Die institusionele tema van die Universiteit Stellenbosch (US) vir Mei vanjaar is “Verbind tot Afrika” en op 25 Mei vier ons saam met die wêreld Afrika-dag. Die direkteur van die Sentrum vir Samewering in Afrika (SSA), dr Nico Elema, lewer reeds vir jare ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling en bevordering van verhoudings tussen die US en sy vennootinstellings elders op die vasteland. Hy ‘n span van internasionaliseringspraktisyns ten einde ‘n instaatstellende omgewing vir die US te skep om vennootskappe met ander universiteite regoor Afrika te sluit en met hulle in gesprek te tree – alles in vennootskap met ons vennote wêreldwyd.
Wanneer Elema aanbiedings doen oor die werk van die SSA, is een van die eerste beelde wat hy met sy gehoor deel, ‘n kaart wat die ware grootte van Afrika aandui – nie die verwronge Mercator-kaart nie. Op hierdie kaart verswelg die vasteland die kaarte van die Verenigde State, China, Indië en die grootste gedeelte van Europa. Die verdraaide persepsie oor die ware grootte van Afrika is een van verskeie onjuiste aannames wat Elema deur die jare mee te doen gekry het.
Wanneer hy oor die vasteland praat, is dit uit persoonlike ondervinding. Elema het al meer as 30 ander Afrika-lande in sy loopbaan besoek en hy het ‘n leidende rol gespeel om verskeie vennootskappe tussen US-akademici en hulle eweknieë regoor die vasteland te fasiliteer.
Elema se eie akademiese belangstellings fokus op die invloed, of voordeel van navorsing. Hy het ‘n MBA aan die US voltooi en later sy PhD in Wetenskap- en Tegnologiestudie behaal. Hy het by die US se Waterinstituut gewerk voordat hy by die SSA aangesluit het toe dit in 2016 in US Internasionaal gevestig is. Sy uitgebreide ondervinding in die bestuur van navorsingsnetwerke en vennootskappe in Afrika was ‘n groot pluspunt vir die SSA.
“Ek is baie passievol oor die vasteland. Indien ek 15 jaar jonger en ‘n akademikus was, sou ek op die vestiging van strategiese vennootskappe met ander lande in Afrika fokus. Dit neem tyd om goeie verhoudings te kweek, maar as jy eers die konneksies gemaak het, is daar soveel potensiaal en geleenthede op ons vasteland,” sê Elema.
Hy beklemtoon ook hoe belangrik dit is om die konteks te verstaan van die lande wat jy besoek. “Jy moet mense se ruimtes binnedring en die institusionele kulture en unieke ekostelsels verstaan wat hulle werk beïnvloed. Die geskiedenis van slawerny en kolonialisme rig steeds die huidige dinamika in Afrika. Maar ek herinner ook dikwels mense daaraan dat Afrika nie net een land is nie. Daar bestaan reusediversiteit op die vasteland.”
Dit is ook dikwels verrassend om te ontdek hoe bekend die US is op die vasteland, merk hy op. “Mense by baie ander universiteite in Afrika weet dat Stellenbosch een van die top vyf universiteite op die vasteland is en hulle is dikwels gretig om saam met ons te werk. Wanneer ek oor die US se sukses uitgevra word, word ek dikwels aan die woorde van ons Rektor herinner dat ons daarna moet strewe om plaaslik ‘n impak te hê en relevant in die streek en wêreldwyd mededingend te wees.”
Een van die SSA se belangrikste inisiatiewe is die Afrika-samewerkingsbefondsing wat met die bilaterale vennote geassosieer word en mobiliteitsgeleenthede vir personeel, postdoktorale genote en nagraadse studente van die US by ander vennote in Afrika skep. “Ons ontvang altyd baie belangstelling in hierdie toekenning. Dit is ‘n baie mededingende toekenning en ons is bevoorreg dat die US institusioneel onderneem het om die mobiliteit van akademici op die vasteland te ondersteun.”
Personeel en studente van die US keer dikwels terug van besoeke aan ander Afrika-universiteite met vars perspektiewe en inspirasie, sê Elema. Ek geniet dat wanneer studente terugkeer vanaf plekke soos Lagos of Kampala en vir my sê hulle ondervinding het hulle lewe verander.”
Die SSA se werk fokus baie daarop om die werk wat hulle doen, met die Verenigde Nasies se Volhoubare Doelwitte (VHD’e), asook die Afrika-unie se Agenda 2063 te belyn. Die VHD/2063-impaknaaf is by die SSA binne US Internasionaal gesetel en is daarop gemik om die US se bydrae tot die VHD/2063-agendas te beklemtoon. “’n Deel van die geleentheid is om vennote rondom die VHD/2063-agendas te vind sodat ons kan saamwerk aan onderwerpe wat tot die gekoördineerde insameling van data, bepaling van impak en gekonsolideerde hulpbronne kan lei.”
Medewerking tussen kundiges in vakgebiede soos datawetenskap, rekenaardenke en klimaatstudie sal uiters belangrik wees vir die hantering van toekomstige uitdagings. “Klimaatsverandering gaan ‘n vernietigende uitwerking op Afrika hê indien ons nie beplan en meer volhoubaar word nie. Klimaatsverandering kan in die toekoms tot onder meer massaverstedeliking lei en ons kan dalk nog meer megastede soos Lagos met sy geskatte 22 miljoen inwoners sien. Wat beteken dit vir voedselsekerheid? Wat sal dit vir vervoer, gesondheid, logistiek en ramprisikobestuur beteken? Die SSA kan ‘n baie belangrike rol speel om kruisdissiplinêre kennisuitruiling oor sulke onderwerpe deur tematiese navorsingsnetwerke te fasiliteer waar ons die sekretariate van die PERIPERI-U – wat op ramprisikovermindering fokus – en die AUDA-NEAPD-netwerke van watersentrums van uitnemendheid huisves. Ons sluit deur hierdie netwerke vennootskappe met ons globale vennote en het toegang tot 32 ander universiteite in Afrika om uitdagings aan te spreek wat met klimaatsveranderingaanpassing verband hou.”
Elema beskou homself as gelukkig om saam met ‘n ongelooflike span by SSA te werk wat sy entoesiasme met hom deel. Een van hulle doelwitte vir 2023 is om studente-uitruilgeleenthede met vennootinstellings uit te brei ten einde US-studente in staat te stel om semesterkursusse by Afrika-universiteite en andersom te voltooi. “Dink net hoe opwindend dit vir US-studente sal wees om vir ‘n paar maande in Kenia, Ghana of Egipte te gaan studeer. Studente kan ongelooflike geleenthede skep, hulle is ontvanklik en keer met blywende indrukke en vriendskappe terug. Die moontlikhede is werklik eindeloos.”