Daar is iets omtrent Vashti Prins van Suidooster-faam wat ’n mens aan die klassieke Britse aktrise Audrey Hepburn laat dink. Hulle het dieselfde elegansie, pretensielose jongmeisie-sjarme en skoonheid. En nes die Hollywood-ikoon destyds, baan Vashti ook haar eie, unieke pad na roem.
Dié boorling van Kuilsrivier en alumna van die Universiteit Stellenbosch se groot deurbraak het gekom toe sy ’n oudisie-opname vir ’n rol in die SABC-sepie 7de Laan ingedien het. Die opname is sonder haar wete vir Suidooster se rolverdelingsregisseur aangestuur, wat haar daarna vir ’n individuele oudisie genooi het. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Sy vertolk sedert 2017 die karakter van Danielle Hendricks en beskryf die rol as tegelyk uitdagend en bevredigend. “Een van die dinge wat ek die meeste van my karakter en die sepie geniet, is dat die skrywers en vervaardigers my vertrou om moeilike en relevante stories te vertel, en daarvoor is ek dankbaar. Hierdie stories dwing jou om deernis te hê, jou verbeelding in te span, en ook te gaan delf in oomblikke in jou eie lewe toe jy soortgelyke emosies ervaar het,” sê Vashti. “En die bevredigendste deel is wanneer ’n kyker wat iets soortgelyks beleef het na jou toe kom en sê: ‘Dankie dat jy lig gewerp het op my ervaring. Dankie dat jy my storie vertel het.’ Dít is wanneer jy besef hoe kragtig toneelspel is om mense en gemeenskappe te verteenwoordig en te laat voel dat hulle gesien en gehoor word.”
Maar die lewe van ’n akteur is nie net swier en glans nie. “Ek dink nie mense besef hoeveel tyd toneelspel verg nie. Dit is harde werk, en ’n mens hou nooit op leer en slyp aan jou vaardighede nie, wat uiteindelik baie min tyd oorlaat vir slaap!” sê sy. “Daarom koester ek my tyd af. Dan doen ek net mooi niks buiten om te slaap, sosiale aktiwiteite te doen, na musiek te luister, te mediteer, of sommer net ’n fliek te kyk. Ek kies doelbewus aktiwiteite waarvoor ek nie te veel hoef te dink nie.”
Haar gesig verhelder wanneer sy terugdink aan haar tyd as student by die US, waar sy eers die graad BA (Drama- en Teaterstudie) en later haar Honneurs in Toneelspel verwerf het. “Ek onthou die wonderlike tye saam met die meisies in die koshuis Irene. Hulle was net só vriendelik, verwelkomend en vol stories en humor. Dit was heerlik om te kon terugkom na ’n plek waar iemand altyd bereid was om jou met ’n koppie koffie of ’n laataandgeselsie te verwelkom.
“En ek onthou al daardie oomblikke wat die kampuslewe so spesiaal gemaak het en my altyd sal bybly – DCM-koffie en warm sjokolade, macaroni-en-kaas van die SPAR in die Neelsie, die lang ente se stap tussen die koshuis en die klas saam met jou vriende, laat aande in Humarga, en peuselkos van die Pick n Pay Express oorkant die pad om jou deur die nag te kry …”
Sy ontwyk vernuftig enige vrae oor toekomstige projekte waarby sy betrokke is. “Daar is beslis ’n paar dinge aan die kom. Dalk film, teater of musiek. Die toekoms sal leer. Maar vir eers wil ek sukses behaal as ’n deernisvolle, verwelkomende, leergierige en gawe mens in ’n wêreld vol seer. Ek streef daarna om besluite te neem wat die geslagte ná my positief sal beïnvloed en trots sal maak.”
En daar bestaan nie enige twyfel dat sy goed op pad is om daardie blywende positiewe nalatenskap te skep nie – nes Audrey Hepburn.
- Foto: Stefan Els
- Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/