Afgesien van die akademiese uitdaging het twee goed dr Tawanda Zininga laat besluit om ‘n dosent in biochemie by die Universiteit Stellenbosch Universiteit (US) te word. Op sy eerste besoek aan die US-kampus in 2019 het die natuurskoon op die rit van die lughawe na die kampus sy asem weggeslaan. “Ek het gedink, sjoe, die landskap is eenvoudig ongelooflik! Die tweede ding wat my oortuig het, was die mense se welwillendheid. My kollegas se gasvryheid het ‘n baie diep indruk gelaat.”
Zininga, wat oorspronklik van Zimbabwe afkomstig is, is nou ingeburger op Stellenbosch saam met sy vrou Chipo en hulle twee kinders. Sedert hy in 2020 by die US se Fakulteit Natuurwetenskappe begin werk het, het sy loopbaan van krag tot krag gegaan. Afgesien van verskeie reispryse, het hy ook onlangs die Rehana Malgas-Enus-toekenning van die US se Vroeë-loopbaan-akademieseontwikkelingsprogram ontvang.
Hy is verlede jaar gekies om aan die prestigeryke program vir toekomstige professore (FPP), ‘n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, deel te neem. Die FPP word onder die vaandel van prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in Opvoedkunde aan die US, gefasiliteer met die doel om akademiese uitnemendheid en leierseienskappe van ‘n sorgvuldig uitgesoekte groep dosente van die 26 universiteite in die land verder te ontwikkel.
Alle FPP-genote toon die potensiaal om leiers op hulle vakgebied te word en hulle volwaardige plek as ‘n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore op alle vakgebiede vol te staan.
As die jongste van tien kinders, spruit Zininga se belangstelling in wetenskap uit ‘n ondervinding uit sy kinderdae wat steeds sy werk besiel. “Ek het in die wetenskap begin belangstel nadat ek twee keer malaria as kind opgedoen het. Dit het my daarin laat belangstel om die menslike leiding weens malaria tot ‘n minimum te beperk.”
Zininga is die eerste een in sy familie om ‘n graad te behaal en hy spot dat sy sibbe hom by familiebyeenkomste baie besig hou met hulle versoeke vir mediese raad. Hy het aanvanklik in 2005 mediese laboratoriumwetenskap by die Kollege vir Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Zimbabwe gestudeer, waarna hy in 2012 ‘n MSc-graad in molekulêre biologie aan die Staffordshire Universiteit in die Verenigde Koninkryk behaal het. “Ek het vir omtrent ses jaar as ‘n mediese wetenskaplike in Zimbabwe en later Botswana gewerk waar my werk daarop gefokus het om pasiënte met behulp van kliniese monsters vir molekulêre, biochemiese, immunologiese, histologiese en hematologiese diagnostika te diagnoseer. Dit het my gehelp om te waardeer hoe belangrik proteïne oor die algemeen en meer spesifiek in menslike stelsels is,” verduidelik Zininga.
Hy het in 2016 sy PhD in biochemie aan die Universiteit van Venda voltooi en het dieselfde jaar ‘n Afrika-Duitsland Netwerk van Uitenemendheid in die Wetenskap (AGNES) junior navorsingstoekenning ontvang. Hy het medewerkings met die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Universiteit van Kaapstad (UK), asook internasionaal met die Duitse Bernhard Nocht Instituut vir Tropiese Geneeskunde en die Ludwig-Maximilians Universiteit in München gevestig. Zininga beklee ‘n Y1-gradering by die Nasionale Navorsingstigting (NNS).
“Ek was gedurende my voorgraadse studie gefassineer deur hoe biochemie die sleutel is om menslike patogeen-interaksies te verstaan. My PhD-studieleier, prof Addmore Shonhai van die Universiteit van Zululand het my vir die eerste keer aan biochemie bekendgestel. Ek het toevallig dieselfde tyd na die Universiteit van Venda verskuif as toe my studieleier hoof van die biochemie-departement geword het. Aangesien ek reeds vroeg in my lewe in malaria begin belangstel het, het ek die geleentheid aangegryp om ‘n bydrae tot die stryd teen malaria te maak.”
Zininga se navorsing fokus die afgelope paar jaar op die rol wat hitteskokproteïne in die oordrag van malaria speel. Die kern van sy navorsing is die interessante feit dat die malariaparasiet in twee fisiologies-verskillende gashere kan oorleef – die koudbloedige muskiet en warmbloedige mense. Dit is weens ‘n stel molekulêre begeleiers, hitteskokproteïne, in die malariaparasiet, verduidelik Zininga.
“As ons kan verstaan hoe die parasiet dit regkry om sy hittegolfproteïene te gebruik om stres te oorleef, kan ons hierdie kennis gebruik om middels te ontwikkel wat hierdie stelsel teiken om die parasiet te verswak en dit uiteindelik te elimineer. My navorsing fokus daarop om te verstaan hoe die proteïenvoustelsel van die malariaparasiet so doeltreffend is om die parasiet in staat te stel om weerstand te bied te bied teen hitte-, omgewings- en middelafgeleide stres. Die korrekte funksionering van die hitteskokproteïene in hierdie organelle is in die ontwikkeling van weerstandigheid teen artemisinien- geïmpliseer.” Die uiteindelike doel van Zininga se navorsing is om middelweerstandigheid in malaria-parasiete om te keer.
Een van die voordele van die FFP-program is dat hy toegang tot ander akademici gekry het wat op gebiede werk wat sy navorsing aanvul. “My insluiting by die Toekomstige Professore-program inspireer my om groter hoogtes te bereik, aangesien ek aan die van beste akademici in Suid-Afrika blootgestel word. Ek is seker dit sal verskeie lewenslange netwerke oplewer. Ek het reeds begin voordeel trek uit die mentorskap van sommige van die vroeëre kohorts.
“Sommige van die wetenskaplike wat deel is van die program, het vir my ‘n nuwe perspektief op my navorsing gegee. Dit is baie waardevol om insig te kry in die gemeenskapsdinamika wat ‘n uitwerking op die bestuur van ‘n siekte soos malaria het.”
Sy deelname aan die FFP het ook aan Zininga die nodige ondersteuning gebied om aansoek te doen vir navorsingsfinansiering en geleenthede om oorsee te reis vir sy navorsing. Hy gaan ook in 2024 op studieverlof en hoop om die tyd te gebruik om sy navorsing verder te neem om uiteindelik daartoe by te dra om ‘n geneesmiddel vir een van Afrika se dodelikste siektes te vind. Afgesien van navorsing oor malaria, stel hy ook in nieoordraagbare siektes soos kanker en hartbloedvatsiektes belang. Hy werk saam met verskeie mediese kundiges soos prof Karen Sliwa van die UK en die direkteur van die Kaapse Hartinstituut, en dr Graham Chakafana van die Hampton-Universiteit oor peripartum kardiomiopatie. Zininga werk ook saam met die US se dr Balindiwe Sishi om hitteskokproteïen-biomerkers te identifiseer ten opsigte van kardiotoksiteit gedurende borskanker.
Afgesien van sy akademiese werk, hoop Zininga ook om gedurende sy studieverlof tyd in te ruim vir sy twee ander groot liefdes – om voetslaanpaaie aan te durf en om te hengel.