“Ek is vas oortuig dat God nie iets met jou sal laat gebeur as jy dit nie kan hanteer nie, so dis my verantwoordelikheid om dankie te sê vir die geleentheid. Ek het al ongelooflike mense ontmoet en ongelooflike dinge gedoen, en dít sou nie so gewees het as my sig nie aangetas was nie.”
Ilse Hayes – Maties Parasportatleet, Paralimpiese kampioen en Stellenbosch-sportambassadeur
Gestremdheid is ’n sambreelterm wat verskeie geestes-, fisiese en sintuiglike toestande insluit. In hulle alledaagse lewe kom geaffekteerde individue nie net voor praktiese uitdagings nie, maar ook sosiale uitdagings te staan. Visuele aantasting is net nóg ’n sambreelterm binne die gestremdheidsraamwerk en beskryf ’n verskeidenheid toestande van gedeeltelike sig tot algehele blindheid. Persone met aangetaste sig, soos met enige ander gestremdheid, kan baie maklik voel of hulle afgesonderd is en daar teen hulle gediskrimineer word, ook in ’n akademiese leerruimte soos ’n universiteit. Daarom moet verskeie stappe gedoen word om toe te sien dat daar steundienste bestaan wat in al hulle behoeftes voorsien en wat sorg dat studente met gestremdhede as volwaardige en ten volle ingeskakelde lede by die hele studentegemeenskap ingesluit word.
Dít is presies wat die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Gestremdhede doen. Hulle visie – om ’n bemagtigende omgewing te skep wat studente met gestremdhede holisties bemagtig om hulle volle potensiaal te verwesenlik – gaan van krag tot krag, met uitmuntende resultate. Die Maties Parasportatleet en Paralimpiese kampioen Ilse Hayes en PhD-student en rekenaarfoendi Rynhardt Kruger is sprekende voorbeelde van hoe die onmoontlike moontlik kan word, en dat visie niks met sig te doen het nie.
By die Grand Prix-atletiekbyeenkoms van die Internasionale Paralimpiese Komitee in April 2015 het Ilse Hayes die vinnigste vroulike Para-atleet ter wêreld geword toe sy die 100 m-naelloop in ’n merkwaardige tyd van 11:89 sekondes kafdraf en die vorige rekord van 11:99 laat spat. Daarmee is ’n droom bewaarheid vir dié jong atleet, wat in 1996 op 11-jarige ouderdom met Stargardt se siekte gediagnoseer is – ’n toestand wat die sentrale gesigsvermoë aantas, sowel as die vermoë om basiese besonderhede te sien. Haar liefde vir atletiek kom al van ’n baie vroeë ouderdom, en hoewel haar toestand oor die volgende twee jaar versleg het, het dit op 13 gestabiliseer en het Hayes op 15 jaar mededingend aan sport vir persone met gestremdhede begin deelneem. “Dit het regtig baie bygedra tot karakterbou,” sê sy. “Ek bedoel, as ’n 11-jarige het jy ’n keuse: Gaan jy in die hoekie sit, of gaan jy aan met die lewe? Ek het wonderlike ondersteuning van my familie en vriende ontvang, wat dit waarskynlik veel makliker gemaak het om my toestand te aanvaar, aan te gaan en elke geleentheid aan te gryp en so goed moontlik te benut. Sedertdien het ek regtig hard gewerk om my potensiaal te verwesenlik.” Hayes het ’n graad in Sportwetenskap en ’n honneursgraad in Pediatrie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Hoewel Rynhardt Kruger met ’n ernstige retinale degenerasiesiekte genaamd Leber se kongenitale amaurose gebore is, het hy as kind daarvan gedroom om eendag ’n polisieman te word, en wou hy later die kuns van musiek bemeester. Eers toe sy ouers hom ’n rekenaar gee waarmee hy met behulp van steuntegnologie die wonderwêreld kon ontdek van die digitale samelewing waarin ons almal vandag leef, het hy besluit om sy lewe aan rekenaarprogrammering en sagtewareontwikkeling te wy om ander blinde persone makliker toegang tot die omvangryke digitale domein te help bekom. “Ek onthou ek het ’n oudiospeletjie gespeel, wat gewoonlik déúr blinde mense vír blinde mense geprogrammeer word en waarin alles in klank gebeur, en by myself gedink: ‘Hoe doen hulle dit? Ek móét leer hoe.’ So word dit toe my passie, en is dit nog steeds,” onthou hy. Kruger, wat nou in sy sewende studiejaar is, is die eerste blinde persoon aan die Universiteit Stellenbosch wat sy BsC-honneurs- én -magistergraad in Rekenaarwetenskap verwerf het, en werk tans aan ’n PhD met die klem op steuntegnologie. Hy werk vasberade in die wete dat ’n mens nie hoef te kan sien om op hoogte van die jongste inligtingstegnologie te bly nie.
Ondanks hulle gestremdhede het Kruger én Hayes albei met die onwankelbare steun van die Universiteit Stellenbosch en hulle eie wilskrag uitmuntend presteer, en verskuif hulle steeds die grense van wat ander dalk as onmoontlik sou beskou. Hayes het haar loopbaan met ’n goue medalje by die wêreldkampioenskapstoernooi in Frankryk afgeskop, en het daarna net aanhou uitblink, die wêreld deurkruis, rekords verbeter en keer op keer met goud teruggekeer. “Dit is so ’n groot eer om my land te verteenwoordig,” sê sy. “Ek het besef dat jy met baie harde werk groot hoogtes kan bereik.” Hierdie taai atleet, wat in die T13-klas vir atlete met aangetaste sig meeding, neem deel aan kragmetings wat in wese dieselfde reëls as dié vir atlete sonder gestremdhede volg. Daar is agt atlete per wedloop, en geen gidse nie. Al kan sy slegs sowat 2 m voor haar uit sien (en dan ook nie duidelike besonderhede nie), maak Hayes meestal op haar duideliker perifere sig staat om die eindstreep te gewaar – en sy’s dikwels die eerste een daar.
