Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Te midde van die lofsange vir die uitstekende prestasies van die Proteas en Banyana-Banyana in hulle onderskeie Wêreldbekertoernooie die afgelope tyd, is dit gepas om hulde te bring aan akademici wat die weg baan vir vroueatlete. Onder die merkwaardige figure by die Universiteit Stellenbosch, is daar een wat uitstaan as ‘n kampvegter in die sfeer van vrouesport: dr Anna Adom-Aboagye.
Sy staan tans aan die stuur van die Sentrum vir Sportleierskap by die US, maar haar reis in die sportwêreld het letterlik op haar pa se skouers begin. Klein Nana het in die voorste ry gesit terwyl haar pa ‘n verskeidenheid sportsoorte afgerig het. Haar gesin het in die 1980’s van Ghana na Suid-Afrika geïmmigreer en Adom-Aboagye het reeds van kleins af aan elke denkbare sport deelgeneem.
“My pa was ‘n dosent by ‘n onderwyskollege in een van die voormalige tuislande en dit was ‘n seëning dat my ouers, wat albei Ghana in nasionale sportspanne verteenwoordig het, my nie stereotipies as ‘n meisie behandel het nie. Soms was ek die enigste meisie wat raakrugby of sokker of krieket saam met my jonger broer en die ander seuns in die buurt gespeel het. Die ander meisies het gedink dis vreemd. Namate ek ouer geword het, het ek besef my ouers het my ‘n bietjie anders grootgemaak.”
Haar liefde vir sport is aangevuur by die prestigeryke Pietermartizburg Girls’ High School, wat bekend is vir akademiese en sportprestasies. Sy het in atletiek en hokkie uitgeblink en het provinsiale kleure verwerf, asook verskeie medaljes op nasionale vlak. Adom-Aboagye is op universiteit gekonfronteer met die dieselfde dilemma as so baie ander jong vroueatlete – die besef dat ‘n sportloopbaan nie ‘n lonende opsie vir vroue is nie, wat hulle dan maar ‘n ander beroepsrigting laat inslaan.
Nadat sy ‘n B-graad in Sosiale Wetenskappe met Organisatoriese Sielkunde en Bedryfsosiologie as hoofvakke aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het Adom-Aboagye verskeie poste in die staatsdiens en die private sektor beklee. Sy het egter steeds ‘n sterk band met sport behou deur in aanraking te bly met eertydse oefenmaats en vriende in die sportwêreld.
“Op ‘n dag het ek by die kantoor ingestap en my bedanking aangekondig sodat ek kon gaan verder studeer om my liefde vir sport uit te leef. Ek het besluit ek wil deel wees van die oplossing eerder as ‘n rusbankkritikus wat die heeltyd net sit en kla oor diskriminasie teen vroue in sport.”
Adom-Aboagye het as fakkeldraer vir geslagsgelykheid ‘n kommerwekkende neiging oor geldelike ondersteuning vir topatlete in Suid-Afrika bemerk terwyl sy navorsing vir haar meestersgraad by die Universiteit van Wes-Kaapland gedoen het. Hoewel vroueatlete se posisie ten opsigte van verteenwoordiging die laaste paar dekades verbeter het, was plaaslike vlakke besig om te daal. Dit het haar geïnspireer om haar navorsing oor vroue en sport voort te sit en sy het besluit om ‘n PhD te doen.
Nadat sy niemand kon kry wat in die sport-tema belangstel het nie, het Adom-Aboagye besluit om self iets aan die saak te doen. Sy het haar agtergrond in korporatiewe werwing gebruik en ‘n e-pos met haar navorsingsvoorstel die wêreld ingestuur. “Prof Cora Burnett van die Universiteit van Johannesburg, ‘n internasionaal-gerekende kundige oor die sosiologie van sport wat ook passievol is oor geslagsbillikheid in sport, het van my konsep gehou. Ek het in 2017 die PhD-paadjie saam met haar begin stap.” Adom Aboagye het uiteindelik ‘n DPhil in Sportbestuur behaal met die fokus op geslagsbillikheid en sportverwante beleide.
Adom-Aboagye sê sy sal ewig dankbaar wees vir die sterk vroue wat haar in haar akademiese loopbaan ondersteun en gementor het. “Prof Cora het my onder haar vlerk geneem toe niemand anders my potensiaal raakgesien het nie. Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het ook ‘n rol gespeel om my aan te moedig en te inspireer. Dié vroue is ‘n vergestalting van die idee van pay-it-forward deur leiding te gee aan opkomende vakkundiges en hul kennis te deel. Ek het in 2021 as ‘n postdoktorale genoot by die US aangesluit en nou is ek in ‘n posisie by die Sentrum vir Sportleierskap by Matie Sport om ‘n sinvolle verskil te maak.”
