Suid-Afrika se onderwyswetgewing het ‘n gebrek aan slaankrag ten opsigte van die regulering van die wangedrag en onbevoegdheid van sommige van ons opvoeders in die openbare basiese onderwysstelsel. Ons het aanpassings in wetgewing nodig om hul prestasies te reguleer sodat ons kinders ‘n gehalte basiese onderwys kan ontvang soos in die Grondwet gestipuleer is.
Só meen dr Cecile de Villiers wat onlangs haar doktorsgraad in Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Haar studie het op die regulering van die prestasie van departementele en ander opvoeders in openbare basiese onderwys gefokus.
De Villiers, ‘n postdoktorale navorser in die Departement Handelsreg aan die US, sê “enige verbetering in die lewering van gehalte basiese onderwys begin by die duidelike regulering van die verwagte prestasiestandaard van opvoeders – insluitende hul optrede (professionalisme en ingesteldheid) en kapasiteit (kwalifikasies, bevoegdheid, inhoudskennis en vaardighede).
“Behoorlike wetgewende regulering kan help om swak prestasie, afwesigheid, wanbestuur van finansies, oneerlikheid, onbehoorlike gedrag, seksuele wangedrag en aanranding aan te spreek, aangesien dit leerders se skoolervaring en/of die gehalte van die onderwys wat hulle ontvang, direk beïnvloed,” voeg sy by.
Volgens De Villiers is die huidige wetgewende regulering van opvoeders se prestasie swak, aangesien die regsraamwerk ingewikkeld, onsamehangend en verwarrend is. Dit is ondans verskeie wetgewende aanpassings sedert die verordening van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998), die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, Wet 31 van 2001 en die Suid-Afrikaanse Skole wet, 1996 (Wet 84 van 1996).
Sy sê haar studie het getoon daar vind nie baie dissiplinêre ondersoeke plaas nie, ondanks die skandelike wangedrag wat soms in skole voorkom. Dié wat wel plaasvind, lei nie tot die ontslag van opvoeders nie.
“Dit is dikwels weens swak besluitneming en betrokkenheid van diegene wat die dissiplinêre prosesse moet deurvoer, wat gestrek het van die onbehoorlike kategorisering of beskrywing van die wangedrag tot om eenvoudig net nie teenwoordig te wees by die arbitrasies by die Raad op Arbeidsbetrekkinge in die Onderwys nie.
“Wat veral kommerwekkend is van die dissiplinêre proses, is dat versoeke vir uitstel (en gevolglike vertragings) van dissiplinêre ondersoeke soms oormatig toegestaan word, veral wanneer vakbonde opvoeders by hierdie ondersoeke verteenwoordig.”
De Villiers wys daarop dat daar nie baie gedetailleerde statistieke oor die voorkoms van voorkomende skorsings en die duur en koste daarvan is nie.
“Voorkomende skorsings word nie altyd selfs saam met ernstige wangedrag (soos aanranding) gebruik nie. Dit word slegs in ‘n fraksie van dissiplinêre gevalle gebruik. Wat veral kommerwekkend is, is dat daar in verskeie gevalle bevind is dat die voorkomende skorsings onbillik was, tipies weens die buitensporige vertraging in dissiplinêre prosesse. Dít word dikwels weens ‘n gebrek aan onderneming deur provinsiale onderwysdepartemente om die saak verder te voer, veroorsaak.
“Boetes en skorsings sonder vergoeding word dikwels as alternatiewe vir ontslag gebruik in gevalle van erge wangedrag en waar ‘n leerder die slagoffer is.
“Daar is ook ‘n afwesigheid van statistieke oor die ware redes vir ontslag, wat dit moeilik maak om doeltreffend te ontleed hoe doeltreffend provinsiale onderwysdepartemente sekere tipes wangedrag beskou en dit hanteer.”
Wysigings
De Villiers stel wysigings aan die Wet op die Indiensneming van Opvoeders voor om te help om die tekortkomings in die huidige regulering van opvoederprestasie aan te spreek.
Sommige van die voorgestelde wetwysigings sluit in “’n verpligting wat op skoolbeheerliggame en provinsiale departemente geplaas moet word om kandidate vóór indiensneming na te gaan en om die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) (en omgekeerd) in kennis te stel sou hierdie kontrole toon dat die name van voornemende opvoeders op die Nasionale Kinderbeskermingsregister of die Nasionale Register vir Seksoortreders voorkom, of dat hulle aan ‘n soortgelyke misdaad skuldig bevind is.
“Die aanmeldingsverpligting tussen SACE en die provinsiale onderwysdepartement moet versterk word en die basiese standaarde van prestasie vir alle opvoeders in die openbare basieseonderwysstelsel moet ingesluit word. Die prinsipaal se mag om informele dissiplinêre stappe te doen, soos om mondelinge of geskrewe waarskuwings uit te reik, moet ook uitgeklaar word.”
De Villiers voeg by dat die huidige bepalings wat met wangedrag te doen het, herroep en met ‘n nuwe voorwaarde vervang moet word wat ook die beskrywing van wangedrag, asook die moontlike strafmaatreëls wysig.
“Wysigings moet aangebring word om uitdagings rondom die regverdigheid van dissipline rakende prosedure, die oormatige vertraging in die finalisering van dissiplinêre ondersoeke en die gebruik van voorkomende skorsing aan te spreek.
“Wysigings om onbevoegdheid aan te spreek deur ‘n prestasiestandaard vir opvoeders en prinsipale in te sluit en deur uitdruklik voor te skryf dat die prosedure om onbevoegdheid (swak werkprestasie) aan te spreek, moet as riglyne gesien word waarvan daar afgewyk kan word indien daar goeie rede daarvoor is.”
De Villiers sê hierdie wysigings kan help om verantwoordbaarheid en deursigtigheid in basiese onderwys te verbeter.
“Waar die standaarde vir ʼn opvoeder se vermoëns en gedrag in wetgewing vervat is, kan daar groter verantwoordbaarheid wees om hierdie standaarde toe te pas en hulle kan as ‘n belangrike riglyn vir besluitnemers, insluitende prinsipale, dien oor hoe om onvermoë en wangedrag in skole aan te spreek.”
Foto deur Ivan Aleksic by Unsplash