Dis daar. In Brigitte Nshimyimana se stil oomblikke en in haar drome. Die oorlog in Rwanda. Die volksmoord. Die kinders wat huil vir hul moeders wat hulle nooit weer sal sien nie. En die spyt dat sy niks vir hulle kon doen nie, want, soos almal destyds, moes sy ook vir haar lewe vlug.
Sy het ontsnap en gevlug na Namibië, maar sy kon egter nooit die gesigte ontsnap van die kinders in Rwanda wat vir hul ma’s huil nie. Maar nou, jare later, kan sy uiteindelik daardie kinders help en ander soos hulle wie se hulpkrete elke dag in haar ore weerklink.
Sy verduidelik: “Voor die oorlog was ek ‘n Graad 5 en 7 onderwyseres. Ek het dus daagliks met kinders te doen gehad. In Namibië het ek die geleentheid gekry om my opleiding voort te sit en ek het ingeskryf vir ‘n baccalaureusgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Namibië. In 2004 het ek daarin geslaag om ‘n pos los te slaan in die Namibiese Ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, waar ek meestal werk met weeskinders en kinders wat as gevolg van MIV/Vigs swaarkry.
“Nou kan ek ten minste ‘n verskil maak deur alternatiewe sorg en ander verwante ondersteuning aan kinders in nood te bied.”
Vandag is Nshimyimana, wat ook ‘n PGDip (Moniterings- en Evalueringsmetodes) en MPhil (Moniterings- en Evalueringsmetodes) aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, die Beherende Maatskaplike Werker by die Ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn. Sy het die monitering- en evalueringstelsel (M&E) ingestel wat deel uitmaak van die programme in die direktoraat en die ministerie.
M&E is ‘n strategiese aspek van bewysgebaseerde beleidmaking, beplanning, begroting, bestuur en verbetering, sowel as bewysgebaseerde verslagdoening en aanspreeklikheid binne verskeie programme in die ontwikkelingsarena, insluitend kindersorg en beskermingsprogrammering. Sy het haar ook beywer om skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, geweld teen kinders en mensehandel te bewerkstellig.
Volgens die Opname oor Geweld teen Kinders wat in 2019 in Namibië gedoen is, het 32,7% van meisies en 30,9% van seuns fisieke geweld van ouers en versorgers voor die ouderdom van 18 ervaar. Dit het ook getoon dat 11,8% van meisies en 7,3% van seuns seksuele geweld ervaar het, en dat 39,3% van seuns en 30,0% van meisies emosionele geweld van hul eweknieë ervaar het.
Maar Nshimyimana sê die Namibiese regering het ‘n sterk wetgewende en beleidsraamwerk vir die versorging en beskerming van kinders ontwikkel.
“Onder leiding van die Direktoraat Kinderwelsyn se kernspan waarvan ek deel vorm, is ‘n nasionale plan van aksie ontwikkel om geweld teen kinders te voorkom en daarop te reageer. Tans mobiliseer ons hulpbronne om te verseker dat die beplande strategieë geïmplementeer, gemonitor en geëvalueer word.”
Sy het sedertdien ook weer met die US saamgespan om haar stryd om kinders in nood by te staan, te versterk.
“Ek is tans besig met my derde jaar as ‘n PhD-student in Openbare Bestuur en Ontwikkeling aan die Skool vir Publieke Leierskap. Die tesis waaraan ek werk is getiteld, ‘Die Ontwikkeling van Resultate-gebaseerde Monitering- en Evalueringstelsel van die Kinderondersteuningstoelae-program in Namibië’. My PhD-werk sal kinders in Namibië bevoordeel, maar dit sal my ook die geleentheid gee om die belofte na te kom wat ek soveel jare gelede aan daardie kinders in Rwanda gemaak het.”
- Is jy ’n buitengewone alumna wat jou vir geslagsgelykheid beywer? Vertel jou storie vir ons, sodat ons dit in ons volgende publikasie kan plaas. Stuur asseblief jou e-pos aan Sindiswa Jamba by swan@sun.ac.za, en vertel ons (in 100 woorde of minder) wie jy is en hoe jou reis waarde tot hierdie saak kan toevoeg.