Alikrik, boegoe, wildeknoffel, gebraaide oslewer en mossels was van die enkele plaaslike en inheemse produkte en bestanddele op die spyskaart van die naamsveranderingplegtigheid van die Krotoa-gebou op die Stellenbosch-kampus van die Universiteit Stellenbosch wat die naweek plaasgevind.
Seisoenale bestanddele is van oral in Suid-Afrika verkry om “gaste met die grond te verbind en Krotoa te eer”, verduidelik Shihaam Domingo, ‘n kreatiewe vervaardiger wat bekend is om haar liefde vir plante en projekte met veldkos.
Domingo sê sy het ‘n spyskaart geskep wat ‘n storie probeer vertel van wat Krotoa in haar leeftyd in die 1600’s aan die Kaap sou geëet het. “My kosstorie is gegrond op wat inheems is, want dit is heel moontlik wat Krotoa destyds sou geëet het.”
Domingo het bestanddele in die veld en uit die see versamel, en ook van verskaffers wat as “bewaarders van hul ruimtes” steeds dinge op dieselfde manier as hul voorvaders doen.
Die spyskaart sluit in mossels in van ‘n groep van 30 kleinskaalse vissersvroue langs die Weskus, makataankonfyt (wildewaatlemoen) wat ‘n ouma van Saron, ‘n dorpie naby Porterville in die Wes-Kaap, gemaak het, en maroela van ‘n voedselwetenskaplike wat op ‘n plaas in Polokwane woon. Alikrik van die Overberg, wildeals van Suurbrak in die Overberg, boegoe uit die berge naby Bettysbaai, Kei-appels van Philippi en wildeknoffel is gebruik. Die water het van ‘n natuurlike bron naby Rhodes Cottage in Muizenberg gekom.
Gaste het oslewer, wat gewoonlik by seremoniële geleenthede aan die ouderlinge bedien word, geproe.
“Lewer word as ‘n bron van krag en kennis beskou. Aangesien die seremonie by ‘n universiteit plaasvind, is die lewer bedien as ‘n herinnering daaraan om die kennis wat die grond aan ons bied te leer en te onthou.”
Krotoa is destyd ontneem van haar inwyding tot vrouwees, bekend as die! Nau, en dus is ‘n bok geslag om betekenis te verleen aan môre se geleentheid. Van hierdie vleis is later op die dag geëet.
Uiteindelik is die kos wat bedien is daaroor om mense van verskillende agtergronde en geslagte met mekaar te verbind.
“Ons is almal aan mekaar verbind. Ons voorouers het almal van die grond af geleef. Wanneer ons môre eet, sal ons aan mekaar verbind word deur die grond en deur die kos wat ons met mekaar deel.”
- Lees meer oor die naamsveranderingproses en aankondiging.
- Lees meer oor Krotoa