Toe Michaela Chloë Moodley op Maandag, 5 Desember gegradueer het, was dit die hoogtepunt van agt jaar van harde werk waartydens sy talle moeilike uitdagings getrotseer het, veral wat haar geestesgesondheid betref.
“Dit was ʼn lang, moeilike reis vir my, maar dit was ook ʼn uiters lonende ervaring wat nou vrugte dra,” sê Michaela, wat haar MA Sielkunde (cum laude) verwerf het. Sy is die eerste lid van haar nabye familie wat ʼn graad behaal.
Michaela, wat in Durban gebore is, gee tans klas in ontwikkelingsielkunde- en beradingsteorieë aan die Suid-Afrikaanse Kollege vir Toegepaste Sielkunde (SACAP).
Haar meesterstesis bekyk emosionele nabyheid tussen pa’s en adolessente dogters in twee lae-inkomste-gemeenskappe in Suid-Afrika en sy was die afgelope vier jaar betrokke by navorsing oor vaderskap in Suid-Afrika.
Michaela, wat haar prestasie saam met familie en vriende gevier het, het gesê sy voel verlig dat sy so ver in haar akademiese reis gekom het.
Sy het in Johannesburg grootgeword, toe na Durban teruggekeer om haar hoërskooljare te voltooi en in 2014 aan die Universiteit Stellenbosch begin studeer.
Sy het in 2017 met ʼn BA in Geesteswetenskappe (sielkunde en teater) gegradueer en in 2018 haar honneursgraad in sielkunde voltooi. Sy het haar navorsing oor vaderlike ouerskap gedurende haar honneursjaar begin en dit tydens haar studies vir ʼn meestersgraad voortgesit.
In ʼn openhartige onderhoud het Michaela gesê sy het nog altyd met haar geestesgesondheid gesukkel. In haar honneursjaar het dit in ekstreme angstigheid gemanifesteer. “Ek het soms gesukkel om asem te kry en moes probeer om myself te kalmeer. Die angs het soms aftakelend geword, veral as ek in sosiale situasies was.
“Mense sou sê ek is baie sosiaal, maar ek het geïsoleer geraak en selfs begin hakkel wanneer ek met ander mense gepraat het,” het sy vertel.
“Dit het baie erger gedurende my studies vir my meestersgraad geword, wanneer mens voortdurend aan jou tesis werk en jou werk perfek probeer kry. Dis ʼn stryd om gedurig hierdie disfunksionele kernoortuigings te bestuur terwyl jy werk aan ʼn graad wat jou voortdurend uitdaag om beter te doen.
“My toesighouer was so gaaf en geduldig, maar het my tog sagkens gedruk om die uitnemende werk te lewer waartoe ek in staat is. Ek is so dankbaar daarvoor.”
Michaela het sielkundige hulp gesoek, medikasie begin gebruik en met die hulp van ʼn sterk ondersteuningstelsel deurgedruk en haar studies voltooi.
Sy skryf ʼn groot deel van haar sukses en herstel in haar geloof in Jesus en haar ondersteunende Christelike gemeenskap toe. “As dit nie vir my vriende en familie was wat heeltyd vir my gebid en my aangemoedig het nie, sou ek dit nie gemaak het nie,” het Michaela gesê.
Sy het bygevoeg: “Ek skryf my sukses eerstens toe aan Jesus en die Christelike gemeenskap wat my opgebou en in myself laat glo het; tweedens aan harde werk en volharding; en derdens aan my ongelooflike toesighouer wie se kundigheid en toewyding tot uitnemendheid my gehelp het om hierdie graad te behaal met die punte wat ek gekry het.
“Ek doen dieselfde met my studente: ek gee baie vir hulle om, maar druk hulle ook om uitnemendheid na te streef waar hulle kan.”
Oor haar toekomsplanne het Michaela gesê sy sal aanhou klasgee, omdat sy persoonlik daarvoor verantwoordelik voel om die volgende generasie sielkundiges te help vorm. Voorts wil sy verdere navorsing oor familiesielkunde in Suid-Afrika doen en dit praktiseer.
Michaela, wat graag gasvrou tydens aandetes speel en “spontane avonture” onderneem, het gesê sy is trots dat sy haar meestersgraad behaal het.
“Dis ʼn seëning en ek is so bly ek het deurgedruk.”