Dr Henriette Burger is die nuut aangestelde Hoof van die Afdeling Stralingsonkologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Haar roeping is tweeledig, naamlik om ’n radioterapie- en chemoterapiediens van hoë gehalte te lewer, en om die Afdeling se rol uit te brei wat betref die bemagtiging van gesondheidsorgpraktisyns wat na kankerpasiënte in die gemeenskap omsien.
Burger, wat haar inspirasie neem uit die waardigheid en gemak van haar pasiënte, sê hulp aan pasiënte om hul siekte te verstaan en hul individuele behoeftes op hul kankerreis aan te pak, vorm die grondslag vir haar persoonlike visie vir die Afdeling. “My strategiese plan is op vier fokusareas gebaseer, naamlik die koestering van mensekapitaal deur ’n ondersteunende werksomgewing te skep wat groei en uitnemendheid versterk; die lewering van ’n doeltreffende radioterapie- en chemoterapiediens van hoë gehalte; die bou van plaaslik relevante navorsingskapasiteit; en die uitbreiding van onkologie-opvoeding en opleiding, veral op streek- en distriksvlak.”
’n Groot bron van kommer is die mate waarin kliniese en akademiese personeel ondersteun word om hul steeds toenemende werklading te bestuur. “Ek beskou my span as die belangrikste hulpbron in die Afdeling. Hulle kennis, vaardighede, empatie vir pasiënte, en veerkragtigheid is wat die diens staande hou. Dit is ’n werklikheid dat indien ons personeel nie gewaardeer en ondersteun voel nie, hulle óf sal uitbrand óf beter diensvoorwaardes elders sal gaan soek.”
Wat die uitbreiding van plaaslik relevante navorsingskapasiteit betref sê Burger haar voorganger, prof Hannah Simonds, het ’n stewige grondslag vir radioterapie gefokusde navorsing en ontwikkeling gelê, wat sy beoog om te versterk en uit te brei.
“By Tygerberghospitaal is ons in die ideale posisie om navorsing te ontwikkel op die gebied van viraalgedrewe kankers wat met MIV, HPV en ander virusinfeksies verbind word. Die Afdeling is bevoorreg om deel te wees van ’n nuwe multinasionale navorsingsprojek onder leiding van prof Hennie Botha wat op viraalgedrewe kankers gerig is. Dit kan nuwe behandeling- en voorkomingstrategieë vir algemene kankers in Afrika suid van die Sahara onderlê.
“Ons is ook gelukkig om die nuutste radioterapie-vermoëns by Tygerberg te hê. Die uitdagings wat ons moet bestuur is die doeltreffende gebruik van hierdie tegnologieë, om ons spesialiste op die hoogte te hou van gevorderde behandelingstegnieke, en om streng gehalteversekeringstelsels te implementeer.”
Dr Burger meen dokters en verpleegkundiges op alle vlakke van die gesondheidsorgplatform behoort vol vertroue te voel wanneer hulle kankerpasiënte versorg en te weet wanneer en hoe om die nodige toegang tot steun op tersiêre vlak te verkry. “Dit vereis dat ons in moderne tegnologieë belê om die opvoeding- en opleidingsfeer uit te brei en ons kliniese kommunikasieweë te verbeter.”
Die reis na onkologie
Burger sê haar belangstelling in onkologie is aangewakker terwyl sy as ’n lokum in die Verenigde Koninkryk gewerk het nadat sy haar gemeenskapsdiens in die Vrystaat voltooi het. Sy het in 2001 as ’n mediese praktisyn aan die US gekwalifiseer en in 2011 as ’n kliniese onkoloog aan die Universiteit van Kaapstad.
Volgens Burger is sy heelwat verskuldig aan die kollegas en mentors wat haar op die weg na haar nuwe pos geïnspireer het en haar aangemoedig het om groter hoogtes te bereik en nie moed op te gee wanneer die uitdagings aangroei nie.
“Ek het van 2012 tot 2015 as spesialis in die Groote Schuur Hospitaal se onkologie-afdeling gewerk, vanwaar ek na die Tygerberghospitaal-span verskuif het. Hier het prof Simonds my in kliniesenavorsingspraktyk gementor en ek het waardevolle ondervinding via toonaangewende medewerkende navorsingstudies in die veld van palliatiewe geneeskunde, Kaposi-sarkoom, en urologiese kankers opgedoen.
“Met prof Simonds se ondersteuning en dié van ander senior US-navorsers soos proff Hennie Botha, Johann Schneider en Vikash Sewram, het ek medewerkende navorsingsverhoudinge met internasionale navorsers in sowel die VS as Europa opgebou.”
Palliatiewe geneeskunde
Burger en ’n netwerk eksterne palliatiewesorgkundiges speel sedert 2017 ’n belangrike rol in die ontwerp en implementering van palliatiewesorgkursusse vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, waaronder ’n voorgraadse module vir die MB,ChB-groep en ’n nagraadse kortkursus vir algemene praktisyns. “Ek fasiliteer ook ’n geteikende jaarlange module in palliatiewe sorg vir kliniese assistente in onkologie en vir ginekologiese onkologie-genote in medewerking met die Universiteit van Kaapstad.”
Dr Burger staan tans die kurrikulumvernuwingspan by met die integrasie van palliatiewe geneeskunde (PG) vir die hersiene voorgraadse MB,ChB-kurrikulum en sê, “My werk sal afgehandel wees wanneer die Fakulteit genoeg PG-onderrigkapasiteit opgebou het om ’n eie PG-kurrikulum te ondersteun.”
Sy voltooi tans haar meestersgraad in palliatiewe geneeskunde deur die Universiteit van Kaapstad met die onderwerp kommunikasie by die beplanning van voorafsorg.
Die groter prentjie
Wanneer sy haar nie in haar veeleisende werk verdiep nie, geniet Henriette die teater, kuns, reis en alle vorme van musiek. “Ek sorg dat ek elke jaar my behoefte aan kuns en die letterkunde by die US Woordfees en die Suidoosterfees bevredig.”
Sy deel haar lewe met haar man, ’n ruimte-ingenieur en kankeroorlewende, haar tienerseun en twee stiefdogters, wat nou hul universiteitsloopbaan aanpak. “Hulle inspireer en ondersteun my om nuwe uitdagings aan te pak en om altyd die groter prentjie te sien,” sê Burger.