[av_section min_height=’75’ min_height_px=’500px’ padding=’large’ shadow=’no-border-styling’ bottom_border=’no-border-styling’ bottom_border_diagonal_color=’#333333′ bottom_border_diagonal_direction=” bottom_border_style=” id=” color=’alternate_color’ custom_bg=” src=’https://matiesalumni.com/assets/uploads/vid-thumb-recognising-opportunity-1.jpg’ attachment=’263′ attachment_size=’full’ attach=’scroll’ position=’center center’ repeat=’stretch’ video=” video_ratio=’16:9′ overlay_enable=’aviaTBoverlay_enable’ overlay_opacity=’0.5′ overlay_color=’#000000′ overlay_pattern=” overlay_custom_pattern=” custom_class=”]
[av_heading heading=’Baan die Weg na ’n Blinker Toekoms’ tag=’h1′ style=’blockquote modern-quote modern-centered’ size=’50’ subheading_active=” subheading_size=’15’ padding=’10’ color=” custom_font=’#ffffff’ custom_class=”][/av_heading]
[av_one_fifth first min_height=” vertical_alignment=” space=” custom_margin=” margin=’0px’ padding=’0px’ border=” border_color=” radius=’0px’ background_color=” src=” background_position=’top left’ background_repeat=’no-repeat’ animation=” mobile_display=”]
[/av_one_fifth][av_three_fifth min_height=” vertical_alignment=” space=” custom_margin=” margin=’0px’ padding=’0px’ border=” border_color=” radius=’0px’ background_color=” src=” background_position=’top left’ background_repeat=’no-repeat’ animation=” mobile_display=”]
[av_textblock size=” font_color=” color=” custom_class=”]
“Dit gaan eintlik daaroor om terug te gee aan jou gemeenskap. Dis wat ek glo Matiewees is. Om terug te gee. Om die kennis te gebruik wat jy hier opgedoen het en dit in jou gemeenskap te herbelê.”
Wanele Ganya – MBChB (Baccalaureus in Geneeskunde en Baccalaureus in Snykunde)
[/av_textblock]
[/av_three_fifth][av_one_fifth min_height=” vertical_alignment=” space=” custom_margin=” margin=’0px’ padding=’0px’ border=” border_color=” radius=’0px’ background_color=” src=” background_position=’top left’ background_repeat=’no-repeat’ animation=” mobile_display=”]
[/av_one_fifth][/av_section][av_textblock size=’19’ font_color=” color=” custom_class=”]
Die tweelingbroers Wandile en Wanele Ganya (24), wat albei onlangs ’n mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, is ’n besielende voorbeeld van hoe jy bo jou omstandighede kan uitstyg en teëspoed te bowe kan kom om jou eie stoutste verwagtinge te oortref. Professor Wim de Villiers (55), die 12de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, vervul ’n enorme rol om hierdie drome vir die jongmense van Suid-Afrika ’n werklikheid te maak. Hoewel uiteenlopend, vloei hulle twee verhale ineen op ’n manier wat die ware betekenis van gemeenskap en teruggee toon.
[/av_textblock]
[av_textblock size=” font_color=” color=” custom_class=”]
Waar hulle grootgeword het in Khayelitsha, een van die grootste deels informele nedersettings in die land wat onder hoë werkloosheid, uiterste armoede en misdaad gebuk gaan, was Wandile en Wanele Ganya maar alte bekend met sukkel en swaarkry. Met net ma Sylvia se huishulploon het die Ganya-tweeling, hulle vier sibbes en werklose pa, Michael, nie net oorleef nie, maar boonop die status quo bevraagteken en bo dié uiters moeilike omstandighede uitgestyg. “Dit was en is steeds ’n gemeenskap vol sosio-ekonomiese euwels,” verduidelik Wanele. “Daar’s baie misdaad, en armoede is alomteenwoordig. Min mense het werk, en boonop is die gehalte van onderwys oor die algemeen swak.” As jong seuns was die tweelingbroers terdeë bewus van hulle benarde omstandighede en het dit hulle vasberade gemaak om teëspoed te bowe te kom om hulle doelwitte te bereik. “Die toekoms lyk maar somber as jy ’n jongmens is met drome en ideale,” sê Wanele. “Selfs net om mense te kry na wie jy kon opsien om te kom waar jy wou wees, was moeilik. Maar gelukkig het blootstelling aan loopbaangeleenthede en goeie onderwysers op skool, wat ons altyd vertel het van mense van ander townships wat sukses behaal het, ons gemotiveer om beter te doen.”