Kruger laat hom ook nie deur sy gebrek aan sig stuit nie. Hy doen baanbrekerswerk op ’n gevorderde terrein met volop uitdagings, of jy ’n gestremdheid het of nie. Vir sy honneursprojek in 2012 het hy ’n rekenaarprogram ontwerp en ontwikkel wat blinde musikante in staat stel om musiek op ’n rekenaar te lees en te bestudeer sonder dat bladmusiek in braille gedruk hoef te word. Vir sy magisterprojek, wat hy in 2014 voltooi het, het hy weer ’n program help ontwikkel wat blinde gebruikers in staat stel om self hulle pad deur ’n virtuele wêreld genaamd Second Life te vind. “Second Life-tegnologie word byvoorbeeld vir akademiese konferensies ingespan waar mense dalk nie op dieselfde fisiese plek kan wees nie, maar wel in dieselfde virtuele wêreld,” verduidelik hy. “Ek het dus ’n program geskryf wat klank en spraaksintese gebruik om die stand van die virtuele wêreld aan ’n blinde persoon oor te dra.” Sy PhD-studie gaan in die breë daaroor om wetenskaplike materiaal vir blinde persone toeganklik te maak sonder dat ’n derde party weke en selfs maande lank moet werk om formules noukeurig met die hand in braille om te skakel. “Daar is nie tans so baie omskakelingseenhede in Suid-Afrika óf selfs die wêreld nie,” verduidelik hy, “en as jy byvoorbeeld die wetenskap wil bestudeer, wil jy dit tog nóú doen, nie volgende maand nie.”
’n Groot deel van sowel Hayes as Kruger se sukses is te danke aan die voortgesette steun en voorsorg deur die Universiteit Stellenbosch om studente met gestremdhede te bemagtig en hulle ’n ewe groot kans op sukses as enigiemand anders te gee. “Die Universiteit Stellenbosch het vir my soos ’n veilige hawe gevoel,” sê Hayes. “Ek was aanvanklik ’n bietjie bang vir die onbekende, maar ek het nooit daaraan getwyfel dat ek die nodige steun sou kry nie.” Met tegnologiese vooruitgang en al hoe meer bewustheid ontwikkel die kampus voortdurend sy infrastruktuur sowel as sy vermoë om diegene met gestremdhede op enige vakgebied van hulle keuse te ondersteun. “Die Universiteit het ver gevorder wat steun vir persone met gestremdhede betref, en sal alles moontlik doen om jou in enige studierigting te ondersteun,” sê Kruger. “Die beskikbare steun ontwikkel steeds, maar dis reeds veel beter as vyf of selfs twee jaar gelede – nie net vir blinde persone wat spesiale toegang tot inligting nodig het nie, maar ook vir persone met fisiese gestremdhede vir wie ’n gebou dalk aangepas moet word, ensovoorts.”
As sy nie op die atletiekbaan is nie, sal jy Hayes op kampus kry waar sy ten nouste betrokke is by ’n gemeenskapsprojek met kinders. Hier konsentreer sy hoofsaaklik op motoriese ontwikkeling deur middel van sport, sowel as lewensvaardighede. “Ek doen per slot van sake atletiek om mense te inspireer en hoop te gee, of hulle nou ’n gestremdheid het of nie,” sê sy. Kruger sal jy voor sy staatmakermasjien aantref waar hy navorsing doen om die weg na ’n blinker en meer toeganklike toekoms vir ontluikende Maties aan die Universiteit Stellenbosch te baan. “Steuntegnologie het die afgelope paar jaar my passie geword,” sê hy. “Ek sou graag aan die voorpunt daarvan wou wees en dit help ontwikkel, selfs al lewer ek net ’n klein bydrae.”
Matiewees beteken baie vir Hayes sowel as Kruger. Die gevoel van gemeenskap en behoort wat Stellenbosch by alle studente, met én sonder gestremdhede, skep, is wat die meeste by albei aanklank vind. “Ek dink om ’n Matie te wees is om deel te wees van ’n ongelooflike gemeenskap,” sê Hayes. “Daar’s ’n rede waarom ek steeds op Stellenbosch is al het ek vier of vyf jaar gelede reeds afstudeer. Dis een van daardie gemeenskappe wat jou altyd sal laat tuis voel. Ek het die beste jare van my lewe hier deurgebring. Hier het ek karakter gebou en as persoon gegroei.” Vir Kruger gaan Matiewees ook daaroor om deel te wees van iets groots. “Oor die jare het daar soveel in hierdie ruimte gebeur, en dis interessant om deel te wees daarvan,” sê hy. “Ek is onvoorwaardelik in hierdie gemeenskap verwelkom en aanvaar, wat werklik ongelooflik is, en ek dink dít is deel van Matiewees – dat julle mekaar respekteer en by mekaar leer, selfs al is daar mense wat heeltemal anders is as jy. Ek dink dis een van die beste dinge wat jy op universiteit kan doen. Maak kennis met soveel moontlik verskillende soorte mense.”