Prof. Kathy Myburgh is slegs die tweede Suid-Afrikaanse wetenskaplike wat deur die Amerikaanse Kollege vir Sportgeneeskunde (ACSM) vereer is vir haar belangrike bydrae tot oefeningwetenskap.
Die ACSM is die grootste organisasie vir sportgeneeskunde en oefeningwetenskap ter wêreld, met meer as 50 000 internasionale en nasionale lede. Prof. Myburgh is een van ses gekose wetenskaplikes van oor die hele wêreld wat ‘n 2023 Citation Award ontvang het. Hierdie aankondiging is onlangs tydens ‘n galadinee ter afsluiting van die 2023 ACSM se Jaarvergadering en Wêreldkongres in Denver, Colorado gemaak.
Myburgh beklee die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Skeletspierfisiologie, -biologie en -biotegnologie in die departement Fisiologiese Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), waar sy ook ‘n uitgelese professor is. Sy is reeds in 1991 as Genoot van die Amerikaanse Kollege vir Sportgeneeskunde verkies.
In ‘n spesiale artikel oor haar werk tot op hede, het Myburgh haar ingesteldheid vergelyk met dié van ‘n topatleet: “Die ingesteldheid wat van beide ‘n topatleet en ernstige navorser vereis word, is om te aanvaar dat vooruitgang ‘n stadige en moeisame proses is”.
Myburg het vanaf 11 jarige ouderdom gimnastiekafrigting gekry en het van die 1970s tot die vroeë 80s as lid van die SA nasionale gimnastiekspan op hoëvlak meegeding.
Sy het aanvanklik haar akademiese loopbaan by die Universiteit van Pretoria begin, vanwaar sy na die Universiteit van Kaapstad (UK) is om onder Prof. Tim Noakes te werk en waar sy in oefeningfisiologie, metaboliese biochemie, en biomeganika gespesialiseer het. Nadat sy ‘n jaar lank hoërskoolonderwyseres was, is sy terug na die UK vir haar MSc-studies, waarna haar PhD gevolg het. Dit was hier waar sy haar formeel op die bestudering van die muskuloskeletale sisteem begin toespits het wat uiteindelik die fokus van haar loopbaan geword het.
Na die voltooiing van haar PhD het Myburgh as nadoktorale genoot by die Universiteit van Stanford se Afdeling vir Geriatriese Endokrinologie gewerk. Hierdie navorsingsgroep het gefokus op die verband tussen beenmassa en spiermassa, en hoe elkeen op endokrinologiese vlak beheer word. Dit is opgevolg met ‘n tweede nadoktorale genootskap by die Universiteit van Kalifornië San Franscisco Mediese Sentrum, waar sy haar toegespits het op skeletspiersametrekking en die biochemie van moegheid.
In 1997 het sy as senior lektor by die Universiteit Stellenbosch begin. Haar werk is tans gerig op die herstel van skeletspiere ná besering.
Oor die verloop van haar loopbaan het Myburgh meer as 180 publikasies die lig laat sien wat al ongeveer 15 000 keer aangehaal is. Sy het ‘n h-indeks van 38.
Myburgh sê sy voel geërd oor die Citation Award, aangesien die ACSM sedert die 1990s haar akademiese tuisvereniging is: “Ek het oor die jare ongeveer 20 konferensies van die ACSM bygewoon. Ek het wonderlike mense ontmoet in my studieveld en hulle respek vir my werk het my selfs verder aangespoor. Ek was altyd gewillig om ‘n bydrae te lewer by die ACSM se jaarvergaderings wanneer ek gedink het dat ek iets interessants gehad het om te deel.”
Klik hier om meer oor haar vorige en teenswoordige navorsing te wete te kom.
- In 1996 was Prof. Tim Noakes van die Universiteit van Kaapstad die eerste Suid-Afrikaner om die Citation Award van die ACSM te ontvang.