Prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, het die onderstaande toespraak by die gradeplegtigheid van die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika gelewer.
ʼn Paar weke gelede het ʼn pasiënt my kom spreek. In 2017 het hy ʼn nierooplanting, met sy suster as skenker, ontvang en in 2022 het die nier ophou funksioneer. Ek het die oorplanting gedoen. Hy het vir my gesê dat die oorplanting nooit behoorlik gefunksioneer het nie. Volgens hom was dit waarskynlik as gevolg van hoe ek sy chirurgie in 2017 behartig het. Hy sou nou ʼn tweede oorplanting ontvang – ʼn nier wat deur sy vrou geskenk word. Hy het my kom spreek om vir my te sê dat hy nie wou hê dat ek enigsins by hierdie oorplanting betrokke moes wees nie, hoewel die voorbereiding vir hierdie prosedure deur mense in my praktyk en in my span gedoen word.
ʼn Paar maande gelede het ek ʼn nier, wat deur ʼn vriend geskenk is, op ʼn pasiënt oorgeplant. Die dag ná die oorplanting het die pasiënt baie lae bloeddruk ontwikkel en is enkele ure later oorlede. Ons is nie seker wat gebeur het nie – of hy ʼn miokardiale infarksie, sepsis, of bloeding gehad het nie. Ongeag die rede – die uitkoms was tragies.
Waarom vertel ek vir julle hierdie verhale van mislukking en swaarkry?
Die antwoord is dat mislukking verklaar. Met ander woorde, mislukking veroorsaak dat ons ons lewensgebeure in meer besonderhede ontleed.
Die Duitse filosoof, Peter Sloterdijk, skryf in die derde volume van sy monumentale projek om Westerse denke te karteer, Foams, oor hoe die proses van verklaring die Westerse wetenskap in die moderne era aangedryf het. Hy skryf:
Die huidige eeu keer nie dinge, toestande of temas om nie; dit rol dit uit. Dit vou dit oop, dit trek dit vorentoe, dit lê dit plat neer en takel dit af, dit dwing dit tot manifestasie, dit herspel dit analities en inkorporeer dit by sintetiese roetines. Dit verander aannames na bedrywighede; dit voorsien presiese metodes aan benewelde ekspressiewe spanning; dit vertaal drome in handleidings … Dit wil alles weet oor alle goed in die agtergrond, wat binnetoe gevou was, voorheen onbeskikbaar en teruggetrokke genoeg, om dit ten minste beskikbaar te stel vir nuwe optrede op die voorgrond, ontknoping en skeiding, intervensies en hervorming. Dit vertaal die monsteragtige in die alledaagse.
Vir Sloterdijk is die begrip van die wêreld ʼn proses van verklaring, en ons elkeen kan dink aan hoe verklaring in ons onderskeie kliniese verwysingsvelde funksioneer: uitrol, omkeer, plat neerlê en aftakel, tot manifestasie dwing, analities ondersoek, formaliseer in ons roetines, metodes ontwikkel, die fluisterende agtergrond van die liggaam op die voorgrond bring, ingryp en hervorm, die wonderbare feit van die lewe alledaags maak, die monster van oningeligtheid verslaan.
Ek wil hierdie proses van verklaring nie op wetenskaplike onderneming toepas nie, maar wel op die binnewêreld wat elkeen van ons in ons huisves. Ek wil eintlik op Sloterdijk se frase fokus, waar hy skryf “dit vertaal drome in handleidings”, en ek wil hê dat julle saam met my moet dink oor die drome wat deur mislukking na ons toe kom, en die handleiding wat daaruit gevorm kan word.
As ʼn chirurg, berus my prosedure wanneer ek by die teater instap op die grondslag van werk wat deur ander mense gedoen word. My pasiënt kom van dialise af, wat deur ʼn internis voorberei word. Sy immuunonderdrukking word beplan op grond van immunologieverslae en weefseltipering wat deur ʼn span kenners gedoen word, met talle mense wat aan die besluitnemingsproses deelneem. Al ons dokumentasie en voorbereiding word deur ʼn verpleegkoördineerder en ʼn maatskaplike werker afgehandel, en die dag voor die operasie, deur die verpleegsters in die saal. Gerekenariseerde tomografie-skanderings (CT-) karteer die anatomie van die bloedvate en daar word oor verslag gedoen deur radioloë wat presies verstaan wat ek moet weet voor ek ʼn skenkernier kan verwyder. En wanneer die pasiënt in die teater opdaag, is dit die narkotiseur wat seker maak dat hierdie pasiënt veilig en gereed vir die operasie is. Alle pasiënte sal aan sepsis sterf as die teaterinstrumente nie korrek deur die teaterverpleegsters gehanteer en gesteriliseer word nie … en postoperatief het ons gewoonlik ʼn kritiekesorgspan van dokters en verpleegsters wat die pasiënt versorg.
Voordat ek die eerste snit maak, en nadat ek die laaste steek ingesit het, op ʼn tydskontinuum wat my tegniese ingryping voorafgaan en daarna voortgesit word, opereer ek nie met my hande nie, maar met vertroue.