Adom-Aboagye voel sterk oor die uitbreiding van vroue se verteenwoordiging in afrigting- en leierskaprolle in sport. Sy beklemtoon die merkbare afwesigheid van vroueafrigters in sportsoorte wat deur mans oorheers word en sy beywer haar dat mans en vrou kragte snoer om geslagsgelykheid te bereik. Haar inspirasie is die konsep van “nego-feminisme” (afgelei van die woord negotiation) wat konstruktiewe onderhandelings tussen mans en vroue voorstaan om ongelykhede uit die weg te ruim.
“Dit is nodig dat mans aan boord kom, want daar is baie ruimtes wat ons net sal kan betree as mans vir ons die deure oopmaak. Ek en prof Cora is tans deel van ‘n piepklein groep akademici wat navorsing oor vroue in sport in Suid-Afrika doen. Navorsing is uiters belangrik, want sonder data om die bestaande diskriminasie teen vroue in sport te staaf, sal mense sê vroueatlete kla net en hulle is selfsugtig of gierig. Afgesien daarvan dat hulle buite sport moet werk, het vroue dikwels meer verantwoordelikhede as ma’s of versorgers as mans.”
In lande soos Engeland, Brasilië, Australië, Noorweë en Nieu-Seeland was vrouespelers reeds suksesvol in die stryd om gelyke betaling in sporte soos rugby en sokker te ontvang, maar Suid-Afrika is ten minste ‘n dekade agter ten opsigte van gelyke vergoeding, let Adom-Aboagye op.
Navorsing toon wanneer meisies meer vroue in afrigting- en leierskaprolle sien, dit hulle aanmoedig om ook te aspireer om dié rolle te beklee, verduidelik Adom-Aboagye. “In sokker het ons net ‘n handjievol vroue-afrigters op die hoogste vlak. Ons mees senior vroulike rugby-afrigter is die hulpafrigter van ons vrouespan. Vroue-afrigters verstaan hoe ‘n vrou se liggaam reageer op oefenlading en hoe om byvoorbeeld rondom menstruele siklusse te werk te gaan.”
Die media speel ‘n deurslaggewende rol om persepsies van vroue in sport te vorm, en daarom probeer Adom Aboagye om gereeld artikels en meningstukke te skryf om ongelykhede in sport uit te lig. “Ons moenie net in Vrouemaand of wanneer daar ‘n Wêreldbekertoernooi aan die gang is, op hierdie kwessies fokus nie. Die media behoort meer doelgerig te wees in die manier waarop hulle vroue in sport uitbeeld. Afgesien van die gebrek aan fokus op vrouesporte in nuusdekking, word vroueatlete dikwels as sekssimbole uitgebeeld of in emosionele terminologie beskryf.”
Sedert Adom-Aboagye die leisels by die Sentrum vir Sportleierskap oorgeneem het, het sy reeds merkwaardige vordering gemaak. Haar leierskap het ‘n uitbreiding in internasionaal-erkende navorsingsgenootskappe ingelui – altesame 19 – wat almal ‘n belangstelling in vrouesport het. “Van die beste en skerpste breine van regoor die wêreld bespreek ‘n wye reeks kwessies wat oorsigbestuur, sakebestuur, data-ontleding en tegnologie vir gestremdheidsafrigting in sport insluit,” sê sy trots.
Adom-Aboagye erken dit kan uitputtend wees om voortdurend vir gelykheid te veg, maar die wete dat sy moontlik ‘n verskil kan maak, inspireer haar.
As ‘n mentor is dít die ingesteldheid wat sy by studente kweek. “Fokus op jou drome. Dit maak nie saak hoe jy jou doel bereik nie. Iewers langs die pad sal iemand jou waarde raaksien en sal iemand in jou glo. Dit is wat met my gebeur het.”
Vir haar sal die grootste beloning wees om meer vroue in leierskapsrolle in sport te sien teen die tyd wat sy aftree, sê Adom-Aboagye. “Wanneer ek eendag oud en grys is, sal ek baie gelukkig wees indien ek ‘n verskil in ‘n jong meisie se lewe kon maak wat dalk as kaptein van die nasionale vrouesokker-, rugby- of krieketspan uitdraf.”
Danksy Adom-Aboagye se onvermoeide werk, is daar ‘n sterk moontlikheid dat toekomstige Banyana-Banyana-spelers eendag die dieselfde erkenning as hulle manklike eweknieë sal kry.