ʼn Ontdekking van veelvuldige fossielversamelings en asneerslae in die Oos-Gobi-woestynkom in Mongolië kan nuwe inligting onthul oor dinosourusse en uiterste klimaatstoestande wat 120 tot 80 miljoen jaar gelede op Aarde geheers het.
Dít volgens dr Ryan Tucker, ʼn sedimentologis en tafonomis in die Departement Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was ʼn lid van ʼn internasionale span wetenskaplikes wat die ekspedisie na Mongolië onder leiding van dr Lindsay Zanno van die North Carolina Museum of Natural History meegemaak het. Die wetenskaplikes maak deel uit van Projek MADEx (Mongolian Alliance for Dinosaur Exploration), wie se werk fokus op die vind van data oor klimaatsverandering in die Aarde se “diep tyd” en spesifiek die Kryttydperk.
“Ons is bitter bly oor die data wat ons gevind het,” sê hy.
Gedurende hul verblyf van vyf weke by die Gobi-terrein het die span tot hul verrassing asbeddens ontdek, wat nog nie voorheen in Oos-Gobi geïdentifiseer is nie. “Dit sal ons begrip van die tydsraamwerk, wat tans oor ʼn moontlike 40 miljoen jaar strek, aansienlik verbeter. Met hierdie spesifieke asbeddens kan ons daardie tydsraming tot binne ʼn miljoen jaar verbeter, wat ons in staat sal stel om soortgelyke dinosourusse plaaslik en globaal betekenisvol te vergelyk,” sê Tucker.
“Die data wat by die terrein gevind is, sal insigte bied in wat ons moontlik in ons huidige tyd en in die toekoms moet aanpas. Ons probeer om die Mongoliese fossielversamelings en -ekostelsels met dié in Utah (VSA) te vergelyk om globale patrone te toets,” voeg hy by.
Verkenning van die globale klimaatskrisis
Die herwonne fossiele, asneerslae en rotsmateriaal is nou by verskeie universiteite in Amerika, Stellenbosch en Mongolië om onder meer die ouderdom van die materiaal te bepaal en die klimaatsaanduiders (temperatuur, humiditeit en reënval) te ontleed. Die Mongolië-projek het ten doel om gapings in kennis aan te vul deur die impak van ʼn globale klimaatskrisis op Noordoos-Asië se Kryt-ekostelsels te verken.
Vorige navorsing het bevind die Aarde se klimaat word geraak deur voortgesette tektoniese prosesse (die beweging van grond en aardbewings) of veranderinge in die Aarde se kors. Aansienlike klimaatsverskuiwings in die geskiedenis word met sulke geologiese prosesse of veranderinge aan die Aarde verbind.
Onlangse navorsing het aansienlike klimaatsverandering sowat 30 miljoen jaar gelede, tydens die Kryttydperk, getoon. Die verwarming was so intens dat reënwoude in die Suidpool gedy het. In hierdie tyd, wat ook as die middel-Kryt- Termale Maksimum (CTM) bekend is, het die Aarde se bewoners omgewings- en klimaatsontwrigting beleef wat direk gekoppel kan word aan Gondwana (Suidelike halfrond breek op om Amerika, Afrika, Antartika en Australië te vorm) en Laurasië (Noord-Amerika en Eurasië raak van die Suidelike kontinente geskei), verduidelik Tucker oor hoe bewegings in die aardkors klimaatsverandering kan veroorsaak.
Hy sê die nadelige gevolge van klimaatsverandering wat tans wêreldwyd gevoel word, kan moontlik verband hou met sowel natuurlike oorsake as menslike veranderinge aan natuurlike prosesse.
“Dis hoekom ons span hierdie kennisgapings probeer vul deur die impak van ʼn globale klimaatskrisis op Noordoos-Asië se Kryt-ekostelsels te ondersoek. As ons die nodige navorsingsbefondsing kan bekom, sal dit ons in staat stel om die uitwerking van die CTM-gebeurtenis in Mongolië se Oos-Gobi-kom beter te verstaan, wat ons sal help om paleoklimaat-omgewingsaanduiders vas te lê vir globale vergelykings in ʼn hedendaagse of toekomstige konteks.
Groot risiko, groot beloning
Tucker wil volgende jaar nagraadse studente na Gobi saamneem, wat aansienlik by prospektering daar sal baat vind. “Dit sal nie net help om die streek se kriptiese geologie te verklaar nie, maar hulle sal ook op ʼn baie suksesvolle en lonende loopbaan voorberei word danksy die unieke aard van die veldwerk en die kompleksiteit van die geologie daar.
“Ek hoop ek kan befondsing bekom om my studente volgende jaar en nog baie lank daarna na Mongolië te neem. Dit het nou ʼn baie spesiale plek in my hart,” sê Tucker.
Die Mongolië-projekspan soek na areas van “groot risiko, groot beloning” vir hul prospekteerwerk. “Ons assesseer areas met goeie rotsblootstelling, hoë reliëf en sonder menslike modifisering met behulp van historiese geologiese kaarte en satellietbeelde,” verduidelik Tucker. “In hierdie areas is die risiko groot om geen fossielmateriaal te herwin nie, maar die beloning is ook groot want as ons wel iets vind, is dit tipies nuut vir die wetenskap.”
Die Oostelike Gobi-kom is so ʼn terrein. Volgens Tucker is daar nog ʼn magdom data om te herwin. “Ons krap nog net aan die oppervlak en het nog skaars ʼn fraksie van die geografiese area gedek wat ons beoog om te verken. Ons het nog baie min gesien van wat daar werklik is.”
Die ander lede van die Mongolië-projekspan is drs Junki Yoshida en Ryuji Takasaki (navorsingsgenote in die Wetenskapskool van die Hokkaido-universiteit, Japan), dr Tsogtbaatar Chinzorig (Paleontologie-instituut, Mongoliese Wetenskapakademie), dr Khishigjav Tsogtbaatar (projekadviseur en Direkteur van die Paleontologie-instituut, Mongoliese Wetenskapakademie), asook drs Celina Suarez en Marina Suarez (Universiteit van Arkansas, VSA).
- Besoek http://www.sun.ac.za/english/faculty/science/earthsciences/staff-and-postgrads/academic-staff/dr-ryan-tucker vir meer inligting oor Tucker se werk.