Om uitnemend te wees, is tweede natuur vir die mense by Maties Sport. Dit is waarom die Universiteit Stellenbosch (US) se handelsmerkvernuwing by dié entiteit so suksesvol was, sê Kimara Singh, Bestuurder: Media en Kommunikasie by Maties Sport. Sedert hulle in 2021 by die US aangesluit het, is Singh en die Maties Sport-span uitstekende ambassadeurs vir die Universiteit se nuwe voorkoms.
“Dit was ‘n opdraande leerkurwe, maar ‘n lonende reis om almal aan boord te kry,” sê Singh oor haar betrokkenheid die afgelope twee jaar om Maties Sport by te staan om hulle met die US se nuwe handelsmerk te belyn.
In die akademie weet ons korrelasie is nie oorsaaklikheid nie, maar jy kan nie anders nie as om te wonder oor die verband tussen US se sportspanne se onlangse prestasies en US se nuwe voorkoms nie. Die afgelope jaar was skouspelagtig vir Maties Sport – van die manjifieke oorwinnings van ons netbal- en krieketspanne by die Varsity Sportfees tot die USSA- (Universiteitsport Suid-Afrika-) sukses waar ons mans- en vrouehokkiespanne goud verower het en beide ons mans- en vrouerugbyspanne geseëvier het. Al hierdie oorwinnings is behaal in die US se pragtige reeks sportklere waarop die nuwe Maties Sport-logo pryk.
Singh se verantwoordelikhede sluit handelsmerkbelyning in en sy was instrumenteel om die US se nuwe visuele elemente op advertensieborde rondom die Coetzenburg-stadion, sportklere, klere en Maties Sport se webwerf aan te bring. “Aan die begin was dit ‘n bietjie skrikwekkend, maar gelukkig het ons as ‘n span saamgewerk en baie ondersteuning van die handelsmerkspan in die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking ontvang,” sê die sportmal-mediabestuurder. Belangrike wedstryde en atletiekbyeenkomste word gereeld vanaf Coetzenburg uitgesaai, wat beteken groot gehore word aan die nuwe US-handelsmerk blootgestel.
Die ronde Maties Sport-logo het deur ‘n verfyningsproses gegaan en afgesien van alle US-sportklere, pryk die logo ook nou op alles van skryfbehoeftes tot sosialemediaplasings en -plakkate, verduidelik Singh. “Ons het ons bes gedoen om te verseker dat alle personeel toegang het tot die regte gereedskap en instrumente. As iemand hulp nodig het met ‘n e-poshandtekening of ‘n briefhoof, is ons altyd beskikbaar om te help.” Singh het aan die begin van die jaar ‘n werkswinkel gereël om Maties Sport se personeel te help om sosiale media en bemarking, asook die nuwe visuele materiaal onder die knie te kry. “Ek het die US se handelsmerkspan genooi om met ons te kom praat en ons deur die verskillende aspekte van die implementering van handelsmerkelemente te lei. Dit was baie nuttig om die handelsmerkstrategie te verstaan en hoe elke stukkie kommunikasie met die Universiteit se wese ooreenstem.”
Hier is ‘n paar handelsmerkwenke wat Maties Sport handig te pas gekom het:
- Om spanlede te hê wat almal inkoop in die implementering, help baie. Om te weet wat om nie te gebruik nie, is net so belangrik vir die nuwer materiaal wat beskikbaar is.
- Om ‘n lêer op MS Teams vir al julle template te hê wat maklik toeganklik is vir almal in die span/afdeling/departement .
- Ons het die Pantone®-universiteitskleure op ons muur in die kantoor en dit help om ons daaraan te herinner dat ons daardie kleure in al ons ontwerpelemente gebruik. Ons span maak ook seker dat hulle die regte logo’s gebruik wanneer enigiets uitgestuur word en dit word altyd eers na die media- en kommunikasie-eenheid gestuur om seker te maak alles is reg.
- Die heel nuutste handelsmerkhandleiding is ook onlangs uitgestuur en ons bly op hoogte van al die bywerkings wat deur die handelsmerkspan verskaf word, soos byvoorbeeld bygewerkte template.
- Laastens help dit baie om die handelsmerkspan te nooi om ‘n aanbieding vir jou departement oor die handelsmerk-ontplooiing te kom doen, en om ook met hulle in aanraking te bly oor goedkeurings, hetsy groot of klein – dit mag miskien ‘n langdradige proses wees, maar dit is altyd goed om te weet jy doen dinge reg, en indien nie, is hulle altyd bereid om te help.
Besoek die US se handelsmerkwebblad by https://www.sun.ac.za/english/Pages/SUBrandIdentity.aspx vir meer inligting.