Verpleegpersoneel lewer ‘n belangrike diens aan bejaardes in langtermyn-versorgingsfasiliteite (LTCF’e) deur toe te sien dat hulle die regte medikasie ontvang en gesond bly. Maar hierdie verpleegkundiges beleef verskeie uitdagings in hul taak om die bejaardes te versorg.
“Ons het gevind die verpleegkundige werksmag in LTCF’e word ouer, hul opleiding is verouderd, die werklas word al hoe groter en hulle het ‘n gebrek aan inligtingtegnologievaardighede,” sê Emerentia Nicholson en Anneleen Damons van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Verpleeg- en Verloskunde in aanloop tot die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges (IDV) op 12 Mei. Hulle het ‘n studie gedoen oor die ouderdom, ondervinding en opleiding, asook oor die vaardigheidsmengsel van verpleegkundiges wat bejaardes in LTCF’e in die Wes-Kaap versorg en die uitwerking daarvan op hoe hulle medisyne toedien.
Die bevindings van hul studie wat onlangs in Health SA Gesondheid verskyn het, is veral toepaslik aangesien die 2022-tema van IDV, Verpleegkundiges: ‘n Stem om te lei – belê in verpleegkunde en respekteer regte ten einde wêreldwye gesondheid te verseker, volgens die Internasionale Raad op Verpleging die behoefte aan beskerming, ondersteuning en belegging in die verpleegberoep beklemtoon ten einde gesondheidstelsels wêreldwyd te versterk.
Van die 203 verpleegkundiges – geregistreerde verpleegkundiges (RN’s), ingeskrewe of stafverpleegsters (EN’s) en hulpverpleegsters/assistente (ENA’s) – wat genooi is om aan die studie deel te neem, het 123 ‘n self-geadministreerde vraelys voltooi.
Die navorsers wys daarop dat die gemiddelde ouderdom van die verpleegkundiges 51,31 jaar was, met die meerderheid wat tussen 51 en 60 jaar oud was – dus naby aan aftrede. ‘n Paar was tussen die aftree-ouderdom van 61 en 70 jaar. Sommiges werk al vir nege jaar of meer in LTCF’e, terwyl ander minder as vier jaar se werksondervinding het.
“Die profiel van die verpleegkundiges in hierdie studie dui op ‘n ouer arbeidsmag met ervaring in die versorging van ouer persone. ‘n Positiewe impak van ‘n meer verouderende verpleegwerkmag met werkservaring is dat hul vaardighede en kennis toeneem namate hul werkservaring toeneem. Gevolglik is hulle minder geneig om foute te maak wanneer hulle medikasie toedien (of medikasiefoute maak).
“Aan die negatiewe kant ervaar ouer verpleegkundiges ‘n afname in fisieke vermoëns en sukkel hulle om by te bly met die werkseise, administratiewe werk en nuwe tegnologie. Hulle het ook ‘n groter risiko om ernstige siektes op te doen weens Covid-19.”
Die navorsers sê die verpleegkundiges het aangedui dat verouderde medikasie-opleiding, druk om medisynerondtes betyds klaar te maak, ‘n swaar werklas, gebrekkige kennis oor die werking en newe-effekte van medikasie en ‘n gebrek aan opleiding van die algemene redes vir medikasiefoute is.
“Nog ʼn rede vir foute is ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid deur verpleegkundiges soos om nie te teken vir medikasie wat wel toegedien is nie, om nie redes aan te teken vir medikasie wat nie toegedien is nie, weglating van tye vir soos-nodig-medikasies (pro re nata), geen getuie beskikbaar om te teken vir veranderings in toedieningsrekords van medikasie nie, en om nie die werklike hoeveelhede aan te teken nie.”
Die verpleegkundiges het ook aangedui dat hul verouderde medikasie-opleiding ‘n invloed op die prosesse het wat hulle volg wanneer hulle medikasie toedien, voeg die navorsers by.
“Die meerderheid RN’s het jare gelede ‘n diploma in verpleegkunde behaal, met ‘n beperkte aantal wat verder studeer. Slegs enkeles het die verpligte ses maande lange indiensopleiding vir medikasie deurloop soos deur die Departement van Gesondheid voorgeskryf word.
“Negentien persent van die respondente het aangedui dat hulle medikasie-opleiding gedurende die vorige jaar ontvang het, terwyl 30,1% hierdie opleiding tussen een en vyf jaar gelede ontvang het, en net meer as een-derde het hul laaste medikasie-opleiding meer as vyf jaar gelede deurloop. Sommige het daarop gewys dat hulle nie opleiding oor die uitwerking, newe-effekte van algemene medikasie en oor voorafondersoeke vóór die toediening daarvan ontvang het nie.
“Die meerderheid RN’s het aangedui dat hulle altyd weet wat die doel van die medikasie is, terwyl 30% somtyds weet wat die doel is. Van die EN’s het 45,7% altyd geweet en 54,3% soms geweet wat die doel van die medikasie is wat hulle toedien. In teenstelling hiermee het al die ENA’s aangedui dat hulle net somtyds weet wat die doel van die medikasie is.”
Die navorsers sê die verpleegkundiges se reaksie op vrae oor inligtingtegnologievaardighede, veral oor die gebruik van rekenaars, beklemtoon die behoefte aan verbeterde opleiding.
“Net ‘n klein hoeveelheid verpleegkundiges sê hulle het redelike of baie ervaring in die gebruik van rekenaars. Die meeste was óf baie onervare of het ‘n gemiddelde kennis gehad oor hoe om ‘n rekenaar te gebruik. Die meerderheid ENA’s en net meer as een-derde van die EN’s gebruik nooit ‘n rekenaar by die werk nie. Van die RN’s gebruik 75% daagliks ‘n rekenaar by die werk. Hulle gebruik dit hoofsaaklik om pasiënte se inligting en rekords te versamel.
“Verpleegkundiges het inligtingtegnologievaardighede nodig aangesien gesondheidsorgpraktisyns toenemend tegnologie en toestelle soos rekenaars, selfone en sagtewaretoepassings gebruik. Toereikende opleiding in inligtingtegnologie kan tot verbeterde besluitnemingsvaardighede en beter bekwaamheid lei.”
Volgens die navorsers kan die bevindings van hul studie as ‘n riglyn dien om suksessieplanne, werwingsprosedures, ontwikkeling en opleiding van verpleegkundiges te skep en om kliniese praktyke te verbeter.
- Bron: Nicholson, E.C. & Damons, A., 2022. Is medication administration in the elderly influenced by nurses’ demographics in South Africa? Health SA Gesondheid 27(0). DOI: https://doi.org/10.4102/hsag.v27i0.1750