As ek nie die vooraf voorbereiding, die maatskaplike werker en die sielkundige se verslae dat die pasiënt geskik en gereed vir die oorplanting is nie, die internis se assessering en die laboratorium wat die weefseltipering doen, kan vertrou nie, is dit ʼn feit dat die pasiënt ʼn swak uitkoms sal beleef. Insgelyks moet ek die narkotiseur en die kritiekesorgspan vertrou om die pasiënt tydens en ná die operasie te versorg. My rol in die versorging van die pasiënt is relatief klein. En al hierdie komplekse wisselwerkings word onderstut deur ʼn algemene ooreenkoms van vertroue. Dit is die eerste vlak van vertroue wat ons in ons daaglikse kliniese praktyk benodig.
Maar daar is ʼn tweede vlak van vertroue wat net so belangrik in die daaglikse bedryf van ʼn suksesvolle praktyk is. Dit is die noodsaaklike vertroue tussen ons en ons pasiënt.
Toe ek die ‘MIV-positief na positief’-oorplantingsprogram in 2008 by die Groote Schuur Hospitaal begin het, was ons nie seker of die uitkoms van die gebruik van hierdie marginale niere vir oorplanting goed sou wees nie. Ons was nie seker of die tweede virusstam sou opvlam en onstuitbare MIV veroorsaak nie. En nêrens in die wêreld was daar enige ervaring daarvan nie. MIV-positiewe pasiënte het geen keuse in Suid-Afrika gehad nie, aangesien hulle nie toegelaat is om dialise te ontvang nie en hulle dus niervervangingsterapie nodig gehad het. Op daardie tydstip het ek ʼn onsekere opsie aan hulle voorgehou, wat deur sommige mediese kenners as gevaarlik beskou is. Ek was egter van meet af aan heeltemal eerlik oor die feit dat ek nie geweet het wat die uitkoms vir hierdie niere sou wees nie. En uit daardie eerlikheid het ek verhoudings met hierdie pasiënte opgebou wat tot vertroue gelei het. Dit was tot ʼn mate vertroue wat hulle gehad het in my en die behandelingsmodaliteit wat ek voorgestel het. Maar dit was nog belangriker dat ek hulle ook moes vertrou om die gevolge van hulle besluite te verstaan en te aanvaar. Pasiënte is mense met wie ons wederkerige vertrouensverhoudings het, nie voorwerpe waarop ons wetenskaplike of tegniese oplossings toepas nie. Pasiënte moet ons kan vertrou en ons moet hulle kan vertrou.
Ek het ʼn sterk vertrouensverhouding gehad met die pasiënt wat ná sy oorplanting oorlede is, en ook met sy familie. Maar ek kon ook op my span vertrou om my in hierdie situasie te help. Dit was nie vir my nodig om hierdie probleem alleen aan te pak nie. Die koördineerder, maatskaplike werker, verskeie verpleegsters, ons internis en die ISE-dokter was saam met my toe ons met die familie gesels het. En dit het alles bygedra om my (en die familie) deur hierdie moeilike tyd te help.
Wat gebeur dus wanneer vertroue ontbreek? Wat gebeur wanneer ʼn pasiënt (soos die pasiënt wat ek in die inleiding beskryf het) na ons toe kom en ons vaardighede, ons besluitneming en ons vermoëns uitdaag? Die vertrouensverhouding is geskend en dit is die beste om dit reguit te erken, al is dit baie moeilik. Ek kan nie op hierdie pasiënt opereer nie. En hy kan my nooit vertrou nie.
Toe ek ʼn chirurg geraak het, was die rolmodelle in my wêreld hoofsaaklik mans. Hulle was sterk, het nooit gehuil nie, het lang skofte gewerk en oor hulle resultate gespog. Hulle het nooit oor hulle gevoelens gepraat of oor hoe kwesbaar hulle gevoel het as sake skeefloop nie. Hulle was op feitelike en wetenskaplike gesprekke gefokus. Om jou eksamen deur te kom, moes jy behep wees met statistiek en ‘getalle wat behandel moet word’ en ‘bewysgebaseerde geneeskunde’. Vandag wil ek julle aanmoedig om, in die woorde van Sloterdijk, die kwessie van vertroue ‘oop te vou en oop te maak’.
As mense is ons uiters kwesbaar. Nie slegs as huisdokters, verpleegsters of spesialiste nie, maar ook in ons families en tussen ons vriende. En as ons nie ons eie kwesbaarheid erken en verstaan nie, loop ons die risiko dat ons hard, onredelik en moontlik emosioneel ongesond of selfs siek kan word. Die selfdoodsyfer onder mediese dokters is van die hoogste in die wêreld. Daar is ook heelwat van ons wat van dwelms en alkohol afhanklik is. Laat ons maar eerlik wees – ons is nie regtig so gehard en sterk soos ons dosente en mentors 20 jaar gelede, toe ek opleiding ontvang het, voorgegee het om te wees nie. Ons is uiters kwesbaar. En kwesbaarheid word ten beste in die konteks van vertroue behartig.
