Skip to content
  • Tuis
  • Maties Connect
  • Skenk
    • Maniere om te gee
    • #Move4Food
  • Kontak
  • English
  • Konvokasie
  • Tuis
  • Maties Connect
  • Skenk
    • Maniere om te gee
    • #Move4Food
  • Kontak
  • English
  • Konvokasie

Menu

  • English
  • Afrikaans

#SWAN: Dinamiese ma-en-dogter-duo vind inspirasie in sosiale geregtigheid

Ter viering van Vrouemaand, laat die Universiteit Stellenbosch die soeklig val op die buitengewone vroue van ons instelling. Wanneer ons in hierdie reeks artikels die merkwaardige prestasies van sommige van ons vroueakademici vier, werp ons ook lig op die transformatiewe krag van mentorskap. Danksy hulle eie ervarings met mentors, blink hierdie voortreflike personeel nie net in hulle vakgebiede uit nie, maar omarm hulle ook hoe belangrik dit is om jonger kollegas en studente te mentor, te help om rigting te vind en hulle te inspireer ten einde sukses te behaal en om sodoende ‘n inklusiewer en bemagtigde akademiese gemeenskap te kweek.

​Indien alles vlot verloop, sal die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid aanstaande jaar ‘n heuglike geleentheid vir die Lourens-gesin wees. Marna, wat die rol van adjunkdirekteur by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid vervul, sal haar LLD ontvang en haar dogter, Caterina, sal ‘n meestersgraad in Openbare Antropologie ontvang. ‘n Gedeelde waardering vir sosiale geregtigheid en vroueregte rugsteun dié dinamiese duo se akademiese belangstellings en persoonlike band.

Die ma en dogter is gedurende die week woonstelmaats op Stellenbosch en naweke kies hulle koers na die gesin se huis in Bettysbaai. Hoewel hulle op verskillende maniere werk en druk hanteer, het hulle ‘n doeltreffende roetine gevestig om mekaar in die moeilike finale stadium van hul studies te ondersteun.

Marna hou daarvan om vroeg uit die vere te wees om aan haar dissertasie te skaaf of om haar lys van prioriteite vir die dag op te stel. As prof Thuli Madonsela se regterhand is haar besige dae gevul met ‘n magdom afsprake en organisatoriese uitdagings om navorsingsprojekte, kursusse en opleiding, beleidsopdragte en verskeie akademiese en openbare verpligtinge vir die bevordering van sosiale geregtigheid te bestuur

“Wanneer ek werk, fokus ek al my energie op die taak waarmee ek besig is. As ek eers aan die gang is, werk ek vinnig en doeltreffend en sluit ek my af van alles wat my aandag kan aftrek. Gelukkig het ons ‘n goeie projekbestuurstelsel by die sentrum om ons op hoogte te hou van alles wat gedoen moet word,” verduidelik Marna.

Caterina is die teenoorgestelde van haar ma en is glad nie ‘n oggendmens nie. Sy motiveer haarself met ‘n wortel-voor-die-neus-benadering. “Wanneer ek baie het om te doen, maak ek seker daar wag vir my ‘n beloning aan die einde – iets prettigs om na uit te sien soos ‘n aand uit saam met vriende of ‘n besoek aan ‘n kunsuitstalling. Ek ly aan angs wat my soms oorweldig laat voel. Wat my egter deurhelp wanneer ek regtig gestres is (afgesien my medikasie), is die wete dat ek nie alleen is nie en dat daar vriende en familie is wat verstaan en daar is vir my deur dik en dun,” sê Caterina. Haar vriende se ondersteuning is ook van akademiese belang vir haar, want haar meesterstesis fokus op vroulike vriendskap as ‘n toevlugsoord vir vroue.

Noudat sy saam met haar ma te woon, is haar lewe meer georganiseerd as verlede jaar toe sy ‘n woonstel met twee vriende gedeel het, erken Caterina. Hoewel ma en dogter se tyd saam meestal op hulle akademiese werk fokus, beland hulle soms met hulle skootrekenaars en al voor die TV om hulleself aan Criminal Minds op Disney+ te vergryp.

