Dit lyk of alles wat ek as ‘n eerstegenerasie‑student aanraak, in goud verander. Toe ek as kind uit ‘n enkelouerhuis voor die uitdaging van tersiêre opvoeding te staan gekom het, kon ek dit óf as ‘n las óf as ‘n geleentheid beskou, en ek het op die laasgenoemde besluit. Ek is die tweede oudste kind van ‘n enkelma wie se enigste ervaring van universiteit die dag was toe sy my universiteit toe gebring het om te registreer. Sy het verskeie doelwitte vir my en my broer gestel en onvermoeid gewerk om te verseker dat die geleenthede wat haar ontbreek het, ‘n werklikheid vir haar kinders word.
Ek kom van Gugulethu, ‘n township aan die buitewyke van Kaapstad. Alhoewel geleenthede nie op ‘n silwerskottel daar arriveer nie, kan ‘n diverse kulturele agtergrond soms as ‘n maatstaf vir sukses of ‘n geleentheid dien. Soos dit is, moet mense gewoonlik uit die townships na die stad beweeg om te kan groei en sukses te behaal. Ek het die leefstylverskille opgemerk toe ek ‘n bus van my huis af skool toe moes haal. Wat ek daar langs die pad gesien het, het my laat besluit om ‘n maatskaplike werker te word. Ek wou ‘n kampvegter van verandering in my gemeenskap wees, ek wou bou en ontwikkel sonder om ‘n bus te hoef te haal. In my matriekjaar het ek by vier universiteite aansoek gedoen, en die US was een van die universiteite wat my aansoek aanvaar het. Die dag toe ek my studentekaart ontvang het, is my ma en my gesin se harde werk en opofferings om my te bring tot waar ek vandag is, beloon. Ek het my voorgraadse studie in maatskaplike werk in Desember 2019 voltooi.
Tydens my studie het ek ‘n Instagram-modeblad genaamd Style Indaba begin waarmee ek die narratief dat Stellies-studente altyd plakkies en kortbroeke kampus toe dra, wou verander. Die bladsy het gewild geraak en ‘n klomp studente het anders aangetrek omdat hulle graag die bladsy wou haal. Dit het my laat besluit om my loopbaanrigting te verander, want ek kon die potensiaal sien om die narratief te beïnvloed. In 2020 het ek vir ‘n nagraadse diploma in bemarking ingeskryf en in dieselfde jaar ‘n studente-assistent in die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (AOA) geword. My ervaring in die AOA het daartoe gelei dat ek die volgende jaar vir hul nagraadse internprogram aansoek gedoen het. Deur die internprogram kon ek al twee my kwalifikasies gebruik, omdat die pos gevorderde kommunikasie-, ontledings‑ en kreatiewe vaardighede vereis.
Internskapprogramme is deurslaggewend vir die ontwikkeling en vordering van nuwe gegradueerdes. Dié programme wil geleenthede en leerervarings skep en ‘n gevoel van tuishoort kweek. In 2021 het ek verhoudings met US-alumni, die personeel en studente gebou. Ek het geleer om nie net vir myself verantwoordelik te wees nie, maar ook vir ander. Ek is deel van ‘n afdeling wat my laat tuis voel. Internskappe is nie uitsluitlik bedoel om werkservaring te bied nie, studente kry ook die geleentheid om meer oor hulself en ander, die kantoor- of maatskappy‑kultuur, verhoudingskepping, en vaardigheidsontwikkeling te leer. Maatskappye moet besef dat waar internskappe ter sprake is, dit vir gegradueerders nie soseer oor die werkservaring gaan nie, maar ook oor hul holistiese ontwikkeling as gegradueerdes. Ons wil nie net werkservaring opdoen nie, ons wil ook graag netwerke bou, sosiale kapitaal bekom, en diverse oordraagbare vaardighede aanleer.
Ek glo maatskappye wat in internskappe belê, mensekapitaal lok, mense wat toegewyd, energiek en entoesiasties is om te leer. Interns bring nuwe perspektiewe, vars idees, en volop energie. My jaar as ‘n gegradueerde intern het my geleer om sigbaar te wees. Wanneer ek by ‘n vertrek instap, word ek die een waarna die maatskappy op soek was, ek voorsien vars idees en uiteenlopende perspektiewe, en ek is bewustelik in daardie ruimte teenwoordig. My werk as ‘n gegradueerde intern het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak en ek sal vir ewig dankbaar wees vir die geleentheid.
- Viwe Benxa is ‘n intern by die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.