Die grootste studie wat tot nog toe onder ʼn vrylopende populasie renosters onderneem is, het onthul dat sowat een uit elke sewe renosters in die Kruger-wildtuin (KNP) tekens toon van infeksie met Mycobacterium bovis (M. bovis) – die patogeen wat beestuberkulose (bTB) veroorsaak.
In dié studie, wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Dieretuberkulose-navorsingsgroep, Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) en die San Diego Zoo Wildlife Alliance in die VSA onderneem is, is monsters van 437 renosters getoets wat van 2016 tot 2020 in die KNP versamel is. Dit het ʼn geraamde voorkoms van M. bovis-infeksie van 15,4% in swart- en witrenosterbevolkings in die park getoon.
Al wek dié navorsingsresultate kommer, is die bewyse van die studie van deurslaggewende belang vir die doeltreffende bewaring van die reeds kwesbare renosterpopulasie. Boonop het wetenskaplikes verbonde aan die Dieretuberkulose-navorsingsgroep in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ʼn nuwe diagnostiese toets ontwikkel om M. bovis in renosters op te spoor, wat bewaringspogings grootliks sal ondersteun.
Besmet, maar asimptomaties
Die navorsers benadruk dat die teenwoordigheid van infeksie nie beteken dat die diere siek of sterwend is nie. Prof Michele Miller, hoof van die Dieretuberkulose-navorsingsgroep wat ook die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Diere-TB beklee, sê hul navorsing toon die meeste van die renosters kan die infeksie in bedwang hou as hulle andersins gesond is.
“Dit kan vergelyk word met mense wat met Covid-19 besmet is of latente TB het, maar asimptomaties is. Die besmette renosters huisves die bakterieë, maar hul immuunstelsel hou dit onder beheer. Hulle verloor nie gewig nie, hoes nie en as jy na ʼn groep van 400 renosters kyk, sou jy nie kon sê watter van hulle besmet is nie. Hulle kan potensieel jare lank met die infeksie lewe as dit onder beheer gehou word.”
Dr Peter Buss, Senior Veeartsenybestuurder in die KNP se Veeartseny- en Wildlewedienste, voeg by dat daar tans geen bewyse is dat TB enige impak op die renosterpopulasie sal hê nie. “Die renosters word aan die organisme blootgestel en hulle toon ʼn immuunrespons, maar hulle word nie siek nie en gaan nie daaraan dood nie. Ons weet byvoorbeeld dat TB in ons leeus voorkom en dat individue daaraan sal sterf, maar as jy na die populasievlak van die siekte kyk, lyk dit of die leeus goed vaar en of hul getalle redelik stabiel bly.”
Die outeurs benadruk voorts dat die bevindings nie juis ʼn verrassing is nie omdat TB in minstens 15 ander spesies in die KNP voorkom, maar dat hul navorsing baie positiewe implikasies vir SANParke se renosterbewaring- en bestuurstrategie inhou.
“Dit lyk nie of hierdie patogeen die gesondheid van individuele renosters drasties raak nie, maar die navorsing het wel betekenisvolle implikasies vir bewaringsbestuursbesluite. Die TB-toetsing van KNP-renosters wat vir verskuiwing vir bewaringsdoeleindes geoormerk is, kan vertroue verhoog dat hulle die minimum risiko vir ander vatbare individue by hul bestemmings inhou,” verduidelik Rebecca Dwyer, hoofouteur van die studie en ʼn PhD-kandidaat in die Dieretuberkulose-navorsingseenheid.
Risikofaktore
Die studie, wat vandeesweek in die gesaghebbende Amerikaanse wetenskapsjoernaal PNAS (Proceedings of the National Academy of Sciences) gepubliseer is, het nabyheid aan buffeltroppe (witrenosters) en die jaar waarin die monster geneem is (swartrenosters) – wat met droogtetydperke gepaard gegaan het – as risikofaktore vir M. bovis-infeksie geïdentifiseer.
Die besmetting was wyd verspreid, maar ʼn betekenisvolle tros gevalle is gevind naby die KNP se suidwestelike grens met die omliggende Mpumalanga-provinsie, waar hoofsaaklik met veetroppe geboer word wat histories met die oorspoel van M. bovis na wildlewe in die KNP, veral buffels, geassosieer word.
