Nongcebo Langa is vasbeslote om haar stempel as ’n swart vrou en wynmaker op Suid-Afrika se wynbedryf af te druk.
Sy is in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, gebore en getoë en het op hoërskool ’n beurs van die Departement van Landbou ontvang. Dít, sê sy, het haar die geleentheid gebied om ’n loopbaan in die landbouwetenskappe na te jaag.
“Ek het ’n seminaar saam met ander beurshouers bygewoon, en die sprekers by die geleentheid was almal beroepslui uit verskillende landboubedrywe. Vir my was die wynmakers die interessantste,” onthou Langa.
Dit was die veelsydige aard van die wynbedryf – om in ’n laboratorium te kan werk, met kliënte te ontmoet, in die wingerde te wees, en die potensiaal vir reis – wat haar oortuig het dat ’n loopbaan as wynmaker die regte keuse is. So beland sy toe in 2012 op Stellenbosch vir die graad BScAgric in Wingerd- en Wynkunde. Nadat sy die kursus van vier jaar voltooi het, het Langa ook vir ’n magistergraad in Wynkunde ingeskryf.
Toe sy met haar voorgraadse studie begin het, was daar nie veel vroue- of swart studente nie, sê sy. Sy moes haar plek as ’n vrou in die wynbedryf opeis en haarself by tye daaraan herinner dat sy verdien om daar te wees.
“Nou sluit heelwat vroue en swart mense hulle by die bedryf aan, al lyk dit dalk nie vir buitestanders so nie. Die nodige programme en geleenthede is daar.”
Nadat sy twee internskappe voltooi het, een by die Groot Constantia-landgoed in die Wes- Kaap, en die ander by die Highgate-landgoed in KwaZulu-Natal, het Langa in 2019 as ’n vakleerling by die Delheim-wynlandgoed in Stellenbosch aangesluit.
Hier is sy in 2020 tot assistentwynmaker en in Mei 2022 tot wynmaker bevorder. Sy beskryf haar rol by Delheim tot dusver as opwindend. Sy het onder meer ’n vier maande lange internskap in Kalifornië, Verenigde State, voltooi en het al die hele Suid-Afrika deurkruis om Delheim se wyne te bemark en met kliënte te ontmoet. ’n Werksbesoek aan Duitsland word ook beplan. “Ek kry die geleentheid om te verstaan wat mense geniet en om aanbevelings uit Delheim se reeks te doen. Ek glo wyn is ’n drankie vir die mense, so ek geniet dit om wyne te kies wat by mense se voorkeure pas.”
Oor haar toekomsplanne sê Langa hoewel sy graag in haar huidige pos wil groei, wil sy ook uiteindelik meer oor die entrepreneurskap- en sake-aspekte van die wynbedryf leer.
Sy is optimisties oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf en meen daar is baie jong leerlingvrouewynmakers wat die bedryf binne die volgende vyf tot tien jaar sal betree. Oor haar eie loopbaan tot dusver sê sy: “Verteenwoordiging is uiters belangrik, want ons moet mense soos onsself sien in die ruimtes waar ons ook graag eendag wil wees.”
- Matieland is die Universiteit Stellenbosch se tweejaarlikse bemarkingstydskrif. Hierdie volkleurpublikasie is ‘n weerspieëling van die universiteit se visie om ‘n toonaangewende navorsingsintensiewe instelling op die Afrika-kontinent te wees, wêreldwyd erken as uitnemend, inklusief en innoverend, en waar kennis gevorder word in diens van die samelewing. Beskikbaar in beide Engels en Afrikaans, en in beide gedrukte en digitale formaat, wys Matieland die nuutste ontwikkelings en prestasies van die universiteit se fakulteit, personeel en studente. Lees meer hier:
https://console.virtualpaper.com/stellenbosch-university/matieland_dec2022_afr/