Professor Thuli Madonsela is al beskryf as ʼn ‘nasionale kleinood’ en beplan om binnekort haar mylpaal- sestigste verjaarsdag op 28 September op gepaste wyse te vier – deur die insameling van fondse vir ʼn goeie saak deur ʼn stil veiling van ʼn olieverfskildery van haar wat onlangs deur gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaar, Shany van den Berg, voltooi is.
Prof Madonsela is die bekleër van die Regstrust se leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy navorsing oor maatskaplike geregtigheid doen en koördineer en konstitusionele en administratiewe reg onderrig. Sy is ook die stigter van die Thuma Stigting, ʼn maatskaplike onderneming vir onafhanklike demokrasie en geletterdheid.
Prof Madonsela was ʼn advokaat in die hooggeregshof van Suid-Afrika en die voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika en is haar lewe lank al ʼn aktivis vir maatskaplike geregtigheid, konstitusionalisme, menseregte, goeie regering en die oppergesag van die wet. In 2014 is sy benoem as een van TIME100 se mees invloedryke mense in die wêreld en in 2016 as Forbes Africa se Persoon van die Jaar. Prof Madonsela is ook een van die skrywers van Suid-Afrika se Grondwet en medeargitek van verskeie stukke wetgewing wat daarop gemik is om Suid-Afrika se demokrasie te anker.
Ná haar ontmoeting met prof Madonsela, sê die kunstenaar dat sy getref was deur haar minsame, goedhartige en kragtige vroulike teenwoordigheid. Die opbrengs uit die stil veiling van prof Madonsela se portret sal geskenk word aan die Universiteit Stellenbosch se #Action4Inclusion-inisiatief, wat in 2020 bekendgestel is. Die fondse wat deur #Action4Inclusion gewerf word, word gebruik om studente te ondersteun wat weens uitstaande klasgeld nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie, en ook afgestudeerdes wat nie ná graduering hulle akademiese rekords kan ontvang nie, wat dus hulle vermoë strem om tot ʼn talentvolle werksmag by te dra. Prof Madonsela dui aan dat sy dankbaar is om die mylpaal van sestig jaar oud word, te kan bereik.
“Dit is vir my ʼn eer om ʼn medestigter van die #Action4Inclusion-inisiatief te wees, saam met jong Matie-leiers. #Action4Inclusion is daarop gemik om jong mense te help om hulle potensiaal te verwesenlik, sodat hulle dieselfde geleentheid kan hê as waarmee ek geseën is, om die samelewing met my volle potensiaal te kan dien. Talle het reeds as gevolg van hierdie inisiatief gegradueer en dra nou betekenisvol tot ons samelewing, ons omgewing en die wêreld by.”
“Ek doen ʼn beroep op julle om jul deel te doen ter ondersteuning van hierdie studenteskuldverligtingsinisiatief en ander bevorderingsmaatreëls vir maatskaplike geregtigheid, as ʼn gebaar van ubuntu en ʼn bydrae tot die grondwetlike verbintenis om ʼn nuwe samelewing te vestig, wat gegrond is op maatskaplike geregtigheid as een van die drie pilare. Dankie dat julle as brûe van hoop dien,” sê prof Madonsela.
PLAAS JOU BOD NOU
Die olieverfskildery van prof Madonsela sal op ʼn stil veiling verkoop word en die hoogste bieër sal nie slegs ʼn gedenkwaardige kunswerk ontvang nie, maar ook die geleentheid hê om middagete saam met prof Madonsela te geniet.
https://matiesalumni.com/action4inclusion/auction/
TOON JOU STEUN
Diegene wat ʼn skenking wil maak en die las van studenteskuld wil verlig, kan na GivenGain gaan. Daar kan jy kies of jy ʼn individuele student wil ondersteun, of aan die #Action4Inclusion-veldtog oor die algemeen wil skenk. Alle fondse ingesamel, word direk aan die Universiteit betaal.
Hier is die skakel:
https://www.givengain.com/cc/action4inclusion/
Kontakpersone
Marna Lourens: mlourens@sun.ac.za
Sthabile Duma: socialjustice@sun.ac.za / sthabilexduma@gmail.com