Personeellede en studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het hulle sokkies behoorlik opgetrek toe hulle voorberei het vir #CrazySocks4Docs-dag (#CS4D), wat op Vrydag, 3 Junie 2022 plaasvind.
Die #CS4D-veldtog is in 2017 onder leiding van dr. Geoff Toogood van Australië begin. Toogood het ʼn enkele doelwit gehad: om die geestesiekte-stigma onder gesondheidsorgwerkers af te breek deur almal te oorreed om “lawwe” of “mal” sokkies aan te trek. Die FGGW het sedert 2019 met die Ithemba-stigting, ʼn organisasie sonder winsbejag, saamgewerk om die veldtog na gesondheidsorgwerkers-in-opleiding by die US te bring.
Prof Elmi Muller, Dekaan van die FGGW, het gesê die voorbereidings vir vanjaar se inisiatief is met ongekende entoesiasme deur personeellede én studente begroet. “Ons is deeglik bewus van die erge geestelike spanning wat gesondheidsorgberoepslui tydens die uitvoering van hul pligte kan ervaar. Ons ondersteun die #CrazySocks4Docs-inisiatief omdat dit ʼn uitstekende platform vir ons bied om die stigma rondom geestesiektes onder gesondheidsorgwerkers af te breek. Wanneer hulle vir pasiënte sorg, moet gesondheidsorgwerkers sterk en veerkragtig wees. Dit kan net gebeur as hulle in die eerste plek na hul eie liggaamlike en geestesgesondheid omsien.”
Vhuḓi Ravhutsi, voorsitter van die Tygerberg- Verteenwoordigende Studenteraad, het gesê die #CS4D-veldtog help om bewusmaking van gesondheidsorgwerkers se geestelike behoeftes te verhoog, maar skep ook ʼn verposing vir verdere nadenke: “Ons moet dink aan die stelsels wat ons in stand hou, die omgewings wat ons skep en die presedente wat ons in ons hospitale, in lesingsale, by studiegroepe langs hospitaalbeddens en in kantore skep. Miskien moet ons daarna streef om van meet af ʼn atmosfeer in stand te hou wat gesonde gedrag in hierdie omgewings aanmoedig.”
Prof Hans Strijdom, Hoof van die FGGW se Afdeling Mediese Fisiologie, het gesê as ʼn voormalige mediese praktisyn kan hy getuig van die belangrikheid om na jou geestesgesondheid om te sien. “Ons as gesondheidsorgwerkers skeep dikwels ons eie geestesgesondheidstatus af omdat ons sterk wil voorkom en voel ons pasiënte kom eerste. Maar ons bereik inderwaarheid die teenoorgestelde. Dit is tyd dat gesondheidsorgwerkers hul pasiënte eerste stel deur hul eie geestesgesondheid eerste te stel. Die twee gaan hand aan hand.”
Tasha Ainsworth, ʼn BSc-fisioterapiestudent in haar vierde jaar, het gesê #CS4D skep bewustheid dat gesondheidsorgwerkers nie teen breinsiektes immuun is nie. “Kom ons gee erkenning hieraan en breek die stigma en diskriminasie op soveel vlakke in ons dissipline af. ʼn Dag van koel sokkies dra help, maar dis nie genoeg nie … ons moet hierdie gesprekke so dikwels as moontlik normaliseer.”
Die FGGW sal vanjaar weer met die Ithemba-stigting, die sokkievervaardiger Falke en die farmaseutiese groep Cipla saamwerk om kleurvolle sokkies van hoë gehalte aan fakulteite van geneeskunde en gesondheidswetenskappe landwyd te skenk in ʼn poging om gesprekke oor geestesgesonheid, depressie en angs by gesondheidsberoepslui te help aanmoedig en normaliseer.
Prof Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting, het gesê: “Dis oukei vir gesondheidsberoepslui om nie oukei te wees nie. Julle weet beter as ek dat siektes nie weggaan as dit geïgnoreer word nie. Inteendeel, dit word erger. Of selfs dodelik. Ons as die publiek #Care4OurCarers. Gee asseblief ook vir julleself om.”
CS4D: GOED OM TE WEET
Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Ithemba-stigting sal die volgende aktiwiteite op Donderdag, 2 Junie 2022 en Vrydag, 3 Junie 2022 op die Tygerberg-kampus aanbied:
CrazySocks4Docs-sokkieselfie-pasella:
Datum: Donderdag, 2 Junie 2022
Tyd: 13h00 tot 14h00
Plek: TSS (buite die gimnasium)
Wie: Net voorgraadse FGGW-studente wat ʼn sokkieselfie op sosiale media geplaas het (op ‘n eerste-kom-eerste-bedien-basis)
Datum: Vrydag, 3 Junie 2022
Tyd: 13h00 tot 14h00
Plek: TSS (buite die gimnasium)
Wie: Net voorgraadse FGGW-studente wat ʼn sokkieselfie op sosiale media geplaas het (op ‘n eerste-kom-eerste-bedien-basis)
CrazySocks4Docs-webinaar
Datum: Vrydag, 3 Junie 2022
Tyd: 11h30 tot12h30
RSVP: RSVP asb. deur voor 17h00 op Woensdag, 1 Junie 2022 ʼn e-pos na tygerbergalumni@sun.ac.za te stuur. (Die skakel sal twee dae voor die webinaar per e-pos gestuur word.)
Ons gasspreker is dr Cobus McCallaghan, ʼn Ithemba-stigting-raadslid en Suid-Afrikaanse sielkundige. Hy sal praat oor die unieke uitdagings wat gesondheidsorgwerkers ondervind om behoorlike geestesgesondheidsorg te bekom. Prof Lizette Rabe, sigter van die Ithemba-stigting, sal by McCallaghan aansluit. Prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, sal die onderwerp en ons sprekers bekend stel.
Personeellede en studente van die FGGW is welkom.
Onderskrif: Mnr Njabulo Maphumulo, me Tasha Ainsworth en mnr Vhudi Ravhutsi stel hulle kleurvolle sokkies ten toon Crazy Socks for Docs-veldtog.