Belang
“Omdat Suid-Afrikaanse renosters deur stropery, habitatverlies en droogte bedreig word, is dit van sleutelbelang om hulle te kan verskuif na vestings waar hulle veilig is en hul genetiese diversiteit bewaar kan word,” sê Miller. “Maar TB is ʼn beheerde veterinêre siekte en toe ons navorsingsgroep in 2016 in vennootskap met SANParke TB in Kruger-renosters gevind het, het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling bewegingsbeperkings ingestel om te keer dat die infeksie na ander populasies versprei.”
Hierdie beperkings het ʼn hindernis geskep vir die verskuiwing van renosters na ander nasionale of private reservate en het ʼn betekenisvolle impak op die bewaring van die spesies, omdat die KNP histories ʼn belangrike populasiebron vir ander bewaringsvestings in Suid-Afrika en ander Afrika-lande is.
Die oplossing was om met ʼn toets vorendag te kom om besmette diere te identifiseer voor hulle verskuif word om siekte-oordrag te voorkom. Volgens dr Wynand Goosen, Wellcome International-opleidingsgenoot in die Dieretuberkulose-navorsingsgroep, is die siftingstoets wat in hul KNP-studie gebruik is, in 2019 deur die Dieretuberkulose-navorsingsgroep geldig verklaar en onlangs deur die Departement vir gebruik in KNP-renosters goedgekeur (sien inligtingskassie hieronder).
ʼn Bestuurstrategie wat ʼn kwarantynprotokol en ʼn toetsskedule behels, is in samewerking met SANParke opgestel en is goedgekeur. “As ons nou renosters uit die Kruger wil begin verskuif, beskik ons oor die opsie om hulle in kwarantyn te plaas en te toets en daarna uit te stuur,” sê Buss.
Dwyer voeg by: “Die bevindings van hierdie studie is van betekenisvolle belang vir widbewaring – nie net van renosters nie, maar van talle ander spesies in hierdie konteks. Dit toon dat die verspreiding van patogene in stelsels met veelvuldige gashere belangwekkende gevolge vir die bewaring van verskillende spesies en van die ekostelsel as geheel het.”
Die pad vorentoe
Dr Carmel Witte, ʼn kwantitatiewe epidemioloog by die San Diego Zoo Wildlife Alliance en senior outeur van die studie, benadruk dat die uiteindelike gesondheidsuitwerking van bTB op populasievlak tans onbekend is. “TB is ʼn siekte wat neig om oor lang tydperke te manifesteer en wanneer jy ʼn aansteeklike siekte vererger met stogastiese gebeure soos klimaatsverandering en ongeëwenaarde mortaliteit weens die stroop van bedreigde diere, wek dit kommer.
“Voortgesette waarneming van renosters en ander diere kan ons help om die langtermyn-impak van hierdie siekte in wilde diere te verstaan, asook om katastrofiese populasieverliese en verdere siekteverspreiding te voorkom.”
Goosen benadruk die belang van die verdere ontwikkeling van diagnostiese instrumente en van ʼn ‘Een Gesondheid’-TB-benadering. “Al is ons navorsing uiters belangrik uit ʼn dierebewaringsperspektief, is dit net so belangrik uit ʼn menslike gesondheidsrisikoperspektief. Om die volgende pandemie in mense te vermy sal lewende hawe en wilde diere aktief vir verskeie aansteeklike patogene met soönotiese potensiaal gemonitor moet word. Dít vereis gepaste diagnostiese instrumente wat vinnig en akkuraat is. Navorsing in alle vatbare spesies is van deurslaggewende belang vir die ontwikkeling van sulke instrumente.”
BYKOMENDE INLIGTING
Meer oor die diagnostiese toets wat in die bTB-studie gebruik is
Die ontwikkeling is gebaseer op ʼn bloedtoets wat vir TB-bespeuring in mense gebruik is.
Dit is ʼn verbetering op tradisionele diagnostiese metodes wat kultuur gebruik, omdat dit op die immuunreaksie gebaseer is.
Die hele stelsel is ʼn gemodifiseerde kommersiële toets wat standaardisering verseker.
Dit is eenvoudig vir gebruik in die veld en kan gereproduseer word.
Die Dieretuberkulose-navorsingsgroep het gedurende baie jare se navorsing toetse ontwikkel wat vir Afrika-wildspesies gebruik kan word. Daar is ʼn aanvraag by veeartse wêreldwyd vir beter toetse omdat slegs beperkte toetse vir die diagnosering van TB in wilde diere tans beskikbaar is. Om ʼn paar spesies te noem: Afrika-buffels, Afrika-olifante, Afrika-leeus, jagluiperds, luiperds, wildehonde, seekoeie, bobbejane en meerkatte.