Hoewel Marna gewoonlik die kookwerk doen, is sy nie krities oor haar dogter se beperkte bydrae in die kombuis nie (meestal kaas-en-tamatie-toebroodjies). “Ek was maar net so op haar ouderdom! My man, Max, het my geleer kook. Die mans in ons gesin is beter kokke as ons.”

Marna en Caterina is dankbaar vir Max en ander manlike rolmodelle in die gesin wat vir hulle die ruimte bied om sukses te behaal. “Max is goedhartig en sagmoedig, ‘n man so na ‘n vrou se hart,” sê Marna. “My pa was dieselfde. Caterina se broer, Max, het ook ‘n sterk sin vir geregtigheid.” Max junior studeer ook aan die US en voltooi einde volgende jaar sy graad in biodiversiteit en ekologie.

Hoewel sy deel is van ‘n geslag wat met blootstelling aan kritiese sienings van gender grootgeword het, het haar ma se navorsing ook haar feminisme geïnspireer, sê Caterina. “Ek word soms gekritiseer dat ek my mening te maklik lug of te sterk voel oor vroueregte, maar gelukkig het ek iemand tuis gehad wat my ondersteun en aangemoedig het. Ek was nog op skool toe my ma met haar navorsing oor transformatiewe geregtigheid vir sekswerkers begin het en dit het my oë laat oopgaan oor die uitsluiting en onderdrukking van mense.”

Marna deel ‘n herinnering wat nog steeds hul verhouding inspireer. “Sy het een keer in graad 1 haar skoolrapport huis toe gebring. Sy het nogal goed gedoen en ek vra toe hoe die ander kinders in haar klas gevaar het. Sy het my aangekyk en gesê: ‘Die lewe is nie ‘n kompetisie nie.’ Dit was nog altyd haar ingesteldheid,” sê Marna met ‘n trotse glimlag na haar dogter wat nog altyd haar eie ding gedoen het.

Sy voeg by dat een van Caterina se beste eienskappe haar empatie is. “Sy gee om vir die verdrukte en veg vir dít waarin sy glo – soms tot haar eie nadeel.”

Caterina sê sy is bevoorreg dat haar ouers haar en haar broer as kinders toegelaat het om net hulleself te wees. “Ons het altyd geweet hulle is onvoorwaardelik lief vir ons. My ma het nie die ingesteldheid van ander ouers uit haar generasie van ‘ek is die volwassene en ek weet alles’ nie. Dit beteken egter nie sy sal nie vir ons sê wanneer ons dwaas of onredelik is nie. Maar sy is altyd vergewend en redelik,” sê Caterina dankbaar. Sy bewonder ook haar ma se vermoë om voortdurend te verander en te groei.

Haar navorsing oor transformatiewe geregtigheid vir volwasse konsensuele sekswerkers uit ‘n kruisingshoek het by Marna ‘n waardering gekweek vir die ingewikkelde dimensies van onderdrukking en die kwesbaarhede wat veral vroue in ons samelewing ondervind. Dit het haar meer verdraagsaam, maar ook meer beskermend gemaak as ‘n ma. “Caterina en haar vriende weet hulle kan heeltemal openlik wees met my. Ek sê altyd vir hulle dat indien hulle ooit in ‘n moeilike situasie sou beland wanneer hulle uitgaan, hulle nie moet huiwer om my te bel nie. Ek sal hulle eerder uit ‘n sloot kom haal as om nie te weet waar hulle is nie.”

Marna beskou prof Thuli Madonsela, Direkteur: Sentrum vir Sosiale Geregtigheid en die voorsitter van die Regstrust-leerstoel aan die US, as die grootste invloed in haar lewe die afgelope vyf jaar. “Sy en my kollega en vriendin, Diane Gahiza, die projekkoördineerder by die sentrum, het my ongelooflik ondersteun in my LLD-studie. Prof Thuli het my gelei om te ontwikkel. Ek bewonder die manier waarop sy maatskaplike geregtigheid doelgerigte najaag en hoe sy altyd probeer om mense in alle sfere van haar lewe – as akademikus en in haar persoonlike kapasiteit – te help en op te hef. Sy het my gehelp om my stem te vind. Sy straal welwillendheid en regverdigheid uit.”

