dowes se tema vir 2022 is “Bou inklusiewe gemeenskappe vir almal”. Dit is veral van toepassing wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) aan betref. Vooroordele jeens gebaretale bestaan steeds weens ‘n gebrek aan voldoende navorsing of standaardisering en die versuim om te erken dat Dowe mense ook ‘n taal het waarin hulle kommunikeer. Ek glo ons kan die negatiewe ingesteldheid jeens gebaretaal en ons kultuur deur navorsing en bewyse verander en dit net so belangrik beskou as enige ander kultuur. Baie mense regoor die wêreld pleit steeds dat hierdie basiese reg erken word.
Ten slotte …
Gedurende apartheid het SAGT in silo’s ontwikkel aangesien kulture nie toegelaat is om te meng nie. Daarom was Dowe Zoeloe-kinders se gebaretaal byvoorbeeld op hulle kultuur gegrond en het hulle ander tekens vir dieselfde woord as byvoobeeld Tswana-kinders gehad. Dowe kinders het daarom op ‘n natuurlike wyse tekens in isolasie by hul onderskeie skole vir Dowes ontwikkel, wat die variasies tot gevolg gehad het wat ons vandag sien.
Toe ons ‘n demokrasie geword het, het hierdie variasies danksy kontak tussen skole met die verloop van tyd verander. ‘n Vorm van taalstandaardisering sal waarskynlik met die verloop van tyd ontstaan. Gegewe dat ons ‘n bietjie agter daardie lande is wat reeds Dowe mense se taal as ‘n amptelike taal erken, sal dit inderdaad ‘n geskiedkundige geleentheid wees wanneer SAGT Suid-Afrika se 12de amptelike taal word. As Dowe mense sal ons tot die verbetering van hoë-gehalte dowe onderrig vir toekomstige geslagte kan bydra.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
*Susan Njeyiyana is ‘n Dowe dosent in die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch en doseer die verwerwing van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as ‘n bykomende taal aan studente wat kan hoor.