
Oudregter Edwin Cameron word op 18 Mei as die Universiteit Stellenbosch se 15de Kanselier ingehuldig. Klik hier om die geleentheid te sien, wat vanaf 17h00 regstreeks uitgesaai sal word.
Oudregter Edwin Cameron, Kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), is ʼn reus van Suid-Afrikaanse aktivisme, regsgeleerdheid en die akademiese wêreld. Die lys van sy toekennings en prestasies is ellelank en sy nalatenskap is oneindig. Ons het met hom gepraat om ʼn meer intieme blik op die man agter die intellektuele aktivis te kry.
Edwin Cameron het as ʼn jong seun wat bestem was om een van die progressiefste, dapperste en mees gewetensgetroue Suid-Afrikaners van ons tyd te word, saam met sy suster in ʼn kinderhuis gebly omdat hul enkelma te arm was om hulle te onderhou. Een Kersvakansie het hulle gesukkel om kop bo water te hou. (“Platsak,” sê Cameron met ʼn wrang glimlag.) Een dag het ʼn vrou by die kinderhuis opgedaag met ʼn anonieme skenking: ʼn koevert met R10 – destyds ʼn koninklike bedrag.
“Dit was ʼn gebaar wat my lewe verander het,” sê Cameron. “Dit het my laat verstaan dat – al is individuele intervensies nooit genoeg nie en strukturele, maatskaplike en materiële intervensies is op groot skaal nodig – mens nooit moet onderskat wat jy in een dag kan doen om die mense in jou kring te bevoordeel nie.”
Jeanie, sy ouer suster, het ook ʼn vormende invloed op sy karakter en waardes gehad. Hy eer haar as ʼn toonbeeld van lojaliteit en onselfsugtige vrygewigheid. Dit was Jeanie wat na Cameron omgesien het en hom in staat gestel het om op sy skoolwerk te fokus. Dít het hom uiteindelik toegelaat om danksy sy intellek en skerpsinnigheid die akademiese en professionele range al hoe hoër uit te klim. Maar haar blywendste prestasie, sê Cameron, was om sy voete op die grond te hou.
“Sy het my in kontak met my wortels gehou,” sê hy. “Jy kan nie daardie belangrike geskiedenis uitwis nie. Dit is ʼn gedeelde geskiedenis wat ons albei gedefinieer het en ʼn nederige herinnering aan hoeveel Suid-Afrikaners in armoede gedompel word deur Covid, deur vloede, deur die Zuma-opstande van verlede jaar…”
Maar Cameron wys altyd vinnig daarop dat hy, as ʼn wit Suid-Afrikaner, ondanks sy armoedige jeug ʼn aantal geleenthede gegun is wat nie vir die meerderheid van hierdie land se bevolking beskore was nie. Dit sluit in van ʼn Rhodes-beurs tot die vermoë om later duur antiretrovirale medikasie (ARM’s) te bekostig nadat hy met vigs gediagnoseer is. (Cameron het ʼn sleutelrol gespeel om die regering van Thabo Mbeki onder druk te plaas om antiretrovirale behandeling aan burgers te verskaf wat dit nodig gehad het.)
Mens kry die gevoel dat hierdie lewenslange spanning – tussen bevoorregting en armoede, tussen openbare prominensie en private marginalisering, tussen status en vervolging – ʼn dryfkrag is agter Cameron se pogings om vooruitgang en geregtigheid na te jaag. Hy het sy lewe lank sy posisie en voordeel gebruik om die minderbevoorregtes en benadeeldes te beskerm en op te hef.
Al was hy altyd polities bewus en ondanks die feit dat hy primarius van sy koshuis én voorsitter van die Studenteraad was, was dit vir Cameron moeilik om sy seksuele oriëntasie in die konserwatiewe en onderdrukkende klimaat van apartheid-Stellenbosch van die middel-1970’s weg te steek. Dit het hom verhinder om so uitgesproke te wees oor talle maatskaplike en politieke kwessies as wat hy wou wees. Hy voel vandag nog dat integriteit en trots die hoekstene van aktivisme is.
Maar selfs in middel-1970’s, sê hy, “was daar tekens van lente. ʼn Paar jaar voor ek by die US ingeskryf het, het die studente gestem vir wegbreking uit die Broederbond-oorheerste Nasionale Studente-organisasie. Dit was revolusionêr! En my eie koshuis, Wilgenhof, was ʼn plek wat heterodokse denke aangemoedig het. Ek sou nie sê dit was rebels in die sin van revolusionêr nie, maar wel rebels in die sin van idiosinkratiese en oorspronklike denke.”
Van gay regte, vigs-destigmatisering en die uitrol van ARM’s deur die regering tot die balans van magte en vryheid van spraak, is dit nie oordrewe nie om te sê dat Cameron se loopbaan as ʼn menseregteprokureur en regter, asook sy aktivisme gedurende wat argumentshalwe die belangrikste tydperk in ons land se geskiedenis was, ons kollektiewe gewete gevorm het.
Hy is trots op die werk wat by die US se huidige Fakulteit Regsgeleerdheid gedoen word en meen daar is nog veel te doen wat menseregte betref. In die regte, soos in die akademie, is dit belangrik om op die skouers van reuse te staan om die goeie stryd tot nog hoër hoogtes te neem. Volgens Cameron is die stryd vandag vir oorgrens-migrante, sekswerkers, behuisingsregte en teen uitsetting.