Caterina beskryf twee van haar antropologie-tutors as die beste mentors waarvan sy ooit van kon gedroom het. “Matthew Wingfield en Mukisa Mujulizi het my nie net akademies ondersteun nie, maar het ook ons aktivisme besiel. Hulle is sosiaal bewus en ingelig en is die mins toksiese mans wat ek ken. Hulle het soos broers vir my geword.”

Wanneer dit oor raad met mans kom, het Marna het een pêrel van wysheid vir Caterina: “Wees op die uitkyk vir goedhartigheid. Dit is wat verhoudings sterk hou. En om te kan luister.”

Albei Lourens-vroue het groot waardering vir die ondersteunende US-omgewing wat hulle gehelp het om sukses te behaal. “Dit is ‘n plek waar vroue bemagtig word om selfversekerd te voel en hulle nie net akademies nie, maar ook in aspekte van die instelling, kan uitdruk,” sê Marna. Catarina waardeer die feit dat daar ‘n wending ten opsigte van gender op kampus is. “Ons beleef nou in die vierde golf van feminisme en hoewel daar ‘n teenreaksie van sommige mans is wat bedreig voel, praat mense oor ongeregtighede en is ons besig om ‘n nuwe dinamika te ontwikkel.”

Met gradedag wat nader kom, wag daar ‘n dubbelde viering van hulle prestasie en kameraadskap op die twee vroue. Hulle beplan om die groot dag saam met hulle familie op ‘n plaaslike wynplaas met baie vonkelwyn te vier. Soos Marna tereg opmerk: “It takes a village …”

FOTO: Stefan Els

More articles

‘n Tweede tuiste

Alle alumni-gebeure gekanselleer of uitgestel weens COVID-19-pandemie

Eendrag: 2021 Reünie

Once a Matie, Always a Matie
Once a Matie, Always a Matie
  • Homecoming
    • Tuiskoms 2024
    • Tuiskoms 2023
    • Tuiskoms 2022
    • Tuiskoms 2020
  • Campaigns
    • 2021
      • Dekaansfonds: Regsfakulteit
      • Covid-19
      • Masked Masterpieces
      • Thank You
    • 2022
      • #Action4inclusion
      • BRIDGE THE GAP ANNUAL FUND
      • EindeGBV
      • Train4Fees
      • #SciMathus
      • Move4Food
    • 2023
      • Borskanker Bewustheids Maand
  • Chapters
    • Globale Maties Netwerk
  • Alumni Vlagskip-Programme
    • PreAlumni
    • Swan
    • Jong Alumni
  • Geleenthede
    • Alumni-interaksie Kalender
    • Geleenthede
  • Media
  • Video’s
  • Donate
    • Move4Food
    • Skenk
    • Impakverslag
  • Get informed
    • Alumni Clubhouse
    • Kontak
    • Raak ingelig
    • Matie Shop
    • Maties Wynklub
  • Vrywilligerswerk vir die US
  • Visit Sun.ac
  • Tuis
  • Maties Connect
  • Skenk
    • Maniere om te gee
    • #Move4Food
  • Kontak
  • English
  • Konvokasie

Stellenbosch
Private Bag X1
Matieland
South Africa

+27(0)21 808 9265
alumni@sun.ac.za

Facebook Linkedin Instagram Twitter

We are using cookies to give you the best experience on our website.

You can find out more about which cookies we are using or switch them off in .

Privacy Overview

This website uses cookies so that we can provide you with the best user experience possible. Cookie information is stored in your browser and performs functions such as recognising you when you return to our website and helping our team to understand which sections of the website you find most interesting and useful.

Strictly Necessary Cookies

Strictly Necessary Cookie should be enabled at all times so that we can save your preferences for cookie settings.

If you disable this cookie, we will not be able to save your preferences. This means that every time you visit this website you will need to enable or disable cookies again.

3rd Party Cookies

This website uses Google Analytics to collect anonymous information such as the number of visitors to the site, and the most popular pages.

Keeping this cookie enabled helps us to improve our website.

Please enable Strictly Necessary Cookies first so that we can save your preferences!