Op 1 Februarie 2014 het Prof. Louise Warnich geskiedenis gemaak toe sy as die eerste vroulike dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch aangestel is.
Vir die afgelope dekade het sy die fakulteit se personeel en studente deur stormagtige vaarwaters gelei, waaronder die COVID-pandemie, die Fees-must-fall studente proteste, Dag Zero, beurtkrag en verreikende veranderinge in die Nasionale Navorsingstigting se befondsingsmodel.
Sy is destyds deur kollegas in die natuurwetenskappe fakulteit genader om vir die posisie aansoek te doen terwyl sy visedekaan en waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe was: “Ek het dit toe as ‘n nuwe uitdaging beskou. Ek het besef dit bied nuwe geleenthede om op strategiese vlak ‘n rol te speel in die ontwikkeling van personeel en studente in die natuurwetenskappe fakulteit.”
Sy sê die fakulteit het toe reeds ‘n uitstekende bydrae tot die universiteit se onderrig- en navorsingsuitsette gelewer: “Ek het egter besef ons is te aangewese op befondsing van die NNS en het daaroor gewaarsku. Tog, toe die befondsingsmodel verander, het dit ons selfs harder getref as wat verwag is, veral omdat dit saamgeval het met die tot einde kom van meer as een Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel (SARCHI) en Sentrums van Uitnemendheid.
“Gelukkig het ons deur hierdie en ander uitdagings gekom vanweë die uitstekende samewerking van personeel en studente en hul ‘kan-doen’-houding,” voeg sy by.
Haar raad vir toekomstige dekane?
Dit sou dieselfde raad wees as dié van haar mentor, wyle prof. Doug Rawlings, naamlik: “Stel net die regte mense aan, ondersteun hulle en laat hulle verder met rus – hulle sál floreer!”
Sy glo daar is baie meer geleenthede as uitdagings in die hoëronderwyssektor: “Daar is soveel wat gedoen kan word, veral in Suid-Afrika en die Afrika kontinent. Ons het unieke geleenthede en uitstekende mense. Maar ondervinding het my geleer dat min geleenthede eenvoudig in ‘n mens se skoot val. Jy moet jou oë oophou, daardie geleentheid aangryp wanneer dit kom, en dan hard werk aan die suksesvolle aflewering daarvan.”
Deur die jare het sy hierdie benadering meer as een keer gevolg. In die kweek van ‘n kultuur van innovasie en entrepreneurskap, byvoorbeeld, lei die Fakulteit Natuurwetenskappe tans die telbord met die uitrol van nege uitwenmaatskappye sedert 2018 en ʼn groeiende lys van patente.
Met die besef van die toenemende belangrikheid van bioinformatika in moderne biologie, het sy die proses gelei om ‘n Sentrum vir Bioinformatika en Rekenaarbiologie (CBCB) te stig. Met die status van ‘n akademiese departement strek die CBCB se werk nou suksesvol oor drie fakulteite.
Ten spyte van baie uitdagings, het die fakulteit ‘n redelik konstante navorsingsuitset gehandhaaf en ‘n rekordgetal van 68 PhD-studente in 2019 gelewer. In 2022 is die eerste gestruktureerde MSc in Masjienleer en Kunsmatige Intelligensie in die Toegepaste Wiskunde-afdeling gevestig. In die gees van deurlopende programvernuwing en die aanspreek van die behoeftes van die arbeidsmark, is nuwe voorgraadse fokusareas in die velde van toegepaste medisinale chemie, biowiskunde en biomediese wiskundige wetenskappe ingestel, asook ‘n BSc in Rekenaarwetenskap en die interdissiplinêre Baccalaureus in Datawetenskap-graad.
Prof. Warnich is ook trots daarop dat sy ‘n aantal goeie aanstellings en ‘n mate van vordering met diversiteit gemaak het. Die aantal vroulike akademici het toegeneem van 20% in 2015 tot 41% in 2023, insluitend die eerste Swart en Kleurling vroulike professore.
Ander hoogtepunte sluit in nouer samewerking met die Natuurwetenskappe Studentekomitee, die bevordering van wetenskapkommunikasie deur inisiatiewe soos die Stellenbosch Wetenskapskafee, asook ‘n eeufeesgala in 2018 om die koffietafelboek, ʼn Besonderse Denkwyse: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, 1918-2018, te vier en bekend te stel. Die boek bied ʼn lewendige en treffende blik op ʼn eeu van die US se natuurwetenskaplikes en hul besonderse denkwyse.
In haar eerste aanbieding aan die Fakulteitsraadvergadering in 2013 het sy ‘n foto van ‘n sneeustorting gewys na ʼn voorspelling dat Massive Online Open Courses (MOOCs) die hele wese van universiteite soos ons dit ken, sal ontwrig. “Tien jaar later, en ons weet dat alhoewel MOOCs ‘n plek het in hoër onderwys, dit nie alles ontwrig het nie. Kunsmatige intelligensie lyk nou na ‘n soortgelyke uitdaging, maar ek is positief oor die bydrae wat KI tot hoër onderwys kan lewer sonder om alles noodwendig te ontwrig. Net die tyd sal leer!”
Op die ou end verg dit “duidelike leierskap, ‘n platform vir uitnemendheid en ‘n innoverende benadering tot uitdagings en geleenthede as jy aan die stuur van hierdie fakulteit wil bly”, sluit sy af.
Prof. Ingrid Rewitzky, Visedekaan: Onderrig en Leer, het die afgelope tien jaar ten nouste saam met prof. Warnich gewerk: “Haar eerlikheid, regverdigheid, deernis, lojaliteit en passie vir haar werk was gedurende haar ampstermyn ‘n sterkpunt en het vertroue by haar kollegas ingeboesem. Namens die Fakulteit Natuurwetenskappe wil ek ons dank uitspreek vir haar beduidende bydrae om die groei en ontwikkeling van personeel en studente te lei, en dat sy die fakulteit na groter hoogtes gelei het ten spyte van uitdagings buite ons beheer.”
Prof. Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, sê terwyl sy eers sedert September 2022 saam met prof. Warnich begin werk het, het hulle saamgewerk op groot projekte en nasionale inisiatiewe. Dit sluit in die verwesenliking van die vestiging van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe by die US, asook samewerking met die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe om die Duitse Navorsingsleerstoelprogram te vestig (danksy ondersteuning van die Alexander von Humboldt-stigting en die Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing).
“Die Fakulteit Natuurwetenskappe is inderdaad een van die mees aktiewe fakulteite in terme van innovasie en entrepreneurskap,” voeg sy by.
Prof. Warnich sal nou terugkeer na haar akademiese tuiste in die Fakulteit AgriWetenskappe, waar sy spesiale projekte oor fakulteite heen sal aanpak, soos opleiding vir nuwe departementshoofde, hersiening van praktikums in die biologiese wetenskappe en vele meer.
Laastens, maar nie die minste nie, hoop sy om ‘n erfenis na te laat in die vorm van die Katalisfonds vir Natuurwetenskappe om nagraadse studente te ondersteun. Terwyl daar reeds R13 miljoen in die fonds is, sal die eerste beurse eers uitbetaal kan word wanneer die fonds R40 miljoen bereik – klik hier om tot daardie doelwit by te dra.
Hopelik sal hierdie hardwerkende dekaan nou minder tyd agter haar lessenaar bestee en meer tyd opsy kan sit vir stokperdjies soos lang staptogte in die natuur en reis.
Ons wens haar die allerbeste toe in haar nuwe inisiatiewe en in die reis vorentoe.
- Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)