Die afdeling vir Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) hou binnekort vir die eerste keer ‘n internasionale netbalkonferensie. Die geleentheid is veral van belang met die oog op die 2023 Netbalwêreldbekertoernooi wat einde Julie 2023 in Kaapstad aangebied word. Dit is die eerste keer dat ‘n Netbalwêreldbekergeleentheid op die vasteland van Afrika gehou word.
Die konferensie vind op 20 en 21 Julie by die Afdeling vir Sportwetenskap by die Coetzenburg-sportterein op die Stellenbosch-kampus plaas.
Die tema van die konferensie is “Beyond the Court: Exploring Netball Science and Applications” (“Verder as die baan: Leer meer oor netbalwetenskap en -toepassings”) en word deur ‘n reëlingskomitee van die Afdeling Sportwetenskap in samewerking die Wes-Kaapse Regering aangebied.
Hierdie tema het ten doel om die wese van netbal as ‘n dinamiese sport vas te vang wat wetenskaplike navorsing met werklike toepassings kombineer. Geleentheidsprekers, werksessies en besprekings by die konferensie sal op ‘n verskeidenheid netbalspesifieke onderwerpe fokus. Konferensiegangers sal die geleentheid kry om meer te leer oor die jongste vooruitgang op die gebied van navorsing oor netbal, insig kry oor spelerbestuur om beseringsrisiko’s te verminder en tegnologieë ontdek wat spelers se vertoning kan aanvul. Die konferensie is daarop gemik om navorsers, afrigters, spelers en administrateurs byeen te bring sodat kennis oorgedra kan word, bande vir samewerking gesmee kan word en rolspelers mekaar kan inspireer ten einde netbal as ‘n sport te bevorder.
Die Wes-Kaapse minister van sport, Anroux Marais, sal die konferensie op 20 Julie om 09:00 in lesinglokaal A van die Sportwetenskapgebou by Coetzenburg op Stellenbosch open.
Onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in Voedingstrategieë vir netbalspelers; Verlaag netbalspelers se risiko vir beserings en siekte; Maniere van voorbereiding weg van die baan af soos agteruit-/retro-oefening, kaalvoetoefening om prestasie te verbeter en risiko vir beserings te verminder; Neuro-spier-opwarming; Veilige landings in netbal; Voedingstekorte by netbalspelers; Geskiedenis van netbal; en Elite-sportstelsels vir spelerontwikkeling in Suid-Afrika.
Werksessies oor prestasie-ontleding, GPS-gebaseerde oefening, doelgooi en risikobepaling vir laer ledemate is ook ingesluit.
- Vir meer inligting oor die konferensie, besoek www.netballconference.co.za.
- Tree met Carien Uys by 021 808 4723 of carienjvr@sun.ac.za of Ranel Venter by rev@sun.ac.za in verbinding vir meer inligting.