TB in ander KNP-spesies
Volgens die navorsers is die verspreiding van M. bovis-infeksie in KNP-renosters soortgelyk aan dié wat vir ander spesies in die park aangemeld is. ʼn Oorsig van buffels in 1991-’92 het byvoorbeeld wydverspreide bTB in die sentrale en suidelike streke van die park getoon, met ʼn voorkoms van tot 67% in individuele troppe. ʼn Latere studie (2012/’13) het ʼn algehele infeksievoorkoms van 44% in leeus in dieselfde areas getoon. Sodanige omvattende infeksie word toenemend waargeneem in spesies soos vlakvarke, wildehonde en olifante, met gevalle wat tot op hede in meer as 15 spesies geïdentifiseer is. Al hierdie bevindings tesame dui daarop dat die oorspoel van bTB nie ʼn nuwe gebeurtenis is nie en ondersteun die behoefte aan voortgesette bTB-waarneming oor spesies heen om siekterisiko en bewaringsimpak deurlopend te assesseer.
Hoekom renosters verskuif word
Die KNP was ʼn bron van renosters vir ander reservate wat nuwe populasies begin het, of om hul genetiese diversiteit te bewaar. Dié strategie is aanvaar omdat renosters voor die begin van stropery so goed in die Kruger-wildtuin gevaar het, verduidelik Miller.
“As ʼn ramp ʼn geïsoleerde populasie van ʼn bedreigde spesie raak, kan daardie spesie verlore gaan. Om daardie risiko te vermy, wil jy nie al die diere in een plek hê nie en word hulle na veelvuldige liggings verskuif. Een van daardie risiko’s is stropery. Dit is dikwels makliker om die veiligheid van renosters in kleiner reservate te bestuur as in ʼn enorme, komplekse park. Deur renosters na ander liggings te verskuif sal ons verseker dat daar in die toekoms teelpopulasies is, selfs al duur die stroopbedreiging in die Kruger-wildtuin voort.”
Hou bTB ʼn bedreiging vir mense in?
Ofskoon mense wel met bTB besmet kan word, gebeur dit gewoonlik slegs wanneer hulle besmette (ongekookte) diere-organe hanteer of ongepasteuriseerde melk drink. Anders as met siektes soos Covid-19, kan mense TB net deur lang, nabye kontak opdoen en sal dit nie gebeur as hulle die KNP besoek nie, benadruk Miller.
Al het die meeste mense nie die soort interaksie met renosters wat ʼn risiko vir die opdoen van M. bovis inhou nie, benadruk die studie volgens Witte die voortgesette potensiaal dat patogene op die koppelvlak tussen mense-huishoudings en diere-wildlewe van diere na mense (en van mense na diere!) kan oorspoel.
Volgens Goosen het TB soortgelyke gevolge vir mense en ʼn klomp dierespesies, maar tóg word gevalle in mense en diere gewoonlik as afsonderlike probleme behandel. ʼn Een Gesondheid-benadering vir TB is dus geregverdig, met beter waarneming van soönotiese mikobakterieë in mense, lewende hawe, wildlewe en hul omgewing dwarsdeur Suid-Afrika deur verskillende nuwe tegnologieë te gebruik.
Voortgesette werk in die KNP
Volgens Buss lê baie werk aan TB nog voor, veral wat die epidemiologie betref en spesifiek op ʼn populasievlak. “Al is TB dalk al 60-70 jaar in die KNP teenwoordig, sal dit steeds as ʼn relatiewe nuwe siekte beskou word. Omdat TB so stadig manifesteer, reken ons die siekte druk homself nog op ʼn populasievlak uit en moet ons nog die een of ander soort ekwilibrium met die siekte bereik – en ons weet bloot nie waar dit is nie.
“Ons sien dalk nie tans veel gebeur nie, maar dit is baie moeilik om die toekoms te voorspel. Dit sal regtig help om vooraf ʼn idee van die potensiële impak van hierdie siekte te hê as van ons vereis word om dit te bestuur. En dis die geval vir álle diere, nie net renosters nie.”
Voorkoms in ander parke en reservate?
Volgens Buss is die KNP tans die enigste nasionale park waar TB by renosters gediagnoseer is. “Die probleem is gelukkig tans tot die KNP beperk. Maar ons sal dit beslis graag so wil hou vir die ander nasionale parke.”
Volg hierdie skakel om die volledige artikel in die PNAS te lees: https://www.pnas.org/doi/pdf/10.1073/pnas.2120656119
Foto-onderskrif: Prof Michele Miller (tweede van regs) samel bloedmonsters in van ‘n witrenoster in die KNP.