Tog het daar verdere ongeluk vir die Ganya-gesin voorgelê. In 2009, die tweelingbroers se laaste skooljaar aan die Sentrum vir Wetenskap en Tegnologie in Khayelitsha, is Wanele met tuberkulose (TB) gediagnoseer. Dit was die jaar wat sou bepaal of hulle universiteit toe kon gaan – iets waarvoor hulle albei baie hard gewerk het. “Soos jy weet, is TB ’n chroniese siekte, en in ’n gesin wat dit reeds nie breed het nie, maak dit die las net al hoe swaarder,” verduidelik Wandile. Op dié punt het Wandile homself die taak opgelê om Wanele se tutor te word, en het hy bedags skoolgegaan en saans sy siek broer onderrig. Wandile was uiteindelik een van die beste matrikulante in die Wes-Kaap daardie jaar. En al het Wanele nie sulke goeie punte soos sy broer behaal nie, het hy ook geslaag en is albei vir mediese studie aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar – hulle lewenslange droom wat met Wanele se siekte net sterker geword het.
Professor Wim de Villiers (55), die 12de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, se lewe het ’n gans ander roete gevolg. As die jongste van vyf het hy in die welgestelde buurte van Stellenbosch grootgeword, waar hy sorgeloos in die boomryke strate gespeel en bootjies geprakseer het om in die watervore te laat vaar, geheel en al onbewus van die politieke stryd wat destyds in die land geheers het. Sy pa, ’n professor in die regte aan die Universiteit, het toegesien dat sy kinders hulle bevoorregte status so goed moontlik benut. Hy het hulle na die beste skole gestuur en hulle van die beste moontlike gehalte onderrig voorsien. Eers ná hoërskool het De Villiers begin besef dat hy allermins gemaklik is met die konserwatiewe apartheidsbestel waarin hy hom bevind het. “Ek het in 1978 begin medies studeer. Dit was ’n onstuimige tyd in die geskiedenis van die land,” onthou hy. “Destyds is ’n paar gekleurde studente die eerste keer in klasse toegelaat. Dit het my oë op ’n manier laat oopgaan vir die uitdagings waarmee hulle te kampe het.”
Nadat hy hom as ’n dokter bekwaam en op Stellenbosch as internis gespesialiseer het, is De Villiers na die Universiteit van Oxford, waar hy sy PhD voltooi het, gevolg deur ’n MBA in Gesondheidsorgbestuur aan Harvard. Hy het lank oorsee gebly totdat die verlange huis toe te sterk geword het om te ignoreer. Sedert hy die land verlaat het, het daar ’n politieke transformasie plaasgevind, maar ondanks die positiewe veranderinge, was hy steeds terdeë bewus van die konserwatisme wat daar steeds was, veral in die instelling waar hy soveel jare deurgebring het. Hy is genader om hom vir die amp van Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch beskikbaar te stel en op 29 April 2015 is hy ingehuldig.
Nadat Wandile en Wanele uit die Khayelitsha-gemeenskap weg is, het hulle, nes De Villiers, kennis gemaak met ’n wêreld baie ver verwyderd van waaraan hulle gewoond was. “Jy kan jou indink, ons kom van Khayelitsha en stap in by Stellenbosch met sy diverse kulture, tale en leefwyses,” sê Wandile. “Dit was ’n enorme kultuurskok.” Wanele voeg by: “Jy’s nie seker waar jy inpas nie. Dis ’n baie groot plek en ’n nuwe omgewing, wat jou laat wonder: ‘Gaan ek regkom? Gaan ek aanvaar word?’ Dit laat jou eers nogal aan jouself twyfel.” Tog het die twee inspirasie en motivering daaruit geput dat hulle tot hier kon kom, en het hulle hulle aanvanklike persoonlike terugslae te bowe gekom. Albei was gelukkig genoeg om Uitstygtoekennings van die Rektor te ontvang. Ondanks Wanele se matriekpunte, het die Universiteit in ag geneem waardeur hy is, sowel as sy broer se vasberade bydrae. “Toe ek op Stellenbosch aankom, het hulle my siekte in aanmerking geneem en gesê: ‘Wag, hierdie ou het nie gekies dat dit met hom moes gebeur nie, so sy punte is tog sekerlik nie ’n ware aanwyser van sy potensiaal nie. So, om sy ware potensiaal te bepaal, moet ons ook kyk na hoe hy voorheen presteer het, waardeur hy tans gaan, waar hy vandaan kom, en dit alles dan beoordeel saam met wat nou hier op universiteit gebeur.’ Die Rektorstoekenning was finansieel én emosioneel ’n reuseverligting,” sê hy.