Ek het die belangrikheid van die span in die voorbereiding van die pasiënt beklemtoon. Maar daar is nog ʼn rede waarom ons hierdie span nodig het. Ons het mekaar nodig om ons te help om deur die dag te kom, wanneer ons met siek en emosionele pasiënte te doen het. Dit kan baie moeilik wees om in hierdie situasies net op jouself te moet vertrou. Ons moet dus ons verhoudings met ons kollegas koester.
Die gesondheidswetenskappe word ten beste in ʼn span beoefen. En dit word ten beste beoefen in ʼn span wat mekaar vertrou. Selfs in die eensaamste private praktyk sal jy steeds moet staatmaak op die mense in jou span – verpleegsters en fisioterapeute en arbeidsterapeute – om jou te help om komplekse kliniese en emosionele probleme te hanteer. Wanneer ons moeilike kliniese uitkomste beleef – soos my pasiënt wat ná ʼn oorplanting oorlede is – moet jy op jou span vertrou. Ek dink dus dat dit belangrik is om jou span te waardeer, en aan hulle te verduidelik hoe nodig jy hulle in goeie en slegte tye het. Ons dink dalk hierdie persoon is net ʼn assistent wat met een klein gedeelte van die totale prosedure gehelp het. Wanneer sake skeefloop, besef ons egter dikwels die enorme waarde van die span vir die hantering van die pasiënt en die familie. Ek sou inderwaarheid nooit in staat kon wees om die dood van ʼn pasiënt te hanteer as dit nie vir hierdie uitgebreide span kollegas was, wat ek kan vertrou en wat my kan help in situasies waar ek uiters kwesbaar voel nie.
Maar toe ek gekonfronteer is deur ʼn pasiënt wat my vermoëns bevraagteken het, wat vir my gesê het dat ek nie goed genoeg vir hom is nie en wat ʼn ander chirurg versoek het, het ek ook iemand nodig gehad wat hierdie soort pasiëntgedrag verstaan, om my te help om daaroor na te dink. Ek het dus ʼn vertroude vriend geskakel, wat ook gereeld met pasiënte te doen kry, en die situasie met hom bespreek. Dit het vir my ʼn beter perspektief op hierdie probleem gegee en ek het besef dat ek hierdie pasiënt moes wegwys. Dit klink dalk soos iets kleins in die konteks van my daaglikse werk en praktyk, maar die gesprek met hierdie pasiënt het my baie kwesbaar en eensaam laat voel.
Vanaand wil ek vra: Is die feit dat ons kwesbaarheid nooit aangespreek word nie, die ding wat die langtermyn- geestesgesondheids- en welweesprobleme in ons beroep aandryf?
Toe ek ʼn kliniese assistent was, was prof Dent in die chirurgiese span van die Universiteit van Kaapstad (UK). Wanneer ons ʼn geval voorgelê het, of ná ʼn praatjie, sou hy altyd vra: Wat is dus die boodskap wat ons hier wegneem? Wat wil ek hê moet julle vandag onthou?
As spesialiste staan ons aan die hoof van baie van die gesondheidsorginisiatiewe in hierdie land. Ons kan dit ten beste doen as ons eerlik oor ons kwesbaarheid is, erkenning aan ons spanne en kollegas verleen en hulle koester, om beroepsgemeenskappe van vertroue op te bou. Wat gesondheidsorg tans die meeste nodig het – meer as enigiets anders op hierdie oomblik – is medelye vir onsself, ons pasiënte en ons gemeenskaplike menslikheid.
Dit is my eerste ‘wegneem’-boodskap.
Moenie arrogant wees nie. Jy kan en moet selfvertroue en vertroue in jou besluite en optrede hê. Maar wees van jou eie kwesbaarheid bewus. Eendag sal jy ook ʼn pasiënt wees. Eendag sal jy ook ʼn fout maak. En eendag sal jy alles reg doen, maar die pasiënt sal steeds ʼn slegte uitkoms ervaar. As jy jou eie kwesbaarheid erken, sal jy ook meer welwillend teenoor die kwesbaarheid van jou kollegas wees.
Geestesgesondheid en welstand is tans belangrike onderwerpe in die korporatiewe, gesondheidsorg- en universiteitsomgewings. Daar word baie programme ingestel om na personeelwelstand in verskillende omgewings om te sien. Dit is julle gedeelde verantwoordelikheid om na mekaar om te sien, voordat julle omsien na die pasiënte wat op julle gaan vertrou. Gaan dan voort en sien om na pasiënte, en die kwesbare en siek mense wat julle met hulle lewens vertrou.
My laaste ‘wegneem’-boodskap is dat julle dit slegs sal kan doen, as julle ook ons gemeenskaplike menslikheid met hierdie pasiënte deel.
Opskrif: Prof Elmi Muller
Foto: Damien Schumann