“Stellenbosch dra daartoe by,” sê hy. “Die Fakulteit Regsgeleerdheid is op maatskaplike ongeregtigheid ingestel. Ek dink nie jy kan regte in Suid-Afrika onderrig sonder om bewus te wees van die gevaar wat ongelykheid en besitontneming vir die hele liberale projek inhou nie. Die algehele grondwetlike projek sal waardeloos wees en ineenstort tensy ons doeltreffend teen ongelykheid optree.”
Cameron is vol lof vir die US se Regskliniek wat litigasie in die openbare belang onderneem. Hy is veral trots op die feit dat hy die uitspraak in die Konstitusionele Hof geskryf het wat die sege gehandhaaf het wat die US Regskliniek betreffende skuldbeslagbevele behaal het – omdat dit die armstes en mees bedreigdes teen die verwoesting van skuld sal beskerm.
Oudregter Edwin Cameron is ʼn geïnspireerde en inspirerende keuse vir die US se kanselierskap. Sy antwoord op die vraag wat hy as die Universiteit se primêre doelwitte beskou, is perfek belyn met die twee belangrikste temas in die US se Visie 2040-manifes: inklusiwiteit en uitnemendheid.
“Dis vir my die belangrikste dat die US inklusiewer en meer divers moet en sal word – en dit gebeur tans,” sê hy. “Vir my is dit onontbeerlik en selfbevestigend. Ons word ʼn universiteit waar almal kan tuis voel op die kampus.”
Hy praat hartlik oor die verandering wat hy by die US se gradeplegtighede sien: die histories formele en hoogdrawende geleenthede het nou kleurvolle en uitbundige vierings geword. “Mense begin nou in die paadjies lofprysings sing, ‘halala’ skree en feesvier. En ek en die Visekanselier is verheug hieroor, want dit bevestig toenemend dat die US se tradisionele plegtighede aan almal behoort, soos dit nog altyd moes.”
Vir Cameron is uitnemendheid ononderhandelbaar: uitnemendheid in navorsing en akademiese uitset, uitnemendheid in die skep en verspreiding van kennis, asook uitnemendheid in leer en onderrig. “Een van ons ernstige probleme in Suid-Afrika is dié van selfwaarde. Die Zuma-era het ons selfrespek by ons gesteel. Ons is geregtig op leiers wat nie korrup is nie en as ons minder as dit aanvaar, is dit omdat ons nie genoeg waarde aan onsself heg om daarop aan te dring nie.”
Maar hy dring ook daarop aan dat uitnemendheid en inklusiwiteit hand aan hand moet gaan: “Ons moet die uitnemende instellings in ons gemeenskap ondersteun en hulle tegelyk meer toeganklik maak. Ons gaan nie by die US toelaat dat uitnemendheid sinoniem met eksklusiwiteit is nie.”
In oudregter Edwin Cameron as sy Kanselier, het die US die ideale mens om die instelling – met intelligensie, waagmoed en groothartigheid – van sy omstrede verlede na ʼn uitnemende, inklusiewe toekoms te lei.
Loopbaan-tydlyn:
- 1953 – Gebore in Pretoria
- 1983-1994 – Praktiseer in Johannesburg-balie
- 1986 – Menseregteprokureur
- 1988 – Help Numsa om MIV/vigsbeleid op te stel
- 1994 – Word senior advokaat
- 1999 – Aangestel as waarnemende regter in die Hooggeregshof
- 2000 – Aangestel as appèlregter in die Hoogste Hof van Appèl
- 2008 – Aangestel as regter in die Konstitusionele Hof
Toekennings:
- Nelson Mandela-toekenning vir Gesondheid en Menseregte, 2000
- Transnet se MIV/vigs-kampvegtertoekenning, 2000
- Universiteit Stellenbosch – Alumnus-toekenning, 2000
- Spesiale toekenning van Engeland en Wallis se Balieraad vir “bydrae tot internasionale regsgeleerdheid en beskerming van menseregte”, 2002
- San Francisco AIDS Foundation se Uitnemendheid in Leierskap-toekenning, 2003
- Eregenoot van die Society for Advanced Legal Studies, 2001
- Besoekende genoot, All Souls College, Oxford, 2003
- Eregenoot, Keble College, Oxford, 2004
- Witness to AIDS vereer met die Sunday Times/Alan Paton-prys (Suid-Afrika se top- letterkundige toekenning vir nie-fiksie), 2006
- Prys vir Burgerlike Waagmoed van die Duitse gay en lesbiese beweging, 2007
- Erebanker van Middle Temple, 2009
- Wenner van die Brudnerprys van die Yale-universiteit vir gay en lesbiese vakgeleerdheid, 2009
- Hoofprys van die Quebec-raad van Gays en Lesbiërs, Montreal, 2011
- Paul Harris-genoot, Rotary International
- Eredoktorsgrade in die regte van King’s College, Londen (2009), Wits (2009), Oxford (2011), St Andrews (2012), Stellenbosch (2015) en Sussex (2016)
- Justice – A Personal Account (2014) wen die Suid-Afrikaanse Letterkundige Toekenning vir kreatiewe nie-fiksie, 2015
- Erelid, American Academy of Arts and Sciences, 2016