Akademiese publikasies is noodsaaklike verspreidingskanale waardeur navorsingsbevindinge aan wetenskaplikes oor die wêreld heen bekend gestel word. Boonop maak wetenskaplike navorsing ’n fundamentele deel van die hedendaagse kennisekonomie en samelewingsontwikkeling uit.
Ongelukkig bly Afrika agter ander wêreldlande wat gepubliseerde wetenskaplike navorsing betref. Die gebrek aan vrouedeelname aan die wetenskap en tegnologie bemoeilik hierdie kwessie. ’n Onlangse studie getiteld “Factors that affect scientific publication in Africa—A gender perspective” (faktore wat wetenskaplike publikasie in Afrika beïnvloed—’n genderbeskouing) neem die kwessies onder die loep en is toegespits op gender in die Afrika‑konteks.
’n Aanlyn opname wat in die navorsing gebruik word, is vooraf getoets in globale opnames wat in 2013 en 2015 uitgevoer is om data mee in te samel.
Skrywers wat die mede-outeur was van minstens een wetenskaplike referaat in ’n publikasie wat die Clarivate Web of Science™ van 2005 tot 2015 geïndekseer het, het in 2016 opnames ontvang. Altesaam 7 515 persone het geantwoord. Die finale steekproef vir die referaat, nadat die data opgeruim is, het 4 676 respondente behels.
Die studie het getoon dat vrouewetenskaplikes in Afrika aansienlik minder as hul manlike eweknieë publiseer, wat ooreenstem met ander studies oor die onderwerp. In teenstelling met mans, wat gemiddeld 2,6 artikels per jaar gepubliseer het, het vroue gemiddeld 1,8 artikels gepubliseer. Ongeag die inkomstevlak van die betrokke land, is hierdie genderongelykheid oor alle akademiese velde en institusionele tipes waargeneem.
Onderliggende oorsake
Die genderverskil in wetenskaplike publikasie is die gevolg van verskeie veranderlikes. Vroue is meer geneig as mans om gesins- en versorgingspligte te vervul, onder meer kinder- en bejaardesorg, wat hul tyd en energie vir studieaktiwiteite inperk.
Ondanks die vordering wat in onlangse jare gemaak is, het vroue steeds nie gelyke toegang tot skoolbywoning en opleiding nie. Vroue kry minder geleenthede vir vooruitgang, soos mobiliteit wat werk en studie betref.
Vroue het minder toegang as mans tot navorsingsbronne en ‑geleenthede vir medewerking, ingesluit fondse en toerusting, afgesien van die besteding van meer tyd aan fondsinsamelingsaksies.
Daarbenewens ondervind vroue institusionele struikelblokke soos gendervooroordele en stereotipes, wat hul deelname aan studieaktiwiteite beperk. In plaas daarvan dat vroue ten volle aan hierdie aktiwiteite deelneem, word hulle dikwels genoop om ondersteunende rolle in te neem.
Hierdie kwessies belemmer vroue se loopbaanvordering en kan die gehalte en betekenis van studiebevindinge in die gedrang bring.
Die bevindinge rakende die gebrek aan publikasies deur vrouenavorsers moet teen die agtergrond van die Afrikavasteland se kritiese probleme soos armoede, uitmergelende siektes en onvoldoende infrastruktuur beklemtoon word. Daarom is dit van die uiterste belang dat hierdie bevindinge op Internasionale Vrouedag, op 8 Maart 2023, onder die loep geneem word.
Omdat vroue in wetenskaplike publikasies onderverteenwoordig is, word hul sienings, vaardighede en bydraes dikwels geïgnoreer. Hierdie gendergaping kniehalter vroue se geleenthede op loopbaanvordering en beteken dat leemtes in professionele ontwikkeling en werkplekongelykhede voortduur.
Gendergebaseerde uitdagings wat vrouenavorsers in Afrika in die gesig staar moet dringend aangeroer word sodat alle navorsers, ongeag gender, toegang kan kry tot gelyke geleenthede om by wetenskaplike navorsing betrokke te raak en tot die bevordering van wetenskaplike kennis by te dra.
Gendergelykheid in die wetenskap en tegnologie kan aanleiding gee tot meer inklusiewe en vindingryke wetenskaplike studie, sowel as groter ekonomiese en sosiale vooruitgang.
Wat kan gedoen word?
Verskeie stappe kan gedoen word om die kwessie van genderverskille in wetenskaplike publikasie in Afrika aan te spreek en vorentoe te beweeg. Hoëronderwysinstellings en regerings kan beleide en programme, soos ouerskapverlof en buigsame werkskedules, in plek stel wat vroue se werkbevordering en werk-lewe-balans ondersteun.
Daarbenewens kan programme vir diversiteit en insluiting sowel as onderrig oor onbewustelike vooroordeel gebruik word om vooroordeel en diskriminasie in die werkplek te verminder.
Hoëronderwysinstellings behoort manlike en vroulike navorsers gelyke toegang te gee tot hulpbronne soos befondsing en studie-infrastruktuur.
Ten slotte is die bevraagtekening en transformasie van sosiale en kulturele norme en stereotipes wat vroue daarvan weerhou om beroepe in die wetenskap te volg van groot belang.
Dr Corlia Meyer is ’n nadoktorale navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET), in Suid-Afrika.
Prof Catherine Beaudry beklee die navorsingsleerstoel in bestuur en ekonomie van innovasie aan die Polytechnique Montréal, in Kanada.
Prof Heidi Prozesky, medeprofessor aan die Universiteit Stellenbosch se SENWET en lid van die DWI-NNF Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskapsmetriek en Beleid oor Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (SciSTIP), het ’n gedeelte van die navorsingsbefondsing ontvang.
Proff Beaudry en Prozesky was mede‑outeurs, saam met Carl St-Pierre (Polytechnique Montréal) en Seyed Reza Mirnezami (Polytechnique Montréal en Sharif University of Technology, Iran), van “Factors that affect scientific publication in Africa—A gender perspective” (faktore wat wetenskaplike publikasie in Afrika beïnvloed—’n genderperspektief).