Voordat Meagan Louw vir die Universiteit Stellenbosch se SciMathUS-universiteitvoorbereidingsprogram ingeskryf het, het sy gedink haar droom om haar studies in die molekulêre biologie-veld voort te sit, is verby. Maar sedertdien het sy nie net voorgraadse en nagraadse kwalifikasies in hierdie wetenskapdissipline aan die US verwerf nie, maar ook ‘n suksesvolle loopbaan daar gesmee.
Die SciMathUS-universiteitsvoorbereidingsprogram bied jaarliks aan leerders wat reeds Graad 12 geslaag het, maar nie vir hoëronderwyskeuring kwalifiseer nie, ‘n tweede geleentheid om hul Nasionale Senior Sertifikaat(NSS)-uitslag vir die vakke Fisiese Wetenskap, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter. Dit sal hulle in staat stel om weer aansoek te doen vir universiteitsprogramme, veral dié in STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) verwante velde.
Louw, ‘n oudleerling van die Hoërskool Rhodes, het in 2010 vir die SciMathUS-program ingeskryf. Dit nadat haar Fisiese Wetenskap en Wiskunde punte in matriek nie goed genoeg was om by ‘n universiteit in te kom om vir die BSc molekulêre biologie en biotegnologie-graad te studeer wat sy wou hê nie.
Aan die einde van haar SciMathUS-jaar het beide haar Fisiese Wetenskap en Wiskunde punte met byna 30% toegeneem en sy is by die US aanvaar om vir die BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie) te studeer.
“Ek het molekulêre biologie gekies weens die liefde wat ek vir die laboratoriumomgewing en navorsing in die molekulêre biologieveld ontwikkel het,” sê sy.
Sy sê die program het haar nie net gehelp om akademies te groei nie, maar het haar ook goed voorberei vir die universiteitslewe.
“Die program het werkswinkels ingesluit wat gefokus het op uitdagings soos tydsbestuur en hoe om werk te prioritiseer. Die werkslading op universiteit kan oorweldigend wees. Selfs eenvoudige wenke soos hoe om aantekeninge in lesings te maak, het beslis ‘n groot verskil gemaak.”
Nadat sy in 2015 haar BSc behaal het, het Louw ‘n pos as navorsingsbeampte by die US se Sub-Saharan African Regional Biospecimen Repository (SSA RBR) in die Departement Anatomiese Patologie by die Tygerberg Akademiese Hospitaal gekry. Die SSAB versamel, verwerk, stoor en versprei MIV/Vigs-verwante kankermonsters vir navorsingsdoeleindes.
“As deel van die Biobank-span sluit my pligte in die verwerking en berging van monsters met monsterverwante data wat deur ons navorsingsverpleegkundige ingesamel is. Hierdie monsters sluit in volbloed- en varsweefselmonsters wat vir navorsingsdoeleindes verwerk en in die Biobank gestoor sal word.”
Louw het ook tydens die onlangse Maart 2023-gradeplegtighede ‘n meestersgraad in Patologie aan die US verwerf.
Die SciMathUS-program het baie deure vir my oopgemaak en ek sal dit beslis vir ander studente aanbeveel, sê Louw.
“Die program het my nie net gehelp om my punte in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe te verbeter nie, dit het my ook gehelp om ‘n liefde vir hierdie vakke te ontwikkel. Dit het my selfs opgewonde gemaak vir fisiese wetenskapklasse, iets wat ek nooit verwag het nie aangesien ek dit nie aanvanklik as ‘n graad 10-vak wou kies nie. Die program berei studente ook voor vir die universiteitslewe. So wanneer jy jou eerste jaar by ‘n hoëronderwysinstituut begin, weet jy wat om te verwag en sal die groot werkslading jou nie makliik afskrik nie.”
Sy gee krediet aan haar pa vir die groot rol wat hy in haar sukses gespeel het.
“Hy is al van laerskooldae af my motiveerder. Hy was die een wat my aangemoedig het om Fisiese Wetenskappe as ‘n te kies toe ek gedink het ek is nie in staat om dit te doen nie. Vandag kan ons lag oor daardie dag toe ek gehuil het oor ek hierdie vak moes doen.”