Nadat sy haar hoërskoolloopbaan voltooi het, het S’lindile Thabede somatologie gaan studeer en vir ’n hele klompie jare as ’n skoonheidsterapeut gewerk. In Desember 2022 – net meer as ’n dekade nadat sy hierdie professie vaarwel toegeroep het – het sy egter haar doktorsgraad in teologie van die Universiteit Stellenbosch ontvang.
En al hou die twee vakgebiede glad nie met mekaar verband nie, was dit inderdaad haar werk in somatologie wat haar indirek gelei het om ’n loopbaan in die teologie aan te pak. “Terwyl ek as terapeut gewerk het, het ek na baie vroue se hartseer en pynlike stories geluister wanneer hulle vir behandelings gekom het,” onthou sy.
“Dit was duidelik dat daar iets in vroue was wat nie aangespreek word nie, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie. In daardie stadium het ek nie van genderstudie geweet nie. Ek het net hierdie verlange, ’n behoefte, gehad om daardie gaping te vul. Uiteindelik het ek my liefde vir somatologie verloor.”
Na aanleiding van ’n vriend se raad, het Thabede haar tot teologie gewend – eers in 2009 en 2010 by die Cornerstone-instituut en toe in 2011 aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het in haar derde jaar met genderstudie kennis gemaak wat vir haar die spreekwoordelike lig laat opgaan het. “Teen die tyd dat ek genderstudie ontdek het, was ek reeds gefassineerd deur die stories van die Ou Testament,” vertel sy. “Ek wou toe hierdie stories gebruik om die genderdinamika in ons land te ontwrig.”
Nadat sy haar Baccalaureus-graad in 2014 voltooi het, het Thabede besluit om voort te bou op haar belangstelling in hierdie gebied en het sy in 2015 vir ’n MTh-graad ingeskryf. “Ek het Bybelstories – die aaklige stories van die Ou Testament – gebruik om oor die teenstrydighede in gender in ons land te skryf. Ek het daardie stories gebruik om die kwessie lewendig te laat word en om etiese hoeke te vind om die probleme aan te spreek wat ons in Suid-Afrika ondervind.”
Thabede het in 2019 vir ’n doktorsgraad in teologie ingeskryf en gee aan haar studieleier, prof Louis Jonker, die eer dat hy haar belangstelling in die Ou Testament geprikkel het. “Hy het my aan verskeie ander dimensies bekendgestel wat my heeltemal anders daarna laat kyk het.
“In teologie leer jy oor die samelewing, die kulture, die tradisies agter die woorde van die Bybel. Die manier waarop prof Jonker sy klasse aanbied, laat ’n mens daardie sosiologië, kulture en tradisies beter verstaan.
“Aanvanklik het dit soos ’n vreemde wêreld gevoel wat nie van toepassing is op ons tyd nie, maar hy het ons laat insien hoe toepaslik dit steeds is en hoe ons aan dieselfde stories verbind is. Dit het duidelik geword dat antieke gemeenskappe met van dieselfde goed gesukkel het as waarmee ons vandag worstel.
“Ons moet dus nie dieselfde foute maak nie – ons moet maniere vind om hierdie elemente te ontwrig wat geslagsgebaseerde geweld in ons land veroorsaak en ons moet metodes ontdek om ons vroue te bemagtig en hulle deel van ’n gemeenskap laat voel,” sê sy.
Die uitvloeisel van hierdie rigting van navorsing was die onderwerp van haar PhD, ‘Navigating the Threshold: An African Feminist Reading of Hagar’s Story from Jewish, Islam and Christian Perspectives’. “Die hele punt was om ’n intergodsdienstige gesprek te skep waar die Hagar-verhaal op só ’n manier vertel kon word dat dit mekaar oor die gruweldade en ongeregtighede bevraagteken wat hulle in staat gestel het in die verskillende kontekste waaruit dit onstaan het,” verduidelik sy.
“My PhD poog ook om swart vroue se verhaal in Suid-Afrika en die verskillende stelsels wat hulle in ’n konteks soos Suid-Afrika onderdruk – apartheid en om postkoloniaal te wees – te vertel. Dus het my doktorsgraad ’n dubbele rol vervul,” voeg sy by.
Ondanks haar studie by die Universiteit Stellenbosch, het Thabede ook tyd gemaak om haar ma, Nomsa Thabede, ná haar ouers se egskeiding te ondersteun. In 2012 het sy haar ma aangemoedig om by haar aan te sluit by die Universiteit. Nomsa het ’n BTh en ’n MTh in praktiese teologie (pastorale sorg) behaal, waarna sy aan die begin van vanjaar vir ’n PhD ingeskryf het.
“Ons is albei baie passievol, maar oor verskillende goed in teologie,” sê Thabede. Sy is kalm – sy luister na mense stories en bied berading aan hulle. Ek is meer ’n agent, ’n kryger, ’n vegter.”
Sy is duidelik vasbeslote om hierdie pad met haar navorsing en skryfwerk voort te sit. “Ek kom uit ’n baie patriargale kultuur wat baie onderdrukkend is en wat mans bo vroue bevoordeel,” sê Thabede. “Dit is waarom ek ’n ontwrigter is. Ons land het dit nodig. Ons vroue het dit nodig.”