Toe Megan Versfeld die toelatingsvereistes vir die hoofstroomprogram in Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ‘n skrale twee punte misloop, is sy ‘n plek in die Verlengde Graadprogram (VGP) aangebied. “Ek was eers baie negatief, maar toe sê my broer: ‘Wat’s beter as vier jaar op universiteit? Vyf jaar!’ Ek het uiteindelik sewe jaar op universiteit deurgebring,” glimlag sy.
Die US se VGP voeg ‘n bykomende studiejaar by ‘n hoofstroomgraadprogram by. Dié jaar word gebruik om studente deur middel van bykomende akademiese steun vir spesifieke hoofstroomvakke sowel as universiteitstudie in die algemeen voor te berei.
Megan, wat in Pretoria grootgeword het, wou graag die volle universiteits- en koshuiservaring hê, en het besluit Stellenbosch is die plek vir haar. “So, toe waag ek die sprong en skryf in vir die VGP,” sê sy. “Die fakulteitsekretaris het die proses verduidelik, en ek het gou besef dis eintlik ‘n tipe oorbruggingsjaar tussen skool en universiteit. Jy skakel in die tweede jaar oor na die hoofstroomprogram.”
Beste besluit
Die 29-jarige Megan weet nóú om die VGP te volg was die beste besluit wat sy destyds kon geneem het. Sy het in 2012 begin, haar graad in 2016 voltooi, en daarna ook ‘n meestersgraad in Ingenieursbestuur verwerf. Sy het werk gekry by Kumba Iron Ore in die Noord-Kaap, waar sy reeds die afgelope vier jaar werk.
“Die VGP het die oorgang van hoërskool tot universiteit, en van die huis tot die koshuis, sommer baie makliker gemaak,” sê sy. “Die druk was nooit oorweldigend nie. Die VGP-jaar het my die geleentheid gebied om die Universiteit, waaronder die sosiale en koshuislewe, ten volle te ervaar en dit alles met my akademie te balanseer.” Trouens, Megan glo balans is een van die grootste lesse wat sy geleer het. “Ek kon nie anders as om myself te bestuur nie. My ma was nie meer byderhand om my aan te sê om te leer nie. Ek moes grootword. Daardie aanvanklike jaar om as volwassene op jou eie voete te leer staan, het my regtig baie gehelp.”
Gelukkige toeval
Soos die toeval dit wou hê, het Megan haar man, Ryno Versfeld, in die kantoor van die Ingenieurswese-fakulteitsekretaris, Minnaar Pienaar, ontmoet. “Ons het dieselfde probleem gehad. Hy het ook die moontlikheid van die VGP ondersoek, en ons het albei uiteindelik daarvoor ingeskryf. Ons het in ons eerste jaar vriende geword en in die tweede jaar begin uitgaan.
“Ryno is ‘n meganiese ingenieur, en nadat hy sy graad voltooi het, het hy die geleentheid gekry om by Kumba te gaan werk en by verskillende myne ervaring op te doen,” verduidelik Megan. “Terwyl hy al by Kumba begin werk het, het ek nog twee jaar lank aan my meestersgraad gewerk en elke ses weke vir tien dae by hom gaan kuier. Nadat ek my meestersgraad ontvang het, het ek ook by Kumba aansoek gedoen en ‘n werksaanbod ontvang!
“Ons woon en werk op die afgeleë dorp Kathu. Dis ‘n baie rooi dorp! Dit gebeur nie baie dat mense sê hulle wil regtig graag hier wees nie, maar ons is baie gelukkig. Ryno is die ingenieursbestuurder by een van die verwerkingsaanlegte, en ek is ‘n bedryfsbeplanningsadviseur. Ek is mal oor my werk. Dit behels heelwat strategiese denke, langtermynbeplanning, en die beoordeling van die bedryfsiklus vir die volgende vyf jaar.”
Lewenslange vaardighede
Die VGP het haar in vele opsigte met lewensvaardighede toegerus wat sy altyd met haar sal saamdra, waaronder “tydbestuur en om verantwoordelikheid vir my eie optrede te aanvaar”, sê Megan. “Die druk om klas by te woon en al die vakke te slaag was nie naastenby so erg soos wat dit sou wees as ek die hoofstroomprogram van die eerste jaar af moes volg nie. Toe ek Stellenbosch toe is, het baie mense vir my ma gesê ek sal binne drie maande terug wees in Pretoria. Danksy die VGP was dit toe nié die geval nie, maar dit kon heel anders uitgewerk het as ek uit die staanspoor die werklas van die hoofstroomprogram gehad het. Ek kon op my tyd gewoond raak aan die universiteitslewe, en die eerste jaar ten volle geniet.”
Megan en Ryno, ‘n boorling van Namibië, hoop om nog ‘n paar jaar in Kathu te bly, en wil ook graag vir dieselfde maatskappy in Namibië werk om verdere ervaring op te doen. Vir eers is die paartjie egter betrokke by ‘n aantal plaaslike gemeenskapsaktiwiteite en help hulle onder meer by ‘n skool. En soos dit ‘n US-gegradueerde betaam, hou hierdie lewenslange leerder aan om haar vaardighede met kortkursusse uit te brei.
Wanneer sy nie werk nie, geniet Megan dit ook om te oefen. “Ek het ‘n maand gelede ‘n veldwedloop van 18 km by die Augrabies-waterval voltooi. Dit was die beste ervaring wat ek in ‘n lang tyd gehad het. Dit was absoluut pragtig.”