Leon-Ben Lamprecht is ’n finansiële adviseur en pa van drie wat in Wellington woon. Hy is ook ’n selfverklaarde braaivleis- en kitaarverslaafde. Hy het in 2006 ’n BCom-graad, in 2017 ’n nagraadse diploma in finansiële beplanning, en in 2021 ’n meestersgraad in Joernalistiek verwerf – alles aan die Universiteit Stellenbosch. Sy eerste boek, Wie Skrik Vir Wortel Wolf, was ’n direkte gevolg van die Covid-19-inperking.
Hy verduidelik: “Ek het kinders wat lief is vir boeke, maar die biblioteke was toe, so toe maak ek maar vir hulle ’n storie op.” Sy kinders het so baie van die storie gehou, dat hy ’n manuskrip geskep en aan Tafelberg Uitgewers voorgelê het. Ná sy eerste boek, was hy geïnspireer om Barend die Barbaar, ’n prentjie- en rymboek, te skryf. Hy erken: “Ek is nie mal oor in rym skryf nie – dis moeilik – maar ek het een oggend wakker geword met die openingstrofe in my kop, en dit het van daar gevloei.” Sy volgende boek sal in 2023 vrygestel word.
Die boeke is beskikbaar by enige boekwinkel, en Leon-Ben beveel Bargain Books in die Paarl aan. Barend die Barbaar is ook beskikbaar by https://afriforumuitgewers.co.za.