Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.
Wanneer Samantha Diedericks oor haar loopbaan van meer as 30 jaar in die hoër onderwys besin, onthou sy haar oupa Vally se woorde uit haar kinderdae: “Geleerdheid is belangrik, want niemand kan dit van jou af wegvat nie.” Diedericks het dit haar leuse gemaak en as die hoofadministrateur by die Stellenbosch Bestuurskool (SBS) ken almal haar as ‘n toegewyde mentor vir studente en personeel.
Haar loopbaan in die hoër onderwys het 32 jaar gelede begin toe ‘n bejaarde buurman haar na afloop van haar matriekeindsamen aangeraai het om by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se administrasie aansoek te doen vir werk om toegang tot die akademie te kry. “Ek het nie eens geweet hoe om ‘n rekenaar aan te skakel nie, maar ek het in ‘n bus gespring en presies gedoen wat hy gesê het,” onthou Diedericks. “My eerste aansoek om die pos van liasseerklerk was nie suksesvol nie, maar kort daarna was daar ‘n opening by die eksamenkantoor.”
Hoewel sy nog altyd by universiteite gewerk het, het Diedericks nooit die voorreg gehad om voltyds te studeer nie. Terwyl sy as ‘n administratiewe beampte by UWK was, het sy by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie ingeskryf en uiteindelik ‘n BTech-graad in Menslikehulpbronnebestuur behaal.
Sy het in 2001 as programkoördineerder by die SBS begin werk en het geleidelik die leer geklim tot die amp van hoofadministratiewe beampte verantwoordelik vir verantwoordelike leierskap en organisatoriese gedrag. Langs die pad het sy deeltyds ‘n MPhil in Toekomsstudies by die US; ‘n nagraadse diploma in leierskap-ontwikkeling (met onderskeiding), asook verskeie professionele ontwikkelingskursusse voltooi.
Haar betrokkenheid by die akademiese sy van sake by die SBS het oor die jare toegeneem en as leerprosesfasiliteerder is sy tans verantwoordelik vir die integrasie van die leerproses vir studente in die nagraadse diplomakursus in leierskapontwikkeling. “Daar wag waarskynlik iewers in my toekoms ‘n PhD op my – iets wat ek vroeër in my lewe nooit gedink het moontlik is nie,” sê sy met innige waardering.
“Dit was ‘n fenomenale reis tot hier. Die beste deel van my vroeë loopbaan by SBS was om saam met bestuurstudente na lande soos China, Namibië, Botswana en Ghana, asook verskeie Europese bestemmings te reis. Ons dink soms ons is as Suid-Afrikaners minderwaardig in vergelyking met internasionale universiteite, maar van wat ek gesien het, is ons van wêreldgehalte.”
Oor die transformasieproses wat sy die afgelope twee dekades by die US gade geslaan het, sê Diedericks die veranderende gety het vir haar en ander vroue-akademici deure geopen. “Ons kan ook ‘n verskuiwing in ons klasse sien. Daar is nog steeds meer mans, maar die vroue is besig om in te haal. Ons sien nie net hoe die aantal vrouestudente eksponensieel groei nie, maar ook in ons werkomgewing raak vroue al hoe meer prominent.”
As leerprosesfasiliteerder geniet Diedericks die intense skakeling met studente uit verskillende agtergronde om vir hulle die leerproses makliker te maak deur hulle met strategieë toe te rus wat begrip verdiep.
Diedericks voel gevlei dat haar kollegas en studente haar as ‘n uitstekende mentor beskryf. “Ek dink dit is omdat ek alle mense as my gelyke behandel. Dit speel waarskynlik ‘n rol in hoe jy ‘n omgewing skep waar mense veilig kan voel om met jou te praat oor wat in hulle lewe aan die gang is. Ek is ietwat van ‘n introvert, so ek het nie aangebore afrigtings- en mentorvaardighede nie. Dit kom nie natuurlik vir my nie. Maar dinge het begin verander toe ek met MBA studente begin werk het. Ek moes studente met hulle gespreksessies help, dit is waar my interpersoonlike vaardighede ontwikkel het.”
Diedericks het regdeur haar loopbaan ook die voorreg van uitnemende mentors gehad. Sy noem haar kollegas Frik Landman, proff Marius Ungerer en Mias de Klerk wat haar op ‘n groot leerkurwe geplaas het, maar terselfdertyd ook vir haar ruimte gegee het om te groei. Prof Anita Bosch, Dr Natasha Winkler-Titus en vele van haar administratiewe kollegas het ook ‘n groot rol in haar akademiese en persoonlike ontwikkeling gespeel, sê Diedericks. “Sulke kollegas maak werk betekenisvol. Dit is ‘n plesier om kantoor toe te kom. Ek is lief vir my werk.”
Diedericks bring ook hulde aan rolmodelle in haar familie wat haar aangespoor het. “Regdeur my lewe is ek deur my grootouers geïnspireer. Hulle kom uit ‘n geslag wat nie toegang tot onderwys gehad het nie. My oupa moes ná graad 3 die skool verlaat, maar hy het hard gewerk en het sy eie elektriese maatskappy bestuur. Ouma Maggie het altyd gesê daar is lig aan die einde van selfs die donkerste tonnel. Dis ‘n kosbare rigsnoer vir my.”
Die ondersteunende omgewing wat sy tuis gehad, het ‘n groot rol in haar suksesvolle loopbaan gespeel, merk Diedericks op. Toe hulle seun Wesley klein was, was haar man Gavin se werkure buigbaar en dit was ook ‘n groot hulp dat haar skoonma Yvonne by hulle gewoon het en met kinderversorging kon help. Diedericks en haar man sien ook om na twee pleegkinders – die 12-jarige Ezra en 19-jarige Brent – wat permanent in die sorg van die gesin geplaas is.
Wanneer sy tuis is, is Diedericks se gunstelingplek die kombuis. “Ek is ‘n gereelde bakker, so my liefdestaal is kook en bak. Ek hou daarvan om die mense rondom my te voer.” Haar stokperdjie het die afgelope jare vlerke gekry en sy doen in haar vrye tyd spyseniering vir funksies. Sy het al vir talle troues en voorstellingsgeleenthede asook ‘n paar matriekafskeide spysenierings behartig.
Diedericks se geesdrif om mense te bemagtig het tot haar betrokkenheid by Partners in Agri Land Solutions (“Vennote in agri-grondoplossings” of PALS) gelei. Dit is ‘n private grondhervormings- en ontwikkelingsinisiatief wat ten doel het om ‘n gunstige omgewing te skep vir die inwerkingstelling van innoverende grondhervorming en inklusiewe landbougroei wat sosiale harmonie ondersteun.
“Ek en prof Arnold Smit fasiliteer ‘n module oor verantwoordelike leierskap vir PALS. Dit is ongelooflik om te sien hoe van die vroue wat gemarginaliseerd was, groei en hoe hulle hul stemme laat opklink. Hulle het die verantwoordelikheid aanvaar en het boere uit eie reg geword en bestuur hulle eie ondernemings. Dit verskaf my soveel vreugde om ‘n klein bydrae tot so ‘n verdienstelike proses te kan lewer.”
FOTO: Stefan Els