Die US-alumna deel haar Londen-huis met tannie Glen en hulle natsnoet, Daisy-Mae. Mariaan en vyf ander Maties – almal deel van die US se Londen alumni-tak – het op 11 September 2022 die Londen-na-Brighton-fietstoer aangedurf ten bate van die #GradMe-projek, ’n prioriteitsinisiatief van die Bridge the Gap Jaarfonds wat studente finansieel ondersteun. “Ek het toe ek 12 was ’n fiets as verjaardagpresent van my ouers gekry. Dit het nie eens ratte gehad nie – nog met so ’n pienk mandjie voor.
“Ek het ingestem om die fietstoer aan te pak, want dis vir so ’n goeie doel. Maar toe besef ek skielik ek sal vir my ’n fiets moet gaan koop, sonder ’n benul waar om te begin!”
Sy sê die fietstoer was oorweldigend, maar “ek het ja gesê, so ek moes deurdruk”. Die tog van 55,2 myl (88,3 km) het in mistige weer begin, maar uiteindelik “heel goed afgeloop”. Almal het dit voltooi, en dit was ’n lieflike dag, al is sy volgens haar die volgende dag “hinkepink” kantoor toe.
Mariaan is ’n senior bestuurder by die rekenmeestersfirma Mazars. Boonop koördineer sy die Stellenbosse Vroue-alumnae Netwerk (SWAN) in Engeland. Trouens, sy het onlangs sowat R200 000 ingesamel vir SWAN se projek #EndPeriodPoverty met ’n inspirerende motiveringsbrief aan die Mazarstopbestuur wat hulle oortuig het om die projek te ondersteun.
“Ek behartig opleiding vir ons firma. Leer, ontwikkeling en bemagtiging van mense is so ongelooflik belangrik, en tog kan baie vroue nie klas bywoon nie omdat hulle nie sanitêre produkte het nie. Daardie wete het my gebreek, want ek weet hoeveel deure het vir my oopgegaan as gevolg van die opleiding en opvoeding wat ék gekry het.”
Mariaan het haar BRek-graad aan die US verwerf en daarna haar Honneurs deur die pos voltooi nadat haar pa in 2011 met kanker gediagnoseer en later oorlede is. Sy het ander rekeningkunde-, oudit- en finansieskursusse ná haar studie aan die US voltooi,
maar sê sy bly in wese ’n Matie.
“Die US het soveel deure vir my oopgemaak, en ek het soveel mense van allerhande ouderdomme ontmoet. Dit het my ook uit my
dop laat kruip. Ek het gesien daar is méér om te doen, meer blootstelling, soveel geleenthede; jy kon wees wie jy ook al wou wees,”
onthou sy. “Dít is ook hoekom ek by soveel universiteitsaktiwiteite betrokke was – van die huiskomitee tot assistentkoshuishoof, en
sameroeper van die Wimbledonkluster.”
Haar gesin het toe sy 10 was van Sasolburg na Worcester en later na Wellington getrek. “Hiér is ek aan die US blootgestel. Ek het altyd geweet ek gaan daar studeer.” Sy het ’n jonger broer en suster, en ook twee “kitssussies” ná haar ma se tweede huwelik.
Haar twee oumas het ’n belangrike rol in haar studie vervul. “My een ouma was eintlik maar die inspirasie waarom ek ’n rekenmeester geword het. Op haar dag kon sy nie gaan studeer nie, want dit was nie die samelewingsnorm vir vroue nie.” Haar ander ouma het
finansieel gehelp. “Toe my pa so siek was in my laaste jare op universiteit het sy ’n groot rol gespeel. Dit was baie spesiaal.”
Mariaan speel hokkie, draf, is ’n amateurfotograaf, en kuier graag saam met vriende in die Londense middestad. Sy verwonder haar aan die EuroStarsneltrein “wat jou binne twee uur van Londen na Parys neem!”.
Sy het onlangs Britse burgerskap ontvang, maar sê: “Suid-Afrika sal altyd my huis wees. My familie is daar. Dis waar ek grootgeword het. Daar is nog baie potensiaal in die land.” En intussen wys sy graag vir Suid-Afrikaners waar hulle die lekkerste biltong in Londen kan koop.
- Skrywer: Michelle Linnert-Jansen
- Hierdie is die eerste uitgawe van ons tydskrif vir Matie-alumni, en dit weerspieël die stories van vele mense met unieke geeskrag.
Is jy op soek na ’n paar oplossings vir die lewe, of het jy eenvoudig nodig om weer te hoor hoe teëspoed in geleenthede omskep kan word? Lees dan gerus verder, Matie!
https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/always-a-matie-202301_afri/