
Alumna Lauren Tsafandakis is onlangs aangewys as die wenner van die gesogte CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student van 2021 in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. ‘n Formele oorhandigingsplegtigheid word vir later vanjaar beplan.
Die medalje is die hoogste eer wat die Fakulteit aan ‘n student kan betoon en word sedert 1986 jaarliks toegeken. Dit is vernoem na prof CGW Schumann, ‘n pioniersdosent van die Fakulteit sedert 1924, asook dekaan vir ‘n kwarteeu vanaf 1935.
Tsafandakis doen tans haar klerkskap by PricewaterhouseCoopers. Sy het haar voorgraadse studie (BRek) met ‘n gemiddelde van 92.7% in 2020 voltooi en haar HonsBRek met ‘n gemiddeld van 87.1% in 2021.
“Dit is ‘n eer om erkenning van die Universiteit Stellenbosch te ontvang vir my harde werk oor die jare,” het ‘n verheugde Tsafandakis gesê.
Dié boorling van Pretoria, wat inspirasie put uit kreatiewe en passievolle mense soos musikante en kunstenaars, het ook groot lof gehad vir die akademici aan die Universiteit Stellenbosch.
“Die dosente op Stellenbosch is werklik fenomenaal, hulle is altyd bereid om deurdagte vrae te vra, en ek dink dit het my gehelp om geweldig te groei.”
Volgens Tsafandakis, wat by St Mary’s Waverley Hoërskool in Johannesburg skoolgegaan het, het haar familie, vriende en skool haar help vorm tot die mens wat sy vandag is.
“My familie het my toegelaat om my studies eerste te stel en het deurentyd ‘n baie ondersteunende omgewing geskep waarin ek kon werk. Die vriende wat ek gemaak het, het my gehelp om my selfvertroue op te bou en my beste te lewer. Die uitdagings wat ek op hoërskool in die gesig gestaar het, het van my ‘n meer robuuste mens gemaak, en die akademiese uitnemendheid wat die skool nagestreef het, het ‘n ideale omgewing geskep waarin ek kon werk,” het sy gesê.
Die Schumann-medalje is die jongste van ‘n magdom toekennings wat Tsafandakis vir haar akademiese prestasies ontvang het. Vroeër vanjaar is aangekondig dat sy die eerste plek landwyd behaal het in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) se aanvanklike bevoegdheidstoets (ITC). Laasgenoemde is die eerste van twee eksamens wat individue moet slaag wanneer hulle as geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika wil kwalifiseer. In 2021 is sy ook met die Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid vereer. Boonop was sy die topstudent in beide haar tweede en derde studiejare, en het sy ‘n eerstejaarprestasietoekenning ontvang. Sy was ook die top mikro- en makro-ekonomiestudent in haar eerste jaar.
Maar die nederige Tsafandakis sê sy beskou haarself nie as “begaafd” nie.
“Dit lyk of ek wel akademies aangelê is, maar ek het ook ongelooflik hard dwaarsdeur my studie gewerk. Ek sou dit graag as ‘n kombinasie van die twee wou beskou,” het sy gesê.
Haar oë blink wanneer sy oor haar gunsteling tydverdrywe gesels.
“Ek geniet dit om kuns te skep, tyd saam met vriende en familie deur te bring, troeteldiere, reis, foto’s te neem, na Japanese animasie (anime) te kyk en musiek te luister. Ek hou veral van reis. Ek dink daar is wonderlike dinge om regoor die wêreld te ontdek. Ek was al bevoorreg om na plekke in beide die VSA en Europa te reis, en het onlangs ook Japan besoek. Ek sal graag in die toekoms Amsterdam wil besoek,” het sy gesê.
Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het Tsafandakis as ‘n waardige wenner met ‘n buitengewone akademiese rekord beskryf.
“Jy is ‘n groot inspirasie vir ons en jou medestudente. Ons is baie trots om jou as Matie te eien, en sien daarna uit om jou toekomstige studie en loopbaan met groot belangstelling te volg,” het Woolard gesê.
- Foto’s verskaf: Me Lauren Tsafandakis is die ontvanger van die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in 2021 in die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Me Tsafandakis het ook in 2021 die Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid ontvang en was vroeër vanjaar eerste in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) se landwye aanvanklike bevoegdheidstoets (ITC). Sy skryf haar prestasies toe aan ‘n kombinasie van aanleg en harde werk.