Verteenwoordigers van die Universiteit Stellenbosch (US) se eerstegenerasieprogram, SOAR, is uitgenooi om by die Konferensie oor Europese Eerstejaar-ervarings die kollig te laat val op sy innovasies oor hoe om ‘n transformatiewe studente-ervaring te skep. Die konferensie word in Junie in Dundee, Skotland gehou.
Die uitnodiging kom slegs drie jaar ná die bekendstelling van SOAR en bevestig die groot invloed van hierdie program op die lewe van studente wat andersins met bitter min begrip van die institusionele kultuur op kampus sou aankom.
Sonder die ingryping van programme soos SOAR sou baie van hierdie studente waarskynlik binne hulle eerstejaar opgeskop het, sê Joy Petersen, mentor en tredhoukoördineerder by die Sentrum vir Studentegemeenskappe en hoof van SOAR.
“Die program is daarop gemik om studente te help om hulle sterkpunte te benut, die geleenthede van hoër onderwys as hefboom te gebruik, hulle agentskap te aktiveer en hulle lewenskragtigheid te versterk,” verduidelik Petersen. “Die hoofdoel van die program is om hulle selfvertroue uit te brei, hulle te help om vroeë vriendskappe te sluit en ‘n gevoel van bekendheid met hulle nuwe omgewing te skep.”
Wat ook betekenisvol is dat studente wat self die SOAR-program deurloop het, wil terugploeg deur hul tyd op te offer om as mentors vir nuwe kohorts op te tree. Vanjaar het 42 studente aansoek gedoen om as mentors op te tree in die program, wat jaarliks net voor die aanvang van die eerstejaarsverwelkomingsprogram plaasvind.
Hoewel daar voor SOAR se bekendstelling ander eerstejaar-bewustheidsprogramme was, is SOAR meer doelgerig om erkenning te gee aan diversiteit en inklusiwiteit aan te moedig. Die Afdeling vir Studentesake het die SOAR-program in 2020 – net voor die Covid-19-grendeltyd begin het – ingestel nadat hulle die behoefte raakgesien het om studente beter te akklimatiseer wat uit gesinne kom wat nie ‘n geskiedenis as US-studente het nie.
SOAR het gedurende die pandemie as ‘n aanlyn program voortgegaan ten einde in aanraking te bly met studente en om as ‘n ondersteuningsmeganisme te dien in ‘n tyd toe baie dit die nodigste gehad het. Vanjaar het nagenoeg 100 studente aan die SOAR-program deelgeneem. Dit het verskeie sosiale aktiwiteite en besprekings oor toepaslike kwessies behels.
Die langtermyndoelwit is om die program stewig te vestig sodat SOAR goed geplaas is om die oorgang van ‘n poel eerstegenerasiestudente wat al hoe groter word, glad te laat verloop, verduidelik Delecia Davids, mede-ontwerper en fasiliteerder by SOAR. “Ons moet (deur die program) verseker dat hulle in hulle eerste jaar ten minste een mens op kampus kan herken. Tans is 40% van die US se jaarlikse inname eerstegenerasiestudente.”
Petersen en Davids weet albei eerstehands hoe dit voel om as ‘n nuwe studente op kampus aan te kom sonder enige institusionele konteks of erfenisraamwerk. Davids was ‘n eerstegenerasiestudent van Delft wat niemand op kampus geken het toe sy ‘n eerstejaar-ingenieurstudent op kampus aangeland het nie. Sy kon met die hulp van SOAR in haar eerste jaar die moeilike besluit neem om van studierigting te verander. Sy het nou ‘n meestersgraad in opvoedkundige beleidstudies en werk tans aan haar PhD, is ‘n dosent by die US en is ook by leierskap- en gemeenskapsbouprogramme, insluitende SOAR, betrokke. Petersen is al vir ‘n paar jaar by die eweknie-mentor-studenteleierskapsprogram betrokke en is ook die koshuishoof vir Nerina, waar sy daagliks met studente omgaan.
Hierdie organiseerders se entoesiasme en passie vir die integrasie van veral eerstegenerasiestudente in die universiteitslewe is tasbaar. Hulle bly betrokke in die lewens van die studente wat hulle mentor en bied ondersteuning en leiding wanneer dit nodig is.
William Sezoe, wat tans die ondervoorsitters van die Studenteraad is, sê sy deelname aan die SOAR-program in 2020 het hom behoorlik aan die Universiteit bekendgestel. “Wanneer ‘n mens na so ‘n groot onderwysinstelling kom, het jy ondersteuning en leiding nodig om aan te pas en jou voete te vind, en dít is presies wat SOAR gedoen het en nog steeds vandag doen – ook vir my.”
Die grootste les wat hy uit die ondervinding geleer het, was dat dit aan hom die reg gegee het om “ruimte in beslag te neem” by die US. “Ek het dadelik ‘n klasverteenwoordiger geword en toe by Die Matie aangesluit waar ek ‘n senior joernalis en navorsingsbestuurder was. Ek was ook in beheer van die samestelling van ons 80ste uitgawe in 2021.”
Sezoe skryf sy vermoë om leierskapsrolle op kampus en buite die US te beklee, toe aan die grondslag wat SOAR in sy eerste jaar op kampus gelê het. “Dit is ‘n ongelooflike program wat baie eerstegenerasiestudente kan help om hulle onsekerheid en ruimtevrees te oorkom. Dit kan hulle terselfdertyd help om hulle netwerke te bou en uit te brei. My reis in ‘n goeie voorbeeld hiervan.”
Hy hoop die US sal voortgaan om die program te ondersteun en uit te brei sodat meer eerstegenerasiestudente ook hierdie paadjie “met ‘n ondersteuningsbasis wat omgee” kan stap en wat hulle kan help om die oorgang te maak en te transformeer totdat hulle afstudeer.
Soos Davids opmerk: “Die eerstejaar-kurrikulum is nie genoeg (om studente vir universiteit voor te berei) nie. Hierdie leerproses vind buite die lesingsale plaas – op straat en in die koshuis.
- Skrywer: Anél Lewis
- Fotograaf: Abraham Jantjies