As die huidige Rektor, is De Villiers maar alte bewus van die probleme waarvoor die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika tans te staan kom. “Ongelykheid, armoede, werkloosheid,” noem hy dit op. “Die hoëronderwyssektor is nog nie volledig getransformeer nie en het gewoon te min geld.” Al is die studenteprofiel ongetwyfeld aan die verander wat ras en taal betref (Stellenbosch was eens ’n oorwegend wit, Afrikaanssprekende universiteit), glo hy steeds daar lê nog ’n lang pad voor om ’n waarlik getransformeerde kampus te skep. “Voortdurende transformasie is deel van die kernwese van die Universiteit,” sê hy. “Ons reis is onvolmaak en onvolledig, maar ons bly vasbeslote.”
Die veranderinge gaan beslis nie ongesiens verby nie, en die Ganya-broers is ’n wonderlike voorbeeld van die geleenthede wat al hoe verder en wyer oor die land heen beskikbaar is. “Die Universiteit is nou baie meer inklusief,” sê Wanele. “Hulle begin die potensiaal in gebiede met ’n laer sosio-ekonomiese status raaksien. Ek dink hulle besef dat hulle heelwat talent in daardie gebiede misgekyk het, en probeer nou meer mense van daar werf, en kyk dan waarheen dit moontlik lei. Hulle besef dat hulle ’n verskil kan maak – nie net plaaslik nie, maar ook in nasionale verband. Hulle bied mense geleenthede. ’n Plek soos Stellenbosch wil ’n verskil in jou lewe maak.”
Die belang daarvan om terug te gee aan die gemeenskap blyk nie net uit hierdie uiteenlopende verhale met hulle onverwagte raakpunte nie, maar ook uit die reuseverskil wat die transformasie by instellings soos Stellenbosch in soveel mense se lewens maak. “Daar is baie klein Waneles en Wandiles in die gemeenskap wat iemand soek om na op te sien, om hulle te motiveer,” sê Wanele, “om vir hulle te sê: ‘Ek weet dis waar jy vandaan kom, maar kyk na my. Jy kan dit ook doen.’ Ek dink dis baie belangrik. Sodra jy gekom het waar jy wil wees, gryp die geleentheid aan, benut dit ten volle en gaan dan terug na jou gemeenskap en sê: ‘Kyk, dis wat ek vandag het danksy hierdie universiteit. Nou wil ek hê jy moet ook jou potensiaal verwesenlik. Niks kan jou keer nie.’”
Om ’n Matie op Stellenbosch te wees beteken baie vir De Villiers sowel as die Ganya-tweeling. Om ondanks groot verskille tot so ’n universiteitsgemeenskap te kan behoort bring al hoe meer mense byeen om ’n maatskaplik en polities meer bewuste samelewing te skep. As trotse Suid-Afrikaner beteken Matiewees vir De Villiers om deel te wees van ’n nasionale bate. “Stellenbosch is ’n ryke tapisserie van wonderlike mense wat bydra tot die samelewing wat ons besig is om te skep,” sê hy. Vir die tweeling gaan Matiewees nie net oor teruggee nie, maar ook oor vryheid. “Om ’n Matie te wees beteken jy’s vry om jouself te wees, om jou uit te leef, nie net in die akademie nie, maar ook wat jou politieke mening en jou kultuur betref,” sê Wandile. Hierdie twee verhale is ’n besonderse huldeblyk aan oënskynlik gewone mense wat buitengewone dinge doen, wat op sy beurt uitkring om vir toekomstige geslagte moed en hoop te gee.
[/av_textblock]