Die Uitvoerende Komitee van die Raad is bewus van ‘n aangeleentheid wat verband hou met ‘n klagte dat die Rektor en Visekanselier in Oktober 2022 ingevolge die Universiteit Stellenbosch (US) se Toelatingsbeleid sy reg uitgeoefen het om na sy eie goeddunke vir ‘n familielid van sy vrou ‘n plek in die MBChB-program vir 2023 aan te bied. Die aanbod is in dieselfde maand teruggetrek – nog lank voor registrasie in 2023. Hierdie saak word intern aangespreek en sal by die agenda van die komende Raadsvergadering ingesluit word.
Die Universiteit Stellenbosch volg ‘n duidelik-gedefinieerde toelatingsbeleid. Akademiese toelating tot die US val onder die US Toelatingsbeleid en fakulteit-spesifieke riglyne vir toelating/keuring wat jaarliks op die US se webblad aan voornemende studente beskikbaar gestel word. Die Toelatingsbeleid maak uitdruklik voorsiening vir die Rektor se diskresionêre plasings.
Die Rektor erken dat hoewel hy te goeder trou en in ooreenstemming met die huidige riglyne opgetree het, dit ‘n misskatting was. Die Rektoraat sal die riglyne vir diskresionêre plasings ingevolge die Toelatingsbeleid hersien.
Die US is as ‘n hoëronderwysinrigting van wêreldgehalte ‘n nasionale bate met ‘n globale reikwydte en die Universiteit se studente en personeel is van die beste wat daar in en vir Suid-Afrika te vinde is. Beste praktyke word vir die akademiese integriteit van ons instelling, die gehalte van ons kwalifikasies en navorsing en praktiese en behoorlike administratiewe oorsigbestuur gehandhaaf.