Die Universiteit Stellenbosch (US) het in drie van die vyf prestasie-aanwysers verbeter wat gebruik is om die 2023 Times Higher Education- (THE-) wêreldranglys op te stel. Die jongste ranglys is vroeër vandag (Woensdag, 12 Oktober 2022) bekendgemaak.
Die US is in die kategorie 251–300 en tweede in Suid-Afrika geplaas. Sowat 1 800 universiteite is in die jongste THE-wêreldranglys.
As een van die mees vooraanstaande ranglyste vir die wêreld se beste universiteit, is die THE-wêreldranglys die enigste wêreldwye prestasieslys wat navorsingsintensiewe universiteite regoor al hul kernmissies, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale vooruitsigte, beoordeel.
Prestasieaanwysers word in vyf afdelings verdeel: Onderrig (die leeromgewing); Navorsing (volume, inkomste en reputasie); Sitasies of aanhalings (navorsingsinvloed); Internasionale vooruitsigte (personeel, studente en navorsing); en Bedryfsinkomste (kennisoordrag).
Afgesien van die styging in die US se algehele telling, het die instelling ook sy plek op die aanwysers vir Sitasies, Navorsing en Onderrig verbeter. Die grootste verbetering was in die sitasietelling wat met 4,4% van die 2022-telling van 78,7 tot 82,2 in 2023 verbeter het.
Die Universiteit se navorsing- en onderrigtellings het onderskeidelik van 35,7 tot 36,9 en van 30,3 tot 30,5 verbeter.
Volgens die THE-wêreldranglys, kyk die navorsingsinvloedaanwyser na universiteite se rol in die verspreiding van nuwe kennis en idees. Die gemiddelde aantal kere wat ‘n universiteit se gepubliseerde werk deur vakkundiges wêreldwyd aangehaal word, is hier veral baie belangrik. “Sitasies help om aan te dui hoeveel elke universiteit tot die totale omvang van mensekennis bydra: Hulle wys vir ons wie se navorsing uitgestaan het, raakgesien en deur ander vakkundiges uitgebou is, en die heel belangrikste, wie se werk in die globale vakkundige gemeenskap gedeel is om, ongeag die vakgebied, die grense van ons begrip te verbreed.”
Volgens prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, verstewig die US se bestendige en verbeterde prestasie op die THE-wêreldranglys die Universiteit se prestasie as een van die voorste navorsingsintensiewe universiteite in die wêreld. “Ons bestendige vertoning op verskeie internasionale ranglyste is ‘n bewys van die instelling se visie om ‘Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteite te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder’. Die feit bly staan dat die maatskaplike, ekonomiese en politieke kontekste van universiteite in Afrika hemelsbreed van dié van universiteite in hoëinkomstelande verskil. Die US se voortgesette teenwoordigheid op gevestigde ranglyste soos die THE-wêreldranglys is ‘n merkwaardige prestasie,” sê sy.
Die US was die afgelope paar jaar konstant onder die beste tersiêre instellings in die wêreld op wêreldranglyste soos dié van Quacquarelli Symonds (QS), die Times Higher Educations se ranglys vir ontluikende ekonomieë, die Academic Ranking of World Universities (Akademiese ranglys van Wêrelduniversiteite, ook bekend as die Shanghai-wêreldranglys) en die Center for World-universiteitswêreldranglys.
Klopper voeg by dat die verbetering in die US se sitasietelling boekdele spreek oor die internasionale gehalte van die Universiteit se wetenskaplikes se navorsingsuitsette. “Sommige van die instellings se voortreflikste wetenskaplikes verskyn ook gereeld op die Web of Science se lys van hoogs aangehaalde navorsers. Hierdie lys bevat die invloedrykste navorsers in die wêreld wat veelvoudige artikels oplewer wat onder die top 1% van aanhalings in hulle vakgebied en jaar van verskyning is. Die THE-wêreldranglys se navorsingsafdeling oorweeg ‘n universiteit se reputasie vir navorsingsuitnemendheid onder sy eweknieë, die inkomste wat dit uit navorsing van wêreldgehalte verdien en sy vermoë om artikels in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte van ‘n hoë gehalte te laat verskyn.”
Die US se verbeterde navorsingstelling kan onder meer aan sy strategiese klem op ‘Navorsing vir impak’ (een van sy kern strategiese temas), toonaangewende navorsingsbeurse en nasionale wetenskaptoekennings wat verower is, medewerking met nasionale en internasionale hoëronderwysinrigtings en bedryfsvennote, sy wetenskaplikes se bydrae tot internasionale beleids- en regeringsbestuursliggame, en sy groeiende kohort NNS-geëvalueerde navorsers toegeskryf word.
“Die Universiteit spog met 494 NNS-geëvalueerde navorsers waarvan 20 ‘n A-evaluering het. Navorsers met ‘n A-evaluering word deur hulle eweknieë as die voorste internasionale vakkundiges op hulle gebied beskou danksy die hoë gehalte en impak van hulle onlangse navorsingsuitsette.”
Volgens 2020-inligting (die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding is nog besig om inligting vir 2021 te verwerk) het die US die meeste boekpublikasies, die tweede meeste aantal konferensiereferate en die derde meeste navorsingsuitsette per capita gelewer. Die Universiteit is ook derde in Suid-Afrika vir vaktydskrifartikels, boeke, hoofstukke in boeke en konferensiereferate wat gelewer is.
Die onderrigafdeling word ondersteun deur die jaarlikse Akademiese Reputasie-opname wat die waargenome aansien van instellings in onderrig en navorsing ondersoek. ‘n Groot proporsie nagraadse navorsingstudente dui nie net op hoe verbind ‘n instelling tot die opvoeding van die volgende geslag akademici is nie, maar ook op die aanbieding van onderrig van die hoogste gehalte wat vir gegradueerdes aanloklik is en hulle doeltreffend kan ontwikkel.