Beste mede-alumni
Die spreekwoord lui mens kom in donker tye gou agter wie jou mooiweersvriende is. Maar die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope ruk gesien dat daar nie ‘n tekort aan vertroue in ons instelling is nie, midde-in die ontwrigting van COVID-19 en die gepaardgaande nasionale ramptoestand en voortslepende staat van inperking.
Dit is vir my aangenaam om verslag te doen dat ons onlangs stewige ondersteuning van individuele skenkers, bedryfsleiers sowel as plaaslike en internasionale trustfondse en stigtings ontvang het. Dit is tekenend van onwrikbare vertroue in die US as ‘n leier in hoër onderwys op ons vasteland.
Ons is ontsaglik dankbaar vir hierdie ondersteuning wat ons – as nasionale bate in diens van die hele samelewing – sal help om ons hegte bande met ons belanghebbers te verstewig. Vergun my om kortliks ‘n paar sprekende voorbeelde te deel. Ek gee terselfdertyd erkenning aan elke skenking, klein of groot.
Ek volg die voorbeeld van die Amerikaanse televisieaanbieder David Letterman wat altyd episodes van sy Late Show afgesluit het met ‘n “top-tien lys”. Hier is my keur uit onlangse hoogtepunte vir die US:
1. Die Michael en Susan Dell-stigting (MSDF), ‘n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie in die VSA, het ‘n beduidende toekenning aan die US gemaak vir pasgemaakte akademiese en psigososiale hulp aan kwesbare studente wat gevaar loop om nie te gradueer of aan te beweeg na hul volgende jaar van studie nie. Dit sal ons akademiese ondersteuning aan ons studente ‘n hupstoot gee om te verseker dat hulle op koers bly met hul studies, ondanks die uitdagings wat hulle ervaar.
2. Dít is aangevul deur ‘n aansienlike skenking van die Oppenheimer Gedenktrust ter ondersteuning van die US se vinnige en suksesvolle oorskakeling na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering ten einde die akademiese jaar suksesvol te voltooi. Die skenking verskaf ontwerpkapasiteit vir aanlyn leermateriaal, maak die ontwikkeling van aanlyn assesseringsprotokols moontlik en verseker ‘n goedgekoördineerde tutor- en mentorskapprogram.
3. Die Harry Crossley-stigting het ‘n spesiale COVID-19-skenking bevestig wat ons in staat sal stel om ons tutordiens verder uit te brei. Tutors en mentors word wêreldwyd aan akademiese sukses gekoppel, en dit is ook ons ervaring hier by die US.
4. DeepMind, ‘n wêreldleier in navorsing oor kunsmatige intelligensie, het aangekondig dat sy eerste nagraadse beurse in Afrika aan US-studente toegeken sal word. Dié Londense maatskappy is deel van Google. Hierdie beurse sal ‘n groot hupstoot aan broodnodige nagraadse navorsing in toegepaste wiskunde, statistiek, elektriese en elektroniese ingenieurswese en rekenaarwetenskap op ons vasteland gee.
5. Die MSDF het ook ‘n groot bydrae tot die digitalisering van die COVID-19-waakeenheid van die Tygerberg Hospitaal – een van ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se hegte vennote – gemaak. Die baanbrekerstelsel sal inligting op ‘n sentrale databasis vaslê deur die gebruik van kameras, tabletrekenaars en stem- en elektroniese notas wat spesialiste in staat sal stel om pasiënte oor ‘n afstand te monitor. Ons sal nog lank nadat die huidige pandemie bedaar het, die vrugte van hierdie belegging pluk.
6. Ons is ook verheug oor die entoesiastiese reaksie op ons openbare kunsprojek, #MaskedMasterpieces, wat help om besoekers tydens vlak 2 van die nasionale staat van inperking na Stellenbosch terug te lok. Allerlei bydraes stroom steeds in van maatskappye, individue, alumni en vriende van die Universiteit (insluitende Investec en die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, adv Gesie van Deventer, om maar net ‘n paar te noem). Al die geld wat ingesamel word, sal vir beurse vir studente uit die “verlore middel”-groep aangewend word.
7. Ons wil ook baie dankie sê aan al ons lojale personeellede vir hul onbaatsugtige bydraes – nie net omdat hulle onvermoeid voortgaan met leer en onderrig, navorsing en innovasie en sosiale impak nie, maar ook vir hul skenkings aan die US se COVID-19-hulpfonds wat in Mei bekendgestel is. Sommige het hul gereelde skenkings aan die Universiteit verhoog; ander het vir die eerste keer ‘n bydrae gemaak. Baie dankie, kollegas!
8. Knap gedaan aan ons jongste geldinsamelaar, die vyfjarige Mikey Allcock (sy ma, Candice Egan, werk by ons Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge). Hierdie onverskrokke jongeling het 50 km ver gestap ten bate van die US se #Train4Fees-veldtog! Dit is gemik op hulp vir ‘n diverse groep van 75 studente-atlete wat hul finansiële ondersteuning weens die uitwerking van COVID-19 verloor het. Die veldtog word ongelooflik goed ondersteun – meer as 100 individue het fondsinsamelingsprojekte geloods en meer as 400 donasies is ontvang. Die sperdatum was tot 31 Augustus verleng.
9. Rekordbedrae is tot dusver vanjaar ingesamel. Skenkings wat van Januarie tot Junie ontvang is, was 51% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Ons wil ons donateurs hartlik bedank vir hul hulp in hierdie uitdagende tyd. Ons beskou dit as ‘n bevestiging van die gehalte van die US se akademiese aanbod, asook van die gehalte en uitsette van ons navorsingsprojekte. Dit is ook ‘n bewys van hoe belangrik ons studentesteun ag.
10. Dit bring my by my laaste punt uit – nóg ‘n mosie van vertroue in die US, nie deur skenkers nie, maar deur voornemende studente wat by ons wil kom studeer. Nadat voorgraadse aansoeke in Maart geopen het, het ons die tendense fyn dopgehou om te bepaal of die koronaviruspandemie ‘n negatiewe uitwerking op ons syfers sou hê. Maar die teendeel is waar. Volledig voltooide aansoeke het met 9% gestyg, en ons voorlopige aanbiedinge aan kandidate met 7%.
Ons sal nie weifel in ons verbintenis om gesogte gegradueerdes op te lewer wat toegerus is om ons land, ons vasteland en die res van die wêreld te help om toekomstige uitdagings aan te pak nie. Die vertroue wat in die US gestel word, noop ons om voort te bou op ons onberispelike institusionele reputasie vir goeie oorsigbestuur en sake-etiek. Ek is seker ek praat namens die hele US-gemeenskap wanneer ek sê dat ons hierdie verantwoordelikhede met trots aanvaar.
Vriendelike